Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kyk: Hanlie Retief gesels met prof. Francis Petersen
Die evangelie van Francis

Die eerste keer toe hulle Francis Petersen die Kovsie-rektorskap aangebied het, het hy nee gesê.

Toe kom vra hulle hom weer.

Die tweede keer het hy lank gedink, die skokkende TV-beelde van die rassebotsing op Shimlapark nog vars in sy geheue.

Nie dat Petersen nié kampusgeweld ken nie. Toe #RhodesMustFall by die Universiteit van Kaapstad (UK) ontplof, was hy waarnemende rektor terwyl Max Price oorsee was. En toe #FeesMustFall later oorspoel van Wits af, was hy toevallig wéér waarnemende rektor.

“Dit was ’n vuurdoop.”

Maar die geweld op Kovsies het Ikeys s’n na speelterreinkaskenades laat lyk, kon hy op TV sien.

“By die UK is daar ook polarisasie, maar dis subtiel. Hier by Kovsies is dit in jou gesig, het ek van buite af beleef.”

Vir dié ingenieur was die probleem eenvoudig: Die Kovsie-kampus se stelsels het misluk. Ingrepe gaan nodig wees.

Ons kan teruggaan in die verlede of ons kan werk aan die toekoms. Kom ons vat Kovsies vorentoe.

Toe laat weet hy die Vrystaat: “Ek kom. Dalk kan ek ’n bydrae maak.”

Gebore in die skaduwee van die Swartberge, grootgeword tussen die koringlande van die Swartland, ? meesters- en ’n doktorsgraad in Christo ­Viljoen se ingenieursfakulteit by Maties, in die dae toe jy nie in plakkies mog klasloop nie. Professor op 28.

Dis Francis William Petersen.

Sistematies, planmatig, uitkomsgerig, linkerbrein. Toe hy as seuntjie draadkarre gebou het – Ford Cortinas, gewoonlik – was sy klem op die vooras, die agteras, die draaisirkel.

Sy leierskapstyl en persoonlikheid verskil radikaal van dié van sy voorganger, moes hy gereeld hoor nadat hy in April by prof. Jonathan Jansen oorgeneem het.

’n Doktorsgraad in chemiese ingenieurswese in 1995 in die sakkie. By Petersen is sy vrou, Cheslyn.

“Prof. Jansen kom uit die opvoedkunde en as ingenieur is ek baie sistematies. Niks op die kampus sal ingestel word as ons nie in alle opsigte 100% seker is daarvan nie.”

So, as hý in Februarie 2016 rektor was toe woedende werkers ’n Varsitybeker-wedstryd op Shimlapark ontwrig en geweld losgebars het tussen hulle en ewe woedende toeskouers – hoe sou hý dit hanteer het?

“Ek sou dit ’n stappie vroeër probeer ontlont het. Daar was immers ’n aanloop tot die ongelukkigheid, die werkers het gevoel hulle word nie betrek by besluite nie. Hulle is daarheen om die rektor te konfronteer.”

En ás hy daar op die paviljoen was toe die vuiste begin klap het?

“Sou ek afgestap het om met die werkers te probeer praat, daar is immers sekuriteitsmense om jou te beskerm. Ek sou gevra het dat die wedstryd nie hervat word voor kalmte herstel is nie.”

Vier maande voor hy rektor geword het, het Petersen in diepte met regter Johann van der Westhuizen (wat die ondersoek na die Shimlapark-voorval gelei het) daaroor gaan gesels.

“Die verslag gee jou koue rillings.”

Shimlapark, het hy besef, het die kortbegrip geword van die kampus se rassepolarisasie. Dis voorafgegaan deur die Reitz-videovoorval, die beweerde omry van ’n swart student deur twee wit studente, #FeesMustFall . . .

“Ek is deur al daai verslae. Ek moes besluit: Hanteer ek elkeen se aanbevelings op sy eie?”

In Mei, drie weke nadat hy rektor geword het, hou Petersen toe ’n universiteitsbyeenkoms. Álmal was daar – alumni, werkers, vakbonde, studente.

Hy staan daar voor hulle. Die nuwe man.

“Ek het gesê ons het al hierdie verslae, al hierdie aanbevelings. Ons kan teruggaan in die verlede of ons kan werk aan die toekoms. Kom ons vat Kovsies vorentoe.”

