Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Koelsoem en Flori
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker is nou Kaapse sterre met hul lekker huiskos. Hul boek, Kook saam Kaaps, het laas maand by Lapa verskyn. Foto: Jaco Marais

‘Ons het nie baie nie, hier in ons twilight ­years, maar ons is geleer om te share, en nou val alles in ons skoot, ons verkoep boeke, you name it, ons is endless,” juig Flori Schrikker.

Hulle skrik vir niks.

Flori en Koelsoem Kamalie, twee ­“solid pensioners”, die vinkel en koljander van Bonteheuwel, het “jinne, nè, famous!” geword met hul lekker Kaapse huiskos.

Die een bly in upper Bonteheuwel. Bitterblaarstraat. Die ander een in propper Bonteheuwel. Vlamboomstraat. Maar newwermaaind, koor die twee, hulle’s proudly Bonteheuwel.

Wat begin het as inbelresepte op RSG se Tjailatyd, het ’n boek met ­wegholverkope geword – Kook saam Kaaps – en nou’s daar sommer ’n TV-reeks ook.

“Ons het nou self nie geweet dit gaan so groot loop nie,” vertel Koelsoem. “Ons het gereken dis ’n boekie en klaar. Maar nou woemel dit.”

Kos uit jou kombuiskas, kos met lang souse om baie mae vol te kry met min in jou beursie.

Flori giggel stuitig. “Ons kan nie help nie, man. Ons kook.”

Ons sit in Koelsoem se kombuis

op die bankies langs die Falke-stofie. Gadija, haar dogter, is besig om stroop te kook vir aartappelkoesisters.

Antie Koelie, soos Flori haar “uit respekte” aanspreek, al is albei mooi verby 60, deel reeds ses jaar haar ­resepte met Tjailatyd-luisteraars.

Haar seun Riyaad, ’n verbete RSG-luisteraar, het Amore Bekker gekontak toe hy hoor sy soek na iemand wat Kaaps kook.

“En toe foun sy my en ek gee haar my hoenderbrijani, ’n gemáklike resep. Ek dog dis net ’n once-off, maar dit gaan net aan en aan. Naderhand het ek nie meer resepte gehad nie, nou vertel ek maar wat kook ek ­vanaand.”

Dit was Amore se gesoek na ’n Paasresep vir ingelegde vis wat Flori in die prentjie gebring het.

“Ek is ’n gelowige Moslem, toe sê ek vir Amore kry my vriendin Flori op die foun oor Paaskos, sy’s ’n gelowige Christen.”

En van toe af is sy ook in die storie, giggel Flori. “Maar ek maak mos nie my ingelêde vis soos anner mense nie. Ek maak sous van ywe, asyn en peperkorrels.”

Daar’s hý, knik Koelsoem instemmend.

Flori: “Nou dan steam ek my rou vis in dáái sous in. Dis baie, baie, rêrig báie lekker. Kyk daai jare het Ma en Pa mos baie kinders gehad. Visolie was duur. Dêrra het miskien one-and-six verdien, dan’s die vis klaar sixpence, jy kan nie nog olie bysit nie!”

En van toe af is sy ook ’n Tjailatyd-regular.

“Ek kan toe nie help nie, kos bring mos mense bymekaar, dis net lekke’ om ’n pot kos te maak en almal sit om die tafel en jy sien hoe lekker gesels die mense.”

Die boekbekendstelling was laas maand in die Bonteheuwel se multi-purpose saaltjie. Die boek was Japie Gouws, hoofbestuurder van die ATKV, se plan. Hy het die kooktannies oor die radio gehoor, en besluit dié kultuurskat moet ’n boek word.

Koelsoem: “Die launch was baie grênd gewees. Nee, regtigwaar, almal sê dit was just something else.”

Flori: “As ek dit so mag sê, daar was baie dignitaries.”

Sy glimlag stout. “Ek sê daar vir Japie Gouws, moenie my kwalik neem nie, maar daar’s iets wat ek wil hê Japie moet vir my doen. Wat issit, Flori? vra hy. Ek sê, jy moet my soen. Toe vat ek ’n soentjie van hom. En ek sê vir al die mense, julle weet nie wat julle mis nie, hy’t baie sagte lippies!”

