Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gert Coetzee
Nokia, koerante en die toekoms
Gert Coetzee

Al gehoor van Nokia? Die dorpie was sedert 1904 die tuiste van die Finse Rubberwerke wat ook reënstewels vir plantasiewerkers vervaardig het. In 1970 het dit met die Finse Kabelwerke en die Nokia-maatskappy saamgesmelt en die eerste motorfone vervaardig. Toe volg selfone waarmee die maatskappy markleier was, voordat ander dit ingehaal het.

In 1990 het Nokia Footwear van Nokia afgestig en vervaardig nou weer skoene.

Só was daar die Amerikaanse Kodak, voorste verkoper van film, wat stadig was met oorskakeling na digitale fotografie en in 2012 aansoek om bankrotskap gedoen het. Ná verkope van sy patente, herposisioneer hy homself nou. Die Japanse maatskappy Fuji was vinniger met diversifikasie.

Apple was markleier, maar is ingehaal en moes homself met nuwe produkte hervestig. BlackBerry was ’n treffer, maar is nou argaïes.

Eens is rolprente op 9,5 mm-film, of selluloïed, opgeneem en vertoon. Toe’s daar video’s en DVD’s en nou “stroom” jy flieks van Netflix of Showmax af.

Florerende digitale maatskappye, soos Google, Facebook, Amazon, Microsoft, Samsung en Adobe, se name is nou deel van ons daaglikse bestaan.

Aan dié dinge dink ek toe die koerant nou een oggend weens probleme met die rolpers laat afgelewer is. Hoe sou dit wees as dit soggens nie meer oor ’n beker koffie gelees kan word nie?

Die een vraag wat die meeste aan my gestel word, is: Hoe lank gaan koerante nog bestaan? Meestal komende van ouer lesers vir wie koerantlees deel van hul dagroetine is.

Tydgegewe weet niemand nie, maar in beginsel is die antwoord eenvoudig: Solank as daar lesers is wat dit koop en adverteerders wat adverteer, sodat dit minstens nie verliesmakend uitgegee word nie. Hopelik sodat iets oorbly vir salarisse vir ons joernaliste op die toneel. En diegene in die sake- en ander afdelings.

Die storie van Nokia en andere wys verandering is al wat seker is. Nie ter wille van verandering nie, maar om die regte redes. Nie realiteite nie, maar die respons op realiteite rig die pad.

Die storie van Nokia en andere wys verandering is al wat seker is.

Joernalistiek se produk is “nuus” – dit is ’n gegewe. Een realiteit is dat in ’n veranderende wêreld die “medium” vir nuus grootliks na digitaal geskuif het. Dit bring veranderende patrone vir nuus en die lees van nuus mee.

Met onmiddellikheid as groot behoefte – hier en nou. Derhalwe is scoops nou digitaal – in Afrikaans se geval opNetwerk24. Met opvolgwerk en herverpakking vir geheelbeeld en eenheid in die gedrukte dagblaaie. Hiervoor is seleksie, kombinasie en waardetoevoeging die sleutel.

Ook bied ons Afrikaanse nuus nou in samehang aan – digitaal, in die dagblaaie en plaaslike weekkoerante.

Nog ’n realiteit is dat sirkulasie en inkomste uit druk-advertensies wêreldwyd daal, ook hier. Terwyl koste vir drukwerk en verspreiding, anders as met digitale nuus, astronomies styg. Dit kos ver meer om ’n koerant in Prieska, Kakamas en Sasolburg te kry as waarvoor dit verkoop word.

Iets soos “gratis nuus” is ’n verdigsel. Dit kos geld, veral ter wille van onafhanklikheid. In die vryemark-ekonomie bepaal die mark – vraag en aanbod – uiteindelik volhoubaarheid.

Dus doen ons meer met minder, wat dit ál taaier maak. Nuuskantore lyk gans anders as in drie dekades gelede se bloeitydperk.

In die wêreld van silikoon is die uitgee van koerante ’n geloofsdaad én balanseertoer, maar verg dit ook bewustelike herskikking vir die toekoms. Dit leer die Nokia-verhaal.

Derhalwe kan jy jou volle Volksblad – en Die Burger en Beeld – deesdae ook op Netwerk24lees. Gaan na die hofie “e-koerant”, kliek net en blaai.

Meer oor:  Koerante  |  Nokia  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.