Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Gwen Ngwenya
Sy is skaars 31, maar DA-beleidshoof Gwen Ngwenya is die toegewyde argitek van die party se nuwe nierassige beleid wat verlede naweek op die beleidskongres aanvaar is.

Op 13 het Gwen Ngwenya aangesluit by haar skool se debatsvereniging. Week ná week het sy St Mary’s Diocesan School for Girls verteenwoordig in kompetisie teen ander Durbanse skole.

Sy het, natuurlik, altyd gewen.

Dis waar sy geleer het om skepties en krities te dink en “nie alles vir soetkoek op te vreet nie”.

In haar matriekjaar (2007) het sy, heel op haar eie, by die DA aangesluit.

Niemand het haar gewerf nie.

Sy het die partybeleid bestudeer en besluit dis waar sy tuis voel.

Op universiteit, as DA-jeugleier. Foto: Verskaf

As kind van twee apolitieke onderwysers was dit ’n ongewone stap, hoewel sy dit self nie só sien nie – dis tog vanselfsprekend dat matrieks in ’n verkiesingsjaar sou spring om te gaan stem, reken sy.

“Die DA was vir my ’n natuurlike keuse.”

Toe al was haar individualiteit ononderhandelbaar.

Sy wou in ’n land bly waar sy nie primêr gedefinieer word deur haar ras nie, maar deur ál die nuanses wat haar definieer.

Verlede Sondag, met die aanvaarding van die nuwe DA-beleid en ’n dag voor haar 31ste verjaardag, was dit volsirkel vir Gwen Ngwenya: Uiteindelik was die DA van 6 September 2020 weer dieselfde nierassige party waarby sy in 2007 aangesluit het.

’n Party wat hom distansieer van rasgegronde regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Vir jare moes sy toekyk hoe die DA geleidelik “kruip in die rigting van rasklassifikasies” en hoe “ras die DA vergif het”, soos sy dit in ’n kommentaarstuk beskryf het.

In 2012, ’n jaar voordat Lindiwe Mazibuko, haar senior by St Mary’s, die “vliegtuigramp” in die parlement gehad het deur SEB-wetgewing te ondersteun, het Ngwenya reeds as DA-jeugleier aan die Universiteit van Kaapstad ’n voorlegging oor ’n nierassige toelatingsbeleid gedoen.

Die nuwe DA-beleid wat verlede naweek met ’n oorweldigende meerderheid aanvaar is, het sy reeds twee jaar gelede as DA-beleidshoof ontwikkel.

“My broer Kevin en my ouers, Busisiwe en Thami Ngwenya is altyd daar vir my.” Foto: Verskaf
Politiek is ’n vyandige omgewing en ek probeer my gesin beskerm. Dit was my keuse om by ’n opposisieparty aan te sluit, nie hulle s’n nie.

Toe die leierskorps dit ignoreer en haar eenkant skuif, het sy in Januarie 2019 bedank. ’n Paar maande later was Mmusi Maimane skaars weg, toe is Ngwenya terug as beleidshoof.

Sedert Maandag het al wat ’n kommentator en analis is die DA gestriem oor hy durf wegdoen met ras in sy nuwe beleid. Die party ontken die Suid-Afrikaanse werklikheid, word gesê, want ras maak steeds saak; ras sal áltyd saakmaak.

“Wat ’n aaklige ding om te sê, ‘vir ewig’. Nierassigheid beteken duidelik nie vir almal dieselfde ding nie. Vir my is dit die totale verwerping van die rasverdeling van apartheid.”

Ngwenya vergelyk Business Day se Carol Paton – wat sê die DA is nou net ’n party vir sommige, geloopgraaf in ontkenning – met die ou antropoloë wat hulself beskou het as kenners van die natives.

“Die konstante analise van swart Suid-Afrikaners asof ons ’n homogene groep is, frustreer my geweldig. Dis hoe ons dink, voel, stem. Ironies sê hulle altyd vir mý, ’n swart Suid-Afrikaner, hoe swart Suid-Afrikaners voel,” sê sy Donderdagoggend in ons onderhoud.

“Vir hulle is ek irrelevant, want ek pas nie in by hul narratief nie.”

In 2013 saam met ’n groep vriende in Parys tydens haar meestersgraadstudie.
Maar as jy baklei vir iets goed is dit soos om ’n boom te plant. Dit bied skadu vir goeie en slegte mense.