Op die tafels, soos in hul boek, was die kos wat hul ma’s en oumas en grootoumas gemaak het. Kos uit jou kombuiskas, kos met lang souse om baie mae vol te kry met min in jou beursie.

Nou nie Mount Nelson Hotel-kos nie, skud die twee saam kop terwyl vier deurwinterde hande die boek vashou. “Daai cuisine-kossies wat lyk soos prentjies, met die bietjie-bietjie souse? En dan maak jy agterna ’n draai by die drive-thru vir ’n burger!”

Koelsoem blaai tot by haar gunstelingresep in die boek. “Fruit cocktail. Is baie gemaklik om te maak. Kyk hoe lekker lyk hy.”

Flori se gunsteling is viskopsop. “Snoekkop met ywe, ’n halwe aartappeltjie en ’n lekker worteltjie. Dis nou grênd, hoor. Hulle’t ons eie crockery vir die kiekies gebruik. Dié’s my ouma se ­ouma se bakkie uit Tristan da Cunha, hulle kom daarvandaan.”

’n Handvol kinders arriveer stil-stil en grootoog in die kombuisdeur. Honger? vra Koelsoem en stop hulle 2-Minute Noodles in die hand. Hierdie ouma se kombuiskas is oop vir almal, en een keer ’n maand ry sy en haar man, Osman, met hul “wêntjie” na die “agtergeblewenes” met ’n pot “so groot jy kan daarin klim” vol brijani. Die straathonde kry hulle eie pot.

Flori en Koelsoem het as jongetjies in Vlamboomstraat gebly, kontak verloor en toe jare later weer “as diabetics” by die vereniging paaie gekruis.

Die suiker sukkel maar, sug Flori en vat ’n stewige hap van Gadija se stoomwarm koesisters met ’n fyn sprinkel klapper oor.

“Kyk my valsbeen,” lig sy haar linkerstewel onder die tafel uit. “Mooi naampie: am-pew-tee, below-the-knee,” knipoog sy. “En ons is partners in ­crime: antie Koelie het ’n heup.”

Die eerste ding wat Koelsoem as kind leer maak het, was slaai en jellie. “Daai dae het ons nie yskaste gehad nie, jy’t die bak jellie oornag buite laat staan tussen ysblokkies wat jy by die blanke mense in die buurt gaan bedel het. En môreoggend, dan’s die jellie gesettle.”

Flori was te kort vir die stoof, sy’t

leer kook bo-op ’n Bashew’s-koeldrankkissie. “Ons het net Sondags ­regte Tastic-rys geëet, die res van die week was dit mielierys.

“En somtyds brand ek dit, want ek speel in die jaart bok-bok, lucky charm of glassy. En dan skél my ma!”

Koelsoem tsk-tsk simpatiek: “Bietjie melk help, maar mens kan sout ook op die deksel strooi, dit trek ook die brand uit, even met brijani.”

Flori vat nog ’n koesister. “Ek gaan my nog doodvriet, was oek nog altyd vet, weetie hoe dit is om maer te wies nie!”

In die einste Dover-stoof waar Koelsoem leer kook het, het sy Nick Mallett se rugbyklere jare terug drooggekry vir rugbytoere.

Sy’t Maandae by die Malletts gechar. “Daai tyd, toe speel hy al mos soos wínd. Hy was darem baie fluks met rugby. Nicky was heeltyd op rugbytoere, dan moet sy klere en winterpajamas droogkom om gepak te raak. En dan reent dit. En ek sukkel. Toe, eenkeer, vat ek die klere oppie trem huistoe, en kry dit by my eie stouf droog!

“Nicky het altyd gesê, don’t worry, one day when I’m rich I’m ­gonna give you lots of money. Ek het nie gedink rugby gaan hom ryk maak nie. Nou sien ek hom op die tiewie. Mmm.”

Maar nou’s hulle self op die tiewie, lag Flori. “En dáái’s nou vir jou ’n ding! Ons was dumbstruck met die opname. En dis elke keer ’n geskree: cut, cut, cut! en ek vra watse gecuttery is hierdie, antie Koelie? En dan cut ons verder aan die worteltjies, maar eintlik moet ons stop en stilstaan!”

