Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Taalstryd by Maties
Hanlie Retief gesels met Johan Theron
Soos ’n Breipaal bo water
Hy het dalk uit die US-raadsvergadering gestap, maar Johan Theron bly aan as raadslid, as taalterroris. Foto: Jaco Marais

‘Dit was soos om ’n gekweste bok met ’n stomp mes keelaf te sny. Die geroggel. Die bloed . . . Dis verskriklik, maar dis wat die US-raad met Afrikaans gedoen het.”

Dié beeld het by Johan Theron, US-raadslid, opgekom minute voordat hy en vyf ander raadslede Woensdag by die US-raadsvergadering uitgestap het. Dis dalk kru gestel, sê Theron, maar hy’s ’n Boesmanlander. Hy sê ’n ding soos dit is.

“Ek het gesien hoe die ander uitstap en ’n wrewel het by my opgekom. Ek kon nie langer saam met mense wees wat so oneerbaar optree nie,” sê hy en kyk my pylreguit in die oë.

“Maar met die volgende raadsvergadering is ek terug. En ek gaan heeltyd daar wees. Die steekvlieg, Sokrates se gadfly. Ek word nou ’n aktivis. ’n Taalterroris. 22 Junie was ’n waterskeiding.

“Die taaldebat is verby. Dis nou ’n taalstryd.”

Ek kan verstaan Steyn is verstom, want as jy oogklappe aan het, kan jy nie die werklikhede rondom jou raaksien nie, dan herhaal jy net wat aan jou voorgehou is.

Dié dag word nou beskryf as “Swart Woensdag” in die geskiedenis van die Afrikaanse taal, met die dubbele slag van Stellenbosch én Tukkies wat Afrikaans amptelik die rug toegekeer het.

“En daar beland ek ná 33 jaar weer op ’n koerantvoorblad,” glimlag ­Theron. Dié keer as “konserwatiewe taalbul”, laas keer as “kommunis”, wat as lid van die studenteparlement ’n mosie van wantroue teen PW Botha as Matie-kanselier ingestel het.

“En later wéér as stigterslid van ­Nusas op Stellenbosch en deel van die ‘Rooi Gevaar’. Ironies word ek nou beskuldig dat ek terughunker na die verlede – deur ouens wat my destyds uitgekryt het toe ek PW aangevat het.”

Vir Wim de Villiers, US-rektor, om hul opgekookte taalbeleid voor te hou asof Afrikaans nou bevry is, is oneerbaar, sê Theron.

George Steyn, voorsitter van die US-raad, het aan Die Burger gesê hy is verstom dat Theron dit sê: dat raadslede “oneerbaar” is, “oneerlike” argumente voer en “wanvoorstellings” maak.

Daar kom sterker woorde by hom op, sê Theron.

“Ek kan verstaan Steyn is verstom, want as jy oogklappe aan het, kan jy nie die werklikhede rondom jou raaksien nie, dan herhaal jy net die leuen wat aan jou voorgehou is.”

As mediaregsgeleerde weet hy ook alte goed “oneerbaar” is ’n baie sterk woord wat selfs lasterlik kan wees.

“Maar feite is feite.”

Hy weet hy’t raadslede van hom vervreem deur hulle oneerbaar te noem.

“Ek het by vroeëre geleenthede ook so gevoel, maar my daarvan weerhou om iets te sê, want ek het geglo ons kan gemeenskaplike grond vind. Maar daar’s net hierdie stugge onbereidwilligheid.”

Toe besluit Johan Theron: Langer bly hy nie stil oor wat die US-raad met sy taal aanvang nie, hy gaan dit so reguit sê soos die grensdraad op sy Boesmanland-oupa se plaas, Breipaal.

Want oor Afrikaans voel hy soos Jan Rabie: Sonder my taal is ek niks.

Binne net twee uur, sê hy, is ’n nuwe taalbeleid aanvaar wat die beskerming van Afrikaans in wese beëindig.

“Twee uur vir iets so kardinaals! Ons is nie eens die geleentheid gegun om mosies vir wysigings voor te stel nie.”

