Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met dr. Wallace Vosloo
’n Kwantum van boeretroos
Nee dis nie 1838 nie, dis ’n jag-ekspo en Wallace en Karen Vosloo wys hoe ons voorouers gaan jag het sonder Cruisers en Landy’s.

Wallace Vosloo lyk asof hy iewers verdwaal het tussen fotoboekies van Mountain Man en Paul Kruger, met ’n voorlaaier en ossewa ingespoeg-en-plak vir effek.

Hy’s ’n ingenieur van Eskom met ’n doktorsgraad in hoogspanning wat ­wêreldwyd konsultasiewerk doen en klasgee, maar dié man se lewe is wyd en ver, so gul soos sy lyf onder die ­kamo-Madibahemp.

“Ware geluk?” filosofeer hy hier op die stoep van die Katjiepiering-restaurant in die botaniese tuin in Stellenbosch. Dis waar jy hom meestal kry, dis kantoor dié, grinnik hy.

“Rêrige geluk? Terug eenvoud toe.”

Wallace is Suid-Afrika se eie Mountain Man en al ’n instelling by jag-ekspo’s waar hy en sy vrou met hul ossewa opdaag en wys hoe ons voorouers hul ding gedoen het. Maak ’n plan, sy boekie oor hoe om in die veld te oorleef, loop oor van praktiese raad – en absolute kostelikhede. Het jy ’n idee hoe nuttig ’n kondoom in die bos kan wees? Hoe om ’n tou van toiletpapier te maak? Vir hoeveel dinge jy ’n baked bean-blik kan gebruik?

As iemand plesier daaruit kry om ’n dier dood te maak, is daar iets fundamenteels fout met sy binnegoed.

Terug eenvoud toe? Dié veldman is besig om vir hom ’n “oer-outydse” huisie in die Knysnabos te bou. Daar kan hy byl- en mesgooi en langboë skiet met sy kamerade Anton Slingblade en Johnny Longbow, ’n ou 32-Bataljonner.

“Vir die fliek 10 000 BC het ek die gemsbokhoring-boë ontwerp en Johnny het hulle gebou.”

En iewers sal daar gewere wees. Hy het ’n versameling historiese wapens met selfs 'n Gibbs Farquharson wat glo Cecil John Rhodes s’n was.

“Om jou ’n idee te gee, my MG Roadster met 30 000 kilo’s op die klok het ek geruil vir ’n sabel wat in die Slag van Blaauwberg (1806) was. Mense sal dink dis stupid!

“Maar eintlik behoort dit nie aan my nie, ek pas dit net op vir dié wat ná my kom.”

Dis vir hom die lekkerte van ou wapens: elkeen het ’n storie. Een van sy ou pistole is destyds deur oom Wit ­Andries Nieuwoudt op Kromrivier in die Sederberg in ? rotsskeur ontdek.

“ ’n Ou flintlock uit die 1700’s, die greep al weggevrot, maar die loop en aksie in ’n olielap toegedraai.

“Nou. Hoe’t dit in daai skeur beland? Weggesteek? Was dit ’n moordwapen? As jy stories soek . . .”

Wallace-planne is so blitsig soos ’n kooltjie op buskruit. Toe hy en ’n pêl eenkeer gesels oor ’n groep skuts wat hulself die Platskieters noem en spesialiseer in langafstandskiet, kon Wallace hom natuurlik nie inhou nie: “Wed jou ’n voorlaaier sónder ’n scope kan óók ’n teiken 2 km ver raakskiet.” En op die ou end – kyk maar op YouTube. Skote Petoors!

Dr. Wallace Vosloo wys kinders hoe ’n mens vuur maak sonder vuurhoutjies of pa se aansteker.

As jy hom en sy vrou, Karen, op jag-ekspo’s raakloop by hul (rêrige!) ossewa besig om met ’n (rêrige!) tonteldoos ’n vuurtjie aan te slaan vir (rêrige!) boeretroos, kan jy jou maklik verbeel dis 1838.