Ngwenya bestudeer reeds vir jare vroeë rasseverhoudings in Suid-Afrika en hoe raspersepsies hier ontwikkel het. “In die ou boeke verwys hulle na die natives amper op so ’n David Attenborough-manier, of hy die wild in ’n National Geographic-reeks beskryf, of hulle goggas se paargedrag bestudeer.

“Ek het baie van die kommentaar op ons nuwe beleid presies só beleef.”

Ngwenya eindig haar twiet aan Paton met “you know nothing, (Carol) Snow”.

Sy lag nou daaroor.

“Thuli Madonsela en ’n paar ander het gedink ek speel die raskaart deur vir Paton ‘Snow’ te noem. Eintlik het ek verwys na die karakter Jon Snow in Game of Thrones. Snow maak heeltyd neerbuigende aannames oor mense en dan sê die karakter Ygritte vir hom: ‘Jy weet niks, Jon Snow. Ek het gedink almal sou dit snap. Die karakter se van word toe sowaar ’n rasding.

“Dit wys jou net, jy verwys nie eens na ras nie, dan sien mense ras.”

Die twiets tussen Paton en Ngwenya vat die herrie om die DA se nuwe rasrigting mooi vas:

Paton: “Jy gee DA-ondersteuners politieke skuiling sodat hulle kan voorgee apartheid en kolonialisme het nie gebeur nie . . .”

Ngwenya: “Ons kan nie ons ideale los net omdat sommige dit dalk misbruik nie. Om die ANC te kritiseer bied ook skuilplek aan rassiste. Hulle is mal daaroor dat ’n swart regering faal.

“Maar as jy baklei vir iets goed is dit soos om ’n boom te plant. Dit bied skadu vir goeie en slegte mense.”

Die dogter van twee onderwysers, van kleinsaf met haar neus in die boeke. Foto: Verskaf

Die bewerings dat die nuwe DA-beleid eintlik deur Helen Zille geformuleer is, met die Instituut vir Rasseverhoudinge in die agterhoede, is snert, sê Ngwenya emosieloos.

“Neerbuigend, wel, want dit sê eintlik ek kon dié beleid nie op my eie geskryf het nie. Dis dieselfde klomp wat heeltyd verkondig die DA is nie sensitief genoeg teenoor swart Suid-Afrikaners nie. Maar hulle het geen probleem daarmee om neerbuigend teenoor my te wees nie.”

Die Gwen wat jy sien, is die Gwen wat jy kry, vertel ’n vriend. Sy gee nooit voor om iemand te wees wat sy nié is nie. Geen geduld met swape nie en vrek intimiderend, maar eintlik effe skaam. En hoogs privaat.

Gewoonlik die slimste mens in die kamer, maar sy besef dit nie altyd nie en dan sukkel mense om by te bly, en dit maak hulle ongemaklik, sê die vriend. En herinner my weer daaraan dat hy nie vir publikasie praat nie. “Het ek gesê sy’s hoogs privaat?”

Sy is ’n policy wonk, een van daai slimmes wat beleid lééf; vir wie dit nie oor mense gaan nie, maar beleid; sy’s die Al Gore van die DA.

Die oudkoerantredakteurs Peter Bruce en Tim du Plessis noem haar onderskeidelik “slim, dapper en ywerig” en “ ’n gedugte DA-LP”.

Toe ek Zille vra om Ngwenya te beskryf, is haar eerste woord: outentiek.

Jy kan Gwen nie in ’n blik druk nie.

’n Diep denker en analis wat niemand toelaat om haar te definieer nie; sy doen dit self. Met ’n ruggraat van staal, sy het guts.

Maar as sy so slim is, sê ek vir Ngwenya, hoekom hou sy aan om haarself met die politiek te bemoei?

“Ek het ’n liefde-haat-verhouding met politiek. Dit was nooit my plan om politiek toe te gaan nie.”

Oorsee het jy afstand, jy raak nie oorbetrokke by Suid-Afrikaanse kwessies nie.
Gwen Ngwenya
“’n Filosofieklubvergadering by die Café de Flore in Parys, 2013. “Wonderlik om oor idees te kan gesels.” Foto: Verskaf

Die jare aan die Universiteit van Parys, toe sy haar meestersgraad in internasionale ekonomie behaal het, beskryf sy as die beste van haar lewe.

Sy wys ’n foto van haar by ’n filosofieklubvergadering in Café de Flore in Parys, ’n bymekaarkomplek vir filosowe en skrywers. “Dit was wonderlik om in ’n omgewing te wees met mense wat idees bespreek.”

