Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gert Coetzee
As politici net by Ramblers was
Gert Coetzee

Dit was puik tydsberekening dat die Vrystaat-Cheetahs se jaarlikse prysuitdeling verlede Donderdagaand gehou is. Net mooi dieselfde tyd as die staatsrede – of die gebrek daaraan – in die parlement.

Dus ’n geldige rede om die marteling van laasgenoemde mis te loop. Nie dat ’n verskoning nodig was om die Cheetah-bekronings by te woon nie. Dit het meer visie gebied van wat Suid-Afrika sou kon wees as potensiaal ten volle ontgin word en almal die regte ingesteldheid het, as wat die politieke verleentheid in Kaapstad gelewer het.

Gegewe dat politiek en sport in ons land vandag, eintlik altyd nog, vervleg is, was dit ook nogal simbolies dat die Cheetah-pryse vir die beste spelers van 2016 toegeken is in die saal van die pragtig gerestoureerde, geskiedkundige Ramblers-klub. In die afgelope meer as ’n eeu het die klub sy kwota – g’n woordspeling bedoel – politiek en sport beleef. Die Ramblers-klub in Bloemfontein is in 1896 gestig, en in 1898 is die klubgebou met sy konsert- en danssaal, veranda en balkon geopen, het Volksblad al in ’n stuk deur Hannes Haasbroek van die Nasionale Museum berig.

In 1911 is die ou Suid-Afrikaanse Party, wat die eerste regering ná Uniewording gevorm het, hier gestig en in 1914 die Nasionale Party. Oom Bert Sorour, lewenslange erelid van Vrystaat-rugby en van die Ramblers-klub, het op die Cheetah-aand ook die NP-stigting onthou. Asook ander brokkies oor die geskiedenis van die klub en gebou wat ook die tuiste is van Collegians-rugby waarvan hy deel is.

In ’n hoek van die Ramblers-saal verlede week het daardie goue koppie met die lang lippe, bekend as die Curriebeker, gestaan.

Hier is ook lank krieket gespeel, ook Vrystaat-wedstryde met van die kolwers wat van Alexandralaan se kant die bal oor diepweg en diepby deur die hoë peperbome tot in Zastronstraat gemoker het. Een keer glo deur die voorruit van ’n bewegende motor wat toe daarmee weggery het.

In ’n hoek van die Ramblers-saal verlede week het daardie goue koppie met die lang lippe, bekend as die Curriebeker, gestaan.

Die onderliggende tema van die Cheetah-aand was hoe sport ’n verskil in gemeenskappe en menselewens kan meebring.

(In teenstelling met die skade wat aangerig word deur die staatsleiers en politici wat veronderstel is om te bou.)

Kantaantekening: Van die verskil deur sport, vertel ook Christo Spies, sport- en lewensmentor, ná ’n onlangse besoek aan Zimbabwe waar hy met die nasionale krieketspan gaan werk het. As dit by verhoudinge kom, kan Suid-Afrikaners daar gaan leer. In die Zimbabwiese krieketspan speel kleur g’n rol nie. Almal is net hulself.

In elk geval: Politieke leierskap, intellektuele leierskap, sakeleierskap en bestuursleierskap is nogal aktuele gonswoorde. Maar, dink ek, sportleiers gee deur waardegerigte rolmodelskap spontaan die toon vir verandering in ons ontwrigte samelewing aan.

Naas Wayde van Niekerk pronk die sentrale streek met verskeie sportwenners. Die Griffons is die Eersteliga-rugbykampioen en die Crinums, Cheetahs en Knights die nasionale kampioen in netbal, rugby en krieket. En Griekwas oortref homself jaarliks en maak trots.

Met Vrystaatse en Noord-Kaapse skole wat die sterre van die toekoms bou. Soos Ox Nche en die vinnige Oupa Mohoje en Raymond Rhule, oudleerlinge van HTS Louis Botha.

As ’n sakeonderneming met ’n eie handelsmerk verg beroepsport fyn bestuur en administrasie.

Op die veld en van die veld.

Kon daardie spul politici in die Nasionale Vergadering verlede Donderdag eerder in die Ramblers-saal gewees het. Selfs hulle sou oor hul leierloosheid beskaamd gestaan het.

Meer oor:  Politiek  |  Cheetahs  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.