Theron gee ’n fyn glimlag oor Steyn se opmerking dat standpunte en ­menings “mag en behoort te skuif” in

’n dinamiese omgewing soos dié van die US.

“Indien die verskuiwing van standpunte dui op dinamika, dan’t die US sweerlik die mees dinamiese raad en voorsitter van alle universiteite op die planeet. Die raad is só dinamies, hulle’t hul besluit van 21 Mei – dat die Afrikaanse aanbod nié verminder mag word nie – binne net ’n maand oorboord gegooi.

“George Steyn is selfs méér dinamies. Eers wys hy die uitvoerende komitee op ’n ‘leemte in die konsep­beleid’ omdat dit nie spesifiek voorsiening maak vir die ‘handhawing van die Afrikaans-aanbod’ nie, maar dan kom hy wonderbaarlik tot ander insigte en stéún dieselfde beleid. ’n 180 °-ommekeer binne 21 dae!”

Dis mos oneerbaar, vra hy. Sê hy.

“Ek glo ook dat jy dinamies moet wees en deurlopend moet aanpas – daarom ondersteun ek nie ’n eksklusief Afrikaanse universiteit nie, daarom stem ek volmondig saam met Breyten Breytenbach wat sê dat dekolonialisering juis kan plaasvind as Afrikaans deel is van die diversiteit.”

Deel van die bevryde begryp.

Juis dit het die “patete” en “broeders” (Breyten se woorde) van die US-raad nou gestop, sê hy. “Diversiteit, nie hierdie kwasi-homogene Engelstalige kultuur nie. Dis immers ons land se leuse: eenheid in verskeidenheid.”

Hy onthou, met ’n skewe grinnik, Breyten se reaksie ná Piet (Kopdoek) Croucamp se aanval op hom: Heita Pieta Piet, my broer . . .

“Dis wat ek nou vir George (Steyn) wil sê: ‘Heita Georgie George, my broer, wee’ jy wat jy doen? Verstaan jy wat jy sê?’ ”

Hulle is vasgevang in hul eie paradigma, sê Theron.

“Nie dat ek aanspraak daarop maak dat mý paradigma die enigste is nie. Maar ek glo darem tog as ’n Breyten sê wat ek ook sê, is daar iewers darem ’n waarheid.”’

En Hermann ­Giliomee, die sogenaamde “hoof-taalbul” . . . Die ou wie se tydskrif, Die Suid-Afrikaan, Theron destyds as dienspligtroep naarstig gelees het as teenvoeter vir die army se “versmoring van denke”. “Hy’s nog steeds dieselfde liberale Giliomee.”

Theron se mede-uitstapper, prof. Wannie Carstens, sê nou Afrikaanse ouers moet mooi dink of hulle nog hul kinders na die US moet stuur.

Stúúr hulle, sê Theron.

“ ’n Statisties betwyfelbare studie het bevind dat 30% van die studente Afrikaans aan die US steun. En sê nou maar 20% meer daag op, juis oor hulle nie by Pretoria en Vrystaat Afrikaanse onderrig kry nie? Wat doen hulle dan? Dan word hul belofte dat daar altyd ’n Afrikaanse aanbod sal wees vir dié wat dit wil hê, getoets. Dis die kans om hulle verkeerd te bewys dat Afrikaans aan’t kwyn is.”

Hulle gee juis hoog op dat Afrikaans ’n onderskeidingskenmerk is van die US, en só bemark moet word.

“Terwyl hulle die teendeel doen. Dis oëverblindery.”

Dalk spruit die nuwe taalbeleid uit ’n gewaande vrees dat die universiteit gaan brand, soos George Steyn gewaarsku het. “Dis soos om ná een ‘Boe!’ op jou rug te gaan lê. Mý mense is nie so nie,” wys hy na sketse van generaal De Wet en Jannie Smuts teen sy muur.

“Genl. De la Rey wóú nie die oorlog gehad het nie, maar toe word hy ’n bittereinder. Die taalkwessie was ook nie vir my ’n geveg nie, maar toe ek sien hoe die glybane oopmaak, het ek my verkiesbaar gestel. Nou word ek gesien as een van die taalbittereinders wat tot elke prys voortveg vir wát.”