Ná die verwerwing van haar meestersgraad was sy ’n ekonomiese navorser in Indië, totdat Bloomberg haar gelok het met ’n korporatiewe pos in Londen. Later het sy by die Bloomberg-span in Suid-Afrika aangesluit en, om te kan terugkeer na haar passie, navorsing, het sy die pos as bedryfshoof by die Instituut vir Rasseverhoudinge aanvaar.

“Oorsee het jy afstand, jy raak nie oorbetrokke by Suid-Afrikaanse kwessies nie. Maar terug in Suid-Afrika het ek weer opgewerk geraak. Dís my passie, hoe ek my dae deurbring: deur politieke en ekonomiese vraagstukke te deurdink.”

Stadigaan het die politiek haar ingesuig.

Sy kon maklik in Londen en Indië gebly, ryk geword en ’n gemaklike gelewe gelei het, vertel ’n kennis, maar sy is totaal toegewy aan die land.

Dis vir haar vreemd hoe almal wil wegbeweeg van die nalatenskap van apartheid, maar nie raaksien dat rasseklassifikasie op sigself ’n nalatenskap van apartheid is nie.

Tydens ’n toespraak in 2011 as studenteraadsvoorsitter van die Universiteit van Kaapstad. Foto: Verskaf

“As jy jou verbind tot ekonomiese regstelling moet jy voortgaan met rasklassifikasie. Die DA sê jy kan wegbeweeg van die ou rasklassifikasies én ekonomiese regstelling bereik. As jy albei dié doelwitte kan bereik, hoekom nie? Hoekom het nierassigheid so ’n vloekwoord in Suid-Afrika geword?

“Hoekom word ’n hoeksteen van ons samelewing, een van ons hoogste ideale, nou gebruik om die land se mees diverse politieke party mee te klap?”

Die grootste kritici van die nuwe beleid is die sogenaamde intellektuele wat dinge oorkompliseer en aanvaar gewone mense sal dit ook ingewikkeld vind.

Juis nie, sê Ngwenya.

Sy het die beleid aan ’n familielid verduidelik. “Sy het nie ’n klomp grade nie, maar soos die meeste Suid-Afrikaners is sy nie dom en oningelig nie. Sy sê toe vir my: ‘Oukei, dit beteken as ek ’n sopkombuis oopmaak gaan die meeste mense wat daar kom swart wees. Dis onnodig verdelend om te sê my sopkombuis is net vir swart mense; dit hou ons vas in hierdie apartheidsdenkwyse.’

“Ek het net gedink: ‘Wow, hier sê sy dit presies soos ons dit bedoel.”

“Hier is ek so nege jaar oud, by ’n maat se verjaardagpartytjie in Durban.”

Ngwenya het lankal geleer in die politiek bestaan naweke nie, dit sluk alles in, maar ná ’n moeilike onderhoud kan sy maklik saam met haar geliefde, die politieke kommentator Gareth van Onselen, neerplof en ’n TV-reeks kyk.

Oor haar eie lewe praat sy met moeite. Dis hare.

Maar jy hoor van twee Persiese katte, Patti Pan (“die diereskuiling het haar dié naam gegee, ek weet nie hoe ’n swart kat geel groente kan wees nie”) en Speckles. Sy en Gareth het pas in ’n huis in Melville ingetrek. “Ons hou van die lewendige straatlewe. Hopelik het Covid-19 nie die restaurante en winkels so geknou dat Melville se identiteit gaan verander nie.”

Haar pa, Thami Ngwenya, ’n afgetrede hoof van ’n Umlazi-townshipskool, het vir Sandile Zungu, ’n SEB-dissipel en president van die Black Business Council, skoolgehou. Zungu praat mooi van haar pa, en haar pa van hom.

“Ek het niks slegs om oor hom (Zungu) te sê nie. Maar SEB . . . ek kan hom vinnig vertel hoekom dit die meerderheid Suid-Afrikaners geensins bevoordeel nie, maar net ’n klein elite.”

By haar ouers en broer het sy geleer om haar nie te steur aan vreemdelinge se skerp tong nie. En daar is báie.

“Politiek is ’n vyandige omgewing en ek probeer my gesin beskerm. Dit was my keuse om by ’n opposisieparty aan te sluit, nie hulle s’n nie.”

Toe ons groet, ’n laaste vraag: Waarin is sy nié goed nie? Fabelagtig vrot?

Sport, lag sy skielik uitbundig. Sy was die kind met die neus in die boeke. En sy is dit steeds.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.