Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Marion Holm
Piek-fyn, pikke-wyn
2016 was ’n jaar van uitdagings, maar ook een van genade vir die aktrise Marion Holm. Foto: Conrad Bornman

Op Marion Holm se koffie­tafel is ’n groot wit bord met ’n tekening van ’n pikkewyn. Om die vet, ronde pikkewynlyf is ’n rooi-en-wit reddingsboei.

“Kyk, ’n pikkewyn kán mos swem, hy’t nie ’n reddingsboei nodig nie. So dis dubbele versekering: sink gaan jy nié sink nie.”

Die veilige pikkewyn was ’n 50ste verjaardaggeskenk van ’n vriendin.

Dis ook ’n simbool van 2016 – want dit was ’n dubbele versekeringsjaar vir dié veelsydige, veelbekroonde aktrise.

Verlede Januarie het skaars sy draai gekry, toe’s borskanker by Marion ge­diagnoseer. En net toe sy opkom vir lug en haarself weer perduks begin werk, klap ’n diagnose van ’n breingewas haar. ’n Goedaardige meningioom.

En toe, in Desember, brommer-oppie-vrugtekoek: ’n heupoperasie.

Pikkewyntyd.

Laasweek sit sy Holmhuids in haar huis tussen Ryno Eksteen-etse en ­Robert Hamblin-foto’s.

“Ek kom nou net van die onkoloog af. En ek stap nou al tien minute lank sonder my kruk,” wikkel sy in ’n streepbroek kombuis toe om bone vir koffie te maal.

“Baie, baie bly en dankbaar vir 2017.”

Ek leer toe: Watter rugsakkie ook al vir my gegee word, ek sal dit kan dra.

Haar glimlag is so groot soos ’n poedingbord.

Borskanker is gediagnoseer tydens haar gewone jaarlikse mammogram.

“Ek gaan klokslag elke jaar. Daar’s nie kanker in my familie nie, maar ek dink dis ’n sonde as ’n vrou dit nié doen nie, want borskanker is uiters behandelbaar as jy dit betyds vind.

“Ek vertel tot in een van my shows hoe my tanne so aan’t kners gegaan het tydens ’n vrekseer mammo, my kaak het skoon in spasma gegaan en toekanekniepraatie.”

Maar laasjaar se ritueel met die jurkie met die velcro, die mammo en die sonar, was anders. Dié keer het Marion nie soos altyd geja-ja vir die sonarprentjies nie (“lyk in elk geval soos ’n vliegtuigradar”). Die dokter was oor iets nie “rustig” nie.

’n Paar dae later bel haar huisdokter. “ ‘Kom sien my oor die uitslae,’ sê hy.

“ ‘Ag, dokter’, tjirp ek, ‘ons almal weet dit beteken: ek het borskanker. Sê net: het dit versprei?’ Hy sê: ‘Dit lyk nie goed nie, kom in dan bespreek ons dit.’

“Daai nag lê ek wakker. Beteken ‘dit lyk nie goed nie’ ek het kanker van my kroontjie tot my toontjie? Of net: daar ís kanker? Omdat ek naglank deur daai ding geworstel het, van: dis rêrig oukei as ek doodgaan, maar sê nou ek het net twee weke, wat moet ek in plek kry . . . was ek teen dagbreek gereed vir die uitslag.”

Sy bars uit van die lag. “Toe hy sê die kanker is klein en totaal behandelbaar, bulder ek dit uit: ‘Goeie nuus!’

“Hy vra verstom: verstaan jy ek het nou net vir jou gesê jy het kánker? Ek sê toe vir hom daai k-woord verloor sy intimidasie sodra jy die feite het.”

Sy het gesoek na ’n onkoloog wat nie hamawatham praat en dan verstaan jy niks en voel soos ’n sot nie. Of een wat: “Ag, ons gaan hierdie ou kankertjie uitroei . . .” nie.

En toe kom sy by George Loots uit. En hy’t boonop in dieselfde straat in Kuilsrivier as die Holms grootgeword.

Huisvrinne.