Ou mans met grys skoene . . .

“Ek kyk baie keer af na my skoene, sien my grys hare in die spieël en wonder: Waar’s die jong stemme? Is ek nie besig om teen die oostewind te skree nie? Dit klink of jy hier aanbliksem in ’n rigting bloot omdat jý die akademiese taal wil help red. Maar ek glo daar’s ook studente wat voel soos ek, en tot dan bly ek. Ons is op ’n kantelpunt. Afrikaanse kinders is só skaam vir die geskiedenis, so vuisvoos van beskuldigings en vernederings en opmerkings, hulle wil maar net graadvang in ’n land waar werk nie noodwendig vir hulle verseker is nie. Hulle volg die maklikste uitweg. En dis Engels.”

Dis presies wat die raad ook doen, sê Theron. Wat hom in die krop steek, is die onderduimsheid waarmee hulle dit doen.

Hy stippel dit uit: Twee vorige raadsbesluite, wat duidelik bepaal het dat die aanbod van Afrikaans nie mag verskraal nie, is in die nuwe taalbeleid eenvoudig van die tafel gevee. Twee keer is hul eensydige optrede deur die hof gekeer. Dit wat hulle “werkdokumente” genoem het, het skielik as beleid ontpop. Die raad sê hy’t wyd gekonsulteer, maar die 80%-insette wat gevra het vir gelyke status vir Afrikaans, is bloot genegeer.

En dan is daar die “tel van minute”, sê hy met ’n skouerophaal. Volgens De Villiers en Steyn gaan dit nie meer oor die “kwantiteit” van Afrikaans nie (ons gebruik nie meer ’n stophorlosie om Afrikaans in die lesingsale te meet nie, het De Villiers verduidelik), eerder oor “toegang tot akademiese kennis” en ’n beter “kwalitatiewe” aanbod.

Dis alles blote buikspraak vir “minder Afrikaans”, sê Theron. En die voorwaardes hiervoor – “indien prakties moontlik” en “indien redelik uitvoerbaar” – gaan maklike skuiwergate wees om Afrikaans uiteindelik totaal uit te rangeer. “So wat het verander? Die spin het verander.”

Self het hy grootgeword in ’n huis wat nie tussen mense onderskei het nie, vertel hy. Sy ouers was apolities, “maar hulle was humaniste”.

Sy pa was ’n polisieman. En Johan Theron was die eerste van sy familie wat universiteit toe is.

“Ek het hier aangekom met my grass­hoppers en crimplene-broek en gou agtergekom as plattelander is dit ’n vreemde wêreld. Ek moes Engels Spes her! Maar my Afrikaanse regsgraad staan nie ’n aks terug vir internasionale standaarde nie. Met my Afrikáánse regsgraad gee ek internasionale kliënte regsadvies. Dis twak dat ’n Afrikaanse graad jou nie in staat stel om in die internasionale arena mee te ding nie,” wys hy om hom na Werksmans se kantore in Stellenbosch, skuins oorkant die Rupert-galery. “Die US moet nou kwansuis ’n Afrika-Harvard word. Absoluut. Ek stem. Maar hoekom uitsluitlik in Engels?”

Sy pa is oorlede lank voor sy seun se “liberale tendense” aan die US. Die Upington-gemeenskap, waar sy ma gebly het, het nie geduld gehad daarmee nie. Hulle’t sy ma die rug toegekeer. Sondae in die kerk, as sy as diaken die kollektebordjie aangee, wou hulle dit nie eens vat nie.

Breipaal. Daardie plaasnaam is dalk simbolies. Die lewe het dalk die ­Therons gebrei, maar dit maak hulle taaier vir die volgende veldslag.

En, regsgeleerde wat hy is, eindig hy die onderhoud met ’n reël in spotlatyn: Illegitimi non carborundum. Moenie dat die maaifoedies jou onderkry nie.

  • Alison Botha vertel vanaand (18:30 op ’n Halfuur met Hanlie (Via, DStv-kanaal 147) hoe die wrede aanval op haar 20 jaar gelede steeds daagliks ’n invloed op haar en ander se lewens het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.