Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Gérard Labuschagne
Wanneer reeksmoorde roetine word?.?.?. Brig. Gérard Labuschagne het pas uitgetree as hoof van die polisie se sielkundige ondersoekeenheid. Hy het meer as 200 reeksverkragters en 110 reeksmoordenaars suksesvol vervolg. Die foto is geneem by 012Central in Pretoria se middestad. Foto: Herman Verwey

Sy kantoor: agter die geel ­polisielint by moordtonele. Sy kliënte: reeksmoordenaars. Sy werk: om die leidrade in hul koppe te ontrafel.

En daarmee is dr. Gérard Labuschagne die beste ter wêreld.

Waar top- forensiese sielkundiges wêreldwyd enkele sake in 20 jaar oplos, het dié nonchalante, kaalkop brigadier in 14 jaar 110 reeksmoordenaars ondersoek en “opgehou tel” by 200 reeksverkragters.

“Ons sentrale DNS-databasis maak dit maklik om hulle te identifiseer, anders as byvoorbeeld in Amerika.” Die stelsel identifiseer tot 1 000 nuwe reeksverkragters elke jaar.

Twee uur lank het Gérard op ’n bad se rand gesit terwyl Jose da Silva (“intelligente man, goeie werk, meenthuis in Centurion, ry ’n BMW”) op die toilet sit en verduidelik hoekom hy ’n Sandtonse binnenshuise ontwerper met ’n byl doodgekap en vir drie dae in einste bad gelos het . . . (Sy’t hom aan sy nare ou skooljuffrou herinner.)

Twee dae aaneen het hy met ­Stew­art Wilken (aka Boetie Boer) gesprekke gevoer oor hoekom Boetie graag prostitute, straatkinders en toe ook sommer sy eie dogter en eksmeisie se seun vermoor het. (“Én een se geslagsdele afgesny en geëet het.”)

Die weerloosste mense is swart, werklose vroue. Hy lok haar met ’n vals werkaanbod, loop met haar oor ’n verlate stuk veld en verwurg haar.

Moordspesialiste. Die reeksmoordenaars. Én die man wat ’n kyk in hul koppe probeer kry “om te probeer verstaan”.

Onder hom het die SAPD se sielkundige ondersoekeenheid nie ’n enkele reeksmoordsaak verloor nie.

Daar’s min opspraakwekkende moordsake in Suid-Afrika waarby ­Gérard Labuschagne nié betrokke was nie. Inge Lotz. Oscar Pistorius – hy was die eerste sielkundige by dié lemnaeler. Die moord op die Van Breda-gesin van Stellenbosch? ’n Skouerophaal is al wat jy uit hom kry – hy’s steeds betrokke by die ondersoek.

Veertien jaar lank het hy alles vir die polisie gegee.

Hy, die forensiese sielkundige, het ’n polisieman geword, ’n speurder. Hy’t taakspanne gelei, saans die kapingseenheid bygestaan, sy lewe in kruisvuur gewaag, persoonlik ’n reeksmoordenaar aangekeer (die Muldersdrift-reeksmoordenaar, platgetrek terwyl hy besig was in ’n porta-toilet).

Sy meesters- en doktorsgraad was oor reeksmoordenaars, sy ure en ure in die hof het uitgeloop op ’n LLB.

En nou’t hy bedank.

Al die grillerige bewysstukke, dik dossiere en lykskouingsfoto’s (wat hom destyds as nuweling ’n ruk lank van steak afgesit het) is nou in bokse ­gepak.
En daar’s niemand om sy kantoor te vul nie.

Hy laat ’n hinkepink-eenheid agter met net twee forensiese sielkundiges wat saam ’n tiende van sy ervaring het. Dit sal hom verras as hulle einde vanjaar nog daar is.

Ondanks verskeie pogings deur Gérard, is sielkundiges se salarisse nie deur die jare aangepas soos dié van ander sielkundiges in die staatsdiens nie. Ná gemiddeld ses maande by dié eenheid bedank hulle vir beter salarisse elders.