Sy glimlag en jy sien hoe haar kop kronkelpaadjie kry na nóg ? Marion-storie.

“Tannie Selma, George se ma, het altyd gebel, dan sê sy vir my ma: ‘Hallo, Spekenam het rooiworsies op uitverkoping, gaan jy saam?’ Dan sê Ma: ‘Natuurlik, Selma, ek trek net gou iets aan,’ ” maak Marion haar ma se hees stem na.

“Dan’s daar ? hele swerm van hulle in tannie Selma se kombi, die straat se huisvrouens, bargain hunters almal van hulle. Ons ma’s het mos nie gewerk nie, en hulle moes dinge máák werk op ’n kosbegroting van R3,50.

“My ma het flessies gehad met geld vir melk, geld vir dit, vir dat. Dit was haar begroting. Ek werk nou-nog so, met ’n elektrisiteitsflessie, ’n geskenke-flessie, een vir die kos-budget. So, as die kaas op is, dan’s dit Marmite op jou brood.”

Ses weke se bestraling het beteken sy kon nie KKNK toe gaan nie. En haar flessies het begin bodem wys.

“ ’n Vriendin sê: ‘Marion tog, hou nou op tiendes gee, jy’t nie nou ’n inkomste nie.’ Maar dit was ononderhandelbaar,” roep sy verontwaardig uit, “dis darem nou ondankbaar teenoor die Here oor al hierdie positiewe ­uitslae!”

Soos die ewige glimlag op haar ­Marion-handpop in haar eenvrouvertoning, so is gelowigheid en vrygewigheid in Marion vasgestik.

Anonieme betalings in hul rekening het vir Marion en haar lewensmaat, Marietjie Rossouw, deur daardie knersdae gedra. Die trane wil-wil kom as sy daaroor praat.

“Die probleem is, ek het ’n geweldige probleem met ontvang, ek léér nou die les, want ek cringe nou nog daaroor. Maar die oorweegse ding van laasjaar, ek het heeltyd oorgeloop van dankbaargeit en blygeit. Almal was naderhand dik daarvoor dat ek heeltyd lyk soos ’n cheerleader.

“Ek was kwaai seergemaak toe ’n vriendin sê: ‘Jy hoef mos nie voor my te pretend nie . . . ’ Maar my blydskap was doodeerlik.”

Toe trek Marion met ’n vaart los en werk, sê ja vir álles, want die flesse is leeg. “Gee my R3,50 en ? hotdog, en ek is daar. Assisteer met ? braai? Ek’s op pad.”

’n Genade was dat Marietjie laasjaar weer terug is na haar eertydse beroep as mediese tegnoloog.

“Sy’t saam met my gewerk, maar ons maatskappy, Handyminds, kon nie meer al twee se salarisse bekostig nie.

“Die ekonomie krimp, die feeste krimp, jou inkomste krimp . . . ”

Het sy die energie gehad? “Ja . . . ek het mos taai tipe persoonlikheid. Aanhou en aanhou. Een keer op pad na ’n eenvrou-show by die Vryfees, sê ek in die kar ek voel naar.

“Daai aand op die verhoog kón ek op ’n stadium nie meer nie. Ek verskoon myself, stap af en gaan gooi op. Iets verskrikliks. Marietjie wou die vertoning stop, maar ek borsel my tande en stap weer op en sê vir die mense skuus, waar was ons laas . . .

“Nege teksbladsye later stap ek weer af, gooi op, gaan terug en maak klaar. Toe ek van daai verhoog afstap het ek nie ’n kriesel krag oorgehad nie.

“Dit was voedselvergiftiging.”

En toe, enter left, arriveer ’n breingewas. Sy het begin agterkom haar regteroog sien steeds soos ’n hoëdefinisie-TV, maar haar linkeroog raak ’n 1970’s grinterige Blaupunkt.

Sy ignoreer dit, want sy’s óp vir ­mediese rekeninge.