Koelsoem: “Die kameramanne het naderhand die messe van ons afgevat, want ons hou nie op cut nie.”

Flori: “Ja, en dan begin als weer van voor af, net om wéér te cut. Ek was so moeg, ek het daai nag soos ’n zombie geslaap.”

Naderhand, met die stilskote, toe sing Flori en Koelsoem maar liedjies uit verveeldheid. “Baie pret gehad, daai dag. Ek vra vir antie Koelie, wat’s daai ou se naam wat ‘I Just Called to Say I Love You’ sing? Jim Reeves?

“En Nina Swart wil haar broek natp** so lag sy, en sy cut cut cut en sê dis Stevie Wonder!”

Koelsoem: “Op ’n stadium is hulle by die swembad en ek en Flori skinder oor die junk kookpotte wat, mindyou, R6 000 kos. Toe’s die mikrofone nog aan en die ouens lag hulle kláár vir ons daarbuite!”

En nou, hier onder ’n stoomwolkie op Koelsoem se stoof, staan die ware Jakob – haar getroue pot, ouer as haar 40-plusser-seun Riyaad. En blinker geskuur, lag hulle.

Vir Flori en Koelsoem het die lewe ook al maatkoppies vol swaar uitgedeel. “Dáái’s nou waar.”

Toe Flori se been oor die suiker ­afgesit is, was sy tien dae lank in ’n koma. Koelsoem is amper dood met haar tweede bevalling. “In my vaagheid hoor ek hoe sê die dokter, dis óf sy óf die baba. Toe ek later wakkerskrik, besef ek, ek lewe, dan’s die ­baby seker . . .” Sy’t ure daar gelê, doodstil, met dié hartseer. “En toe, ­besoektyd, kom Osman ingestap en sê die kind is gespaar.”

Maatkoppies vol swaar, beaam Flori, maar als werk ten goede, everything’s got a plan. Vyf jaar is haar voet nou al af, maar sy’t nie in ’n hoek gaan sit nie.

’n Leeftyd het Flori in Seepunt se United-en-later-Absa na kliënte in die banksaal omgesien. “As dit van praat afhang, was ek sommer bankbestuurder!” Sy skud van die lag en gee my sommer ’n druk. “My darling, as ek eers aan die babbel raak, gaan jy wonder wanneer stop die vrou!”

En amper ’n leeftyd lank het Koelsoem na erg gestremde kinders in die noordelike voorstede omgesien. “Hulle kon nie praat nie, maar ons het hulle verstaan met hul oë en hul tekens en die way hoe hulle kos vat. Haai siestog . . .”

Die kinders se ouers het altyd vir haar gesê, God bless you, Koelsoem, onthou sy.

“En nou wórd ons gebless . . .

Sy vee met ’n hand oor haar wang. “Ons het nie in ons vaagste drome hierdie verwag nie. Dit het net na ons toe gekom.”

Flori: “Net die mere factdat ons ’n koppie suiker en water kan vat en iets uit bietjies maak – en nou’s ons TV-stars.

Maar die tjêrrie op die koek is dat twee gelowe hier kon bymekaarkom. “Ons kleurlingmense is, irrespective, ’n hegte klompie, nè.”

En jinne, soos Koelsoem nie Paasfeesresepte sal gee nie, so deel Flori nie haar varkresepte op RSG nie, “uit respekte” vir Koelsoem en Moslem-luisteraars. Flori kook nie eens tuis met vark nie. Sy eet dit op ’n veilige afstand by haar dogter in Kuilsrivier.

Die soplepel verdwyn in die pot. ­Opskeptyd. Groente en gort en gas­vryheid.

“Ons is geleer gewees ons moet altyd ’n pot sop op die stoof hê vir enigeen wat kom,” gee Koelsoem vir my ’n bakkie aan. “Ek leer dit vir die kinders ook, jy deel wat jy het.”

Skemertyd op pad huis toe, sê die fotograaf, Jaco, verlangend hierdie kos smaak vir hom soos húis. En dis ook nie net kos vir jou maag nie, dis vir die ander honger ook, dis kos vir jou hart.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.