En dít was ’n eenheid wat so hoog aangeskryf was dat Scotland Yard, die FBI en selfs die Indiese polisie by hulle kom kers opsteek het.

Dis egter nie die rede waarom Gérard bedank het nie. Sy bestuurstake as brigadier het hom weggehou van sy passie: moordsake.

“Ek het ál minder gedoen waarvan ek hou. Ek moes byvoorbeeld ophou werk aan ’n reeksverkragtingsaak om uit te pluis hoekom mense ses jaar terug vingerafdruktoerusting bestel het. Ek sien nie kans vir nog 17 jaar hiervan nie. Ek sien uit na my nuwe werk wat spesialiseer in bedreigings in die werkplek.”

Die afgelope dekade het Gérard die polisie se eens trotse speurdiens sien ontbind soos ’n lyk in die son.

Dinge gaan skokkend, sê hy op sy reguit manier.

“Ek het nog nêrens soveel toewyding gesien soos juis in die polisie nie. Speurders soos Mike van Aardt is soos ’n bulhond wat ’n ondersoek nie los nie, en Joyce Buthelezi bestee ure by verkragtingslagoffers. Hulle gee alles. Maar dis veral by prestasie-evaluerings waar jy die ware prentjie sien. Talle speurtakke doen net die helfte van hul werk.”
Speurders betrek forensiese sielkundiges by komplekse, ongewone sake. “Maar hul dossiere is so swak, ons moet self die basiese speurwerk doen.”

Dis hoekom Gérard positief is oor die waarnemende polisiehoof, lt.genl. Khomotso Phahlane, se terug-na-die-grondbeginsels-veldtog.

“Hy’t begin as ’n konstabel in ’n ­polisiekantoor. Hy is na my mening al ou wat dinge kan omdraai. Ek hoop hy bly.”

Gérard het onder Phahlane by die forensiese afdeling gewerk. “Almal het gedink hy gaan ’n flop maak. Nou’s ­forensies ál eenheid wat betreklik goed funksioneer, en dis meestal as gevolg van Phahlane se bestuurstyl.”

Vir die geskorste polisiekommissaris, Riah Phiyega, kry hy eintlik jammer. “Sy’s vir die wolwe gegooi. Hoe sal jy weet ’n polisiegeneraal draai jou ’n rat voor die oë as jy self nog nie ’n dag se polisiewerk gedoen het nie?”

Ná al die jare het reeksmoorde vir hom roetine geraak. “Ek het min of meer alles gesien. Die weerloosste mense is swart, werklose vroue. Hy lok haar met ’n vals werkaanbod, loop met haar oor ’n verlate stuk veld en verwurg haar. Mag is die dryfveer, wraak en seks die byvoordele.

“Ek’s altyd verbaas as ek reeksmoordenaars ontmoet. Jy’t hierdie beeld van ’n aggressiewe wreedaard en dan lyk die ou soos jou buurman. Wat skeefloop in hul koppe – ons weet nie. Die redes wat hulle aanvoer, is gewoon. Soos, my vrou het my verneuk. Dít gebeur met miljoene, maar hulle word nie reeksmoordenaars nie.”

Maar daar’s altyd een wat iets anders doen . . .

Gerhard Jansen van Vuuren het sy eksmeisie, Andrea Venter, met ’n knipmes vermoor. “Sy was ’n rekenmeester, en pragtig. Hy was een van daai sterk gim-ouens.

“Ons het bloed gekry by sy én haar woonplekke. Hy’t haar waarskynlik na sy plek ontvoer en aangeval en toe na háár woonstel gedwing, waar die deur stukkend geskop was.

Sesuur die oggend het sy probeer weghardloop na die wag by die sekuriteitshek. Hy’t haar met ’n mes agterna gesit. Seker so tien mense het toegekyk hoe hy haar 14 keer steek en hom daarna self probeer keelafsny. Sy’s op die toneel dood, hy’t oorleef.”

Gérard het sy borgaansoek twee keer suksesvol teengestaan. “Maar toe appelleer hy suksesvol en verdwyn Brasilië toe. Ons het hom deur Interpol opgespoor, en wag al meer as twee jaar vir sy uitlewering. Andrea se ma is twee weke terug oorlede. Sy’t nie afsluiting kon kry nie.”