Maar dit raak erger, en sy land by ’n oogspesialis wat ’n MRI-skandering aanvra. En dit kos R10 000. Aikôna, sê sy, maar haar middelsus, ’n dokter, sit voet dwars: Marion, dis nie ’n vars idee om nié te gaan nie.

Sy doen dit toe by ’n staatshospitaal tydens ’n twee weke lange speelvak by Montecasino.

“Ek het nie geweet ’n mens mag ’n staatshospitaal gebruik as jy wel ’n mediese fonds het nie. Jy mág, jy moet net doodeerlik verklaar wat jy verdien. Mense kroek daaroor en maak ons land seer.”

Sy’t die oggend vyfuur gaan toustaan by die George Mukhari-hospitaal. “En my sus sê: ‘Dit lyk of daar iets is.’ Ek het teruggegaan en geshow daai aand.

“ ’n Aand of twee later, op die verhoog, sien ek my sus in die gehoor en ek vergeet amper my woorde. Agterna, in die voorportaal, wys sy die MRI-uitslag. Daar sit jou breintumor, wys sy. G? drama nie. Niks. Net feite.”

Toe is Marion op ’n nuwe pad, maar eers moes sy deur twee weke se eenvrouvertonings stoei.

“Ek het op die verhoog gestaan en met alles in my geveg om nie vir vrees ’n inkomplek te gee nie.

“Want toe wag ek nog vir die presiese wat en hoe van die neurochirurg. Om jou gedagtes te beheer is die moeilikste selfdissipline.

“En ek was nie noodwendig lus vir snaakswees nie, nè. En in ’n eenvrouvertoning kan jy nie vir ’n sekonde nié fokus nie. As jy net ? selfoonliggie in die gehoor raaksien, dan’s jou kop weg.”

Die risiko’s was groot. Blindheid. Beroerte. Marion, jy’t nie dié een sien kom nie, was die droë pun waarmee sy haarself kon amuseer.

“Voor die operasie het ek gewonder: sê nou ek kan nie meer praat nie? Gaan ek woorde hê? Gaan ek begrip hê dat ek wil praat en ek kan nie? Dis al wat ek het . . . Ek het daai vrees só gehou,” maak sy stywevuis. “Maar ek het soms gebewe van banggeit.”

En toe kom die genade.

“Ons predikant-pêl het vir my kom bid, en weet jy, toe kom daar ’n warm vrede oor my, en dit het nooit weer weggegaan nie. Ek leer toe: Watter rugsakkie ook al vir my gegee word, ek sal dit kan dra.”

Dit was Marietjie wat ingekonk het – die borskanker én breingewas was een te veel.

Ná die ses uur lange operasie, toe Marietjie lamknie en bang instap, waai Marion vir haar met ’n groot glimlag deur die isolasieglas. “En toe huil Marietjie van vooraf. Ek sê vir haar: ‘Jy moet nou heel eerste vir ons bid.’ En:

“ ‘Ek’s rasend honger!’ Die hele hospitaal was in rep en roer om vir my ’n eier te scramble!”

Sug. En sy hét so gehoop om daar ’n paar kilo’s af te skud, lag Marion.

Ironies was dit verlede maand se heupoperasie om ’n ligament te herstel wat haar die meeste gerol het.

“Want dit was mos nie lewensbedreigend nie, so ek was nie dankbaar nie.”

  • En dis waarmee Marion Holm 2017 ingaan: As jou dankbaarheid groot genoeg is, raak jy nie aan die sweet oor snert nie. Moenie Koos Kombuis vanaand in ’n onverdund snaakse onderhoud misloop in die nuwe, vierde reeks van ’n Halfuur met Hanlie (20:30 op Via, DStv-kanaal 147) nie.

Dinsdag (19:30) kuier Hanlie by ­Pippie Kruger, die brandslagoffertjie wat Suid-Afrika aangegryp het. In ’n eksklusiewe onderhoud by hul huis in Lephalale vertel die Krugers van hul pad nou met Pippie, nadat sy vyf ­Oujaarsaande terug met braaivuurjel verbrand het.

Meer oor:  Hanlie Retief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.