Dis hoe die Boere se jagkampe gelyk het, sê hy. En jag was vir oorlewing – nie die “bravade-scenario” van deesdae nie. Dis om die natuur waar te neem in ’n baie rouer, mooier vorm. Jy’t nie ’n yskas nie, jy skiet net wat jy kan benut.

Dit gaan amper nie meer oor die skiet nie (“skiet is in elk geval die hartseerste deel van ’n jagtog; as iemand plesier daaruit kry om ’n dier dood te maak, is daar iets fundamenteels fout met sy binnegoed”), dit gaan oor die klanke voor donker wat stil word as die nagdiertjies uitkom, en die son wat later saam met die daggeluide opkom en dan’s dit tyd vir boeretroos. Gerooster en gemaal, dik, swart, sterk.

“Ja . . . dis so ’n oerding, eintlik, so ’n hunkering,” knik hy tevrede sy kop.

Dis moeilik om te glo dié verloopte Voortrekker het óók ’n doktorsgraad in die spesialisveld van relativistiese kwantummeganika.

En dat hy disleksies is.

Min mense – ongeveer net sy ouma se fortuinverteller – het 50 jaar terug geglo die fris Wallace-knaap sou iets uitrig in die lewe. Hy was die “onnosel outjie wat nie kon spel nie”.

Disleksie in die 1960’s het net een ding beteken: spoorweg toe. Werk op die treine.

Hulle het in Crawford gebly, ’n klipgooi van Athlone af. Sy pa het geboks en rugby gespeel en sy ma was, wel, vasberade om klein Wallace ’n kans in die lewe te gee.

“Sy was al oud, toe’s sy terug universiteit toe om remediërende onderwys te studeer, juis om my te help. Sy’t my selfvertroue gegee. As dit nie vir my ma was nie,” word sy oë murgsag, “het ek seker nou êrens gras omgespit.”

Wat eers ’n reuse-probleem was, het ­Wallace tot sy voordeel benut.

“Juis oor ek disleksies is, sien ek goed anders. Ek het ’n verbeelding wat skrik vir niks, ek visualiseer, my disleksie het byna ? sesde sintuig geword.

“Ek kan vir kinders wetenskap in beelde wys. Ek het al nagraadse studente by Stellenbosch gehelp. Ek gee steeds klas by Eskom en het al ’n paar boeke geskryf – moderne tegnologie is ? groot hulpmiddel vir mense met ­disleksie.”

Op skool in die tek – ’n tegniese ­hoërskool, net so ’n kerfie bo ’n verbeteringskool, sê hy – was hy briljant in wiskunde, maar niemand kon sy antwoordstelle lees nie. Sy letters en syfers het rondgefladder in ? makabere dans. En toe is hy spoorweë toe. By die Soutrivier-werke. Maar net vir ’n dag, want toe hy ongewoon goed vaar in sy aanlegtoets, het hulle hom “die guns gedoen” om te sê bedank, jy’s tot veel meer in staat.

Hy het diensplig gaan doen, en elke oomblik daarvan geniet. Grensdiens. Rundu. Caprivi. Gekwyn van 140 kg tot 76 kg. “My ma was in trane toe sy my agterna sien, sy’t my skaars herken. Ek was maar nog altyd, hoe sê hulle, horizontally challenged,” gee hy sy formidabele buik ’n gesellige klappie.

Die troepie se briefskrywery huis toe het eenkeer gelei tot ’n oproep vir hom op Rundu se veldtelefoon.

“Toe’s dit my ma wat sê: ‘Vertel wat jy geskryf het, ons kan nie ’n wóórd uitmaak nie.’ ”

Hy knipoog oor die koffie. “Ek skryf eenkeer vir ’n ou in Rusland: ‘Due to erections in South Africa, we will not be able to help you this coming week.’