Daar’s oomblikke wat Gérard nooit sal vergeet nie, soos in die kar saam met Oscar Pistorius, ure ná Reeva se dood. “Op pad na ’n ander hofsaak het ek karradio geluister en besef: Hy gaan óf skuldig pleit óf kom met een of ander sielkundige rede. Ek wou so gou moontlik by hom kom vir observasie, eerste wees, want die verdediging se kenners sou hom eers veel later sien.

“Ek het hom by die polisiekantoor gekry. Oscar het later getuig ek’t hom by sy huis gekry en myself voorgestel as ’n familievriend. Dit was egter duidelik op TV hoe ek by die kantoor uitry met hom agter in die kar.

“Ek het hom nie uitgevra oor die insident nie, ons het geselsies gemaak oor rugby en ons ou skool, Pretoria Boys High. Sy gedrag was nie ontoepaslik nie, vir die omstandighede het hy normaal opgetree. Soms gehuil, baie somber, dit het gelyk soos ’n ou wat deur ’n baie terrible ding gaan.”

Gérard stem saam met die appèlbeslissing. “Ek het altyd gedink ons kompliseer dit deur te sê hy’t geweet hy skiet Reeva. Ons sal seker nooit weet of hy haar wou skiet nie, maar hy wou iémand skiet of seermaak.”

Die Griekwastadmoorde en ander gevalle waar kinders hul gesinne uitwis, is eintlik uiters seldsaam, sê hy. “In my hele loopbaan was daar net vyf sake waarin kinders só betrokke was. Dié kinders is volgens navorsing óf psigopate in wording (hulle kan nie so jonk reeds gediagnoseer word nie), óf dis dwelmverwant, óf hulle reageer op mishandeling van hul gesin.”

En die Griekwastadmoordenaar?

“Daar was die bekommernis dat hy besig was om ’n psigopaat te word. Net die tyd sal leer.”

Daar ís iets soos die perfekte moord. “As jy wegkom daarmee, ís dit.”

Ja, knik hy, soos Inge Lotz se moordenaar. “Ek kry haar ouers jammer. Hulle kry ook nie afsluiting nie. Dié saak het ook gewys watter verskil geld maak vir ’n goeie verdediging.”

Gérard het so half toevallig in dié werk beland. As kind het hy in Oostenryk en twee keer in Amerika gebly saam met sy diplomaatouers. Hy was gemiddeld op skool, vertel hy, maar toe hy sielkunde by Tukkies begin studeer het, was hy in sy element. “Ek het gedink ek wil mense help, naïef belang gestel hoekom mense sekere dinge doen.”

Hy’t uitgeblink in skerm en Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig. Deesdae is hy lid van ’n skietklub, waar hy een keer ’n maand met ’n R5-geweer rondhol en teikens jaag.
Dit, en beslis nié misdaadromans nie, is sy manier van wegkom, glimlag hy. En sy gesin, waaroor hy nie wil praat nie.

Sy dossiere in die polisie was erger as enige fiksie. Reeksmoord ná reeksmoord vir jare aaneen, sonder enige berading ooit vir posttraumatiese stres. Hy géé berading.
Is hy al afgestomp? Hy antwoord met ’n skouerophaal. Die dood is vir hom niks, net die reuk daarvan . . .

Jy sien ’n sweem van ’n glimlag. Oë wat nie wegkyk nie. Die dood. Mmm. Al wat jy hoor. ’n Mmm.

Meer bied hy nie aan nie.

Gérard Labuschagne se wêreld is nie one-liners soos Horatio s’n in CSI Miami nie. Hy kyk nie Profiler nie.

Hy ís dit.

* Kyk vanaand om 18:30 in ’n Halfuur met Hanlie (Via, kanaal 147 op DStv) na ’n onderhoud met Erika du Plessis, die rooikop-lugremtreindrywer wat haar treine dryf soos sy haar sigarette rook: vinnig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.