“Hy skryf terug: ‘Dear dr. Vosloo, I’m certain you meant elections, how­ever I agree: Quite a few pricks were standing!’”

En les bes, lag hy, is disleksie “die allerbeste verskoning vir die allergrootste bederf”. Sy vrou lees vir hom elke aand in die bed – tot hy wegdommel en begin snork.

“En dan blaai my vroutjie een bladsy terug vir môreaand se aangaan.”

Karen was een van die heel eerste vroulike elektriese ingenieurs in die land. Hulle het by Eskom ontmoet, waar hy in 1981 as ambagsman begin werk het.

Drie jaar lank het hy vasgebyt, want sý wou nie byt nie. “As ek haar vra: ‘Wil jy gaan koffie drink?’ ‘Nee.’ Drie jaar se nee’s en toe’s dit sommer skielik ja. En ons is nou al 30 jaar getroud. Ek weet nie wat ek sonder haar sou doen nie.”

Hulle het nie kinders nie, maar hy versamel dié wat sukkel, veral met disleksie, om hom. Soos Charles, amper ’n kind in hul huis, wat in gr. 9 ontwerpe doen en goed bou wat universiteit­studente op hul neuse laat kyk. “Die geheim is: Laat die kind in homself glo, gee hom dan die ruimte daarvoor.”

By Eskom het hy – ná sy een dag by SAS&H – fluks gevorder tot tegnikus, tot fisikus, tot ingenieur. Dit was destyds amper soos ? familie, sê hy. “Eskom was my pa. Ek was trots om daar te werk. As ek vertel waar ek werk, het daar altyd ? traan in my oog gekom.”

Intussen stapel hy die grade op. Fisika. Toegepaste wiskunde. Kernfisika. En toe, natuurlik, beland hy by Koeberg, by “die boringste jop van my hele lewe”. Om te ontsnap, skryf hy in vir ’n honneurs in kernfisika. In die praktiese klas sukkel hulle met ’n stukkende elektronmikroskoop. “Toe maak ek hom net daar reg, en die prof vra wat soek jy hier, gaan ingenieurswese toe. En toe doen ek dit.”

Dis sy pa wat hom van die veld en natuur geleer het. “My pa was ’n Boy Scout en op 13 laerskole, want my oupa was ’n stasiemeester met ’n drankprobleem, so jy kan jou indink.”

Vir hoogtes en water was klein Wallace bitter lugtig. Toe leer hy: as jy ’n probleem het met iets, pak dit júis aan. Gaan klim berg. Swem in die see.

Dis wat hy die skoolkinders leer wat sy veldkursusse bywoon. Hy deel sonder voorbehoud, “want die beste belegging wat jy kan maak, is om voort te lewe in die herinneringe van ander.”

Wat ’n mens nalaat? Dis nogal moeilik, nè. “Net een ding: As ek ? liggie in iemand kan aanskakel om te ontdek dat dit net daai poephol in die spieël is wat dinge vir jou gaan laat gebeur. Niemand anders nie.”

Dis seker wat daardie laaitie in Crawford ook gesien het in sy ma se spieël: die poephol wat hom aan sy eie skoenveters sou optrek. Dis mos presies wat die fortuinverteller in haar karavaantjie voor Wallace se geboorte aan sy ouma voorspel het: Jy gaan ’n kleinseun hê wat groot goed in die wêreld gaan regkry.

Nou’s die kleinseun bitterlik groot en die wêreld glad nie meer nie.

  • PG du Plessis: ’n Fees vir genooides, ’n dag van Legio, meer pitkos as ’n voorstedelike Siener. ’n Seder staan nog. Moenie hom vanaand 20:30 misloop op ’n Halfuur met Hanlie (Via, DStv 147) nie.
  • Dinsdagaand (Via om 19:30) gesels Helen Zille soos nog nooit tevore nie oor die spook in Leeuwenhof en politieke spoke vir wie sy moes fyntrap.
Meer oor:  Hanlie Retief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.