Die Petersen-plan? Op turbo. GT.

Geïntegreerde transformasie.

Sedertdien het hy die omstrede Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid – nee, Óngeregtigheid, sê sekeres agter hul hande – se fokus begin verander.

“Universiteitsinstitute behoort 'n sterk intellektuele onderbou te hê. Dis tans nié op die vlak wat ek dit wil hê nie. Die fokus moet akademies van aard wees, gerig op versoening en diversiteit, nie opdragwerk nie.

“Fokus die instituut slegs op opdragwerk, kan dit die indruk wek dat net één belangegroep tel.”

Dis vir hom belangrik dat almal wat op die kampus kom – ouers, studente, besoekers, werkers – welkom moet voel. So eenvoudig soos dit.

Ook die straatname en standbeelde moet sê: Hier is respek vir mekaar se ruimtes.

En oom Blackie (oudpres. C.R. Swart se standbeeld) wat aan die brand gesteek en toe stywebeen in ’n visdam beland het?

“Jy kan nie jou geskiedenis wegvee nie. Ons moet praat oor simbole, maar intellektueel, nie emosioneel of ideologies nie.”

Hy vertel hoe Ikey-studente die kunswerke op die kampus (dié wat nie vernietig is nie) toegeplak het. Vir die #Rhodes­MustFallers was dié kunswerke aanstootlik, vir ’n groep dosente en studente was juis die toeplakkery sensuur.

“Dis verkeerd om kunswerke toe te plak, hulle is juis daar om diskoers te ontlok. Maar die kunswerke was in ’n openbare ruimte waar almal moet welkom voel, nie in ’n galery waar jy kan kies om dit te sien nie.”

Petersen het toe die twee groepe laat sit en dit uitpraat.

Onemosioneel, intellektueel.

Nes die dag toe hy op Kovsies, nadat die voorsitter van die alumni-trust op die verhoog uitgejou is, vinnig die uitjouers se tjank afgetrap het.

“Ek staak ’n vergadering summier as mense nie respek het vir mekaar nie. Hier hóór ons mekaar.”

Dit is die evangelie van Francis.

Ná sy jare aan die UK hou die vlak van akademiese robuustheid op die Kovsie-kampus vir hom uitdagings in.

“By Ikeys kon ek nuwe idees inbring en daar’s gehardloop daarmee, want daar is ’n hoë vlak van akademiese bevoegdheid. By die UV is dit nie oraloor so sterk nie, hoewel die potensiaal daar is. Dit vra sterk leierskap.”

Én vyf taakspanne wat hy reeds met dié spesifieke fokus aangestel het.

Eintlik sê die prof: Skerp raak, Kovsies! Hy knik.

Sy eerste halfjaar as rektor was hy 24/7 op die kampus. “Ek wou die plek leer ken. Dalk het ek nog niks omstrede gedoen nie, maar ek beleef net vriendelikheid hier.”

Maar om vir die Cheetahs te skree, vra steeds van dié prof te veel transformasie.

“Ek bly ’n Stormer tot die Cheetahs beter begin speel!”

’n Oud-Kovsie vertel die prof het ná die soveelste verwelkomingsgeselligheid begin protesteer oor die hope vleis op die Vrystaters se eettafels.

“Ja,” lag hy nou, “selfs teetye het die skons . . . biltong op.”

Hy het reeds 18 van die 24 koshuise besoek. En dis daar, tussen die studente, wat hy werklik agterkom wat in sy studente se koppe leef.

Daar hoor hy Afrikaanse studente se besorgdheid: Gaan pres. Steyn óók visdam toe?

En ervaar die #FeesMustFallers se woede oor duur universiteitsgelde.

“Die studente verskil dalk van kampus tot kampus, maar die woede is dieselfde.

“Hulle is kwaad vir die regering, want ná 15 jaar se onverantwoordelike bestuur van universiteitsfinansiering sit studente en hul ouers nou met die gebakte pere.”

Deur die jare het universiteitsubsidies in reële syfers al hoe minder geword. “Wat doen die universiteite? Hulle dra daardie tekorte oor aan die studente – tot die punt nou bereik is van genoeg is genoeg. So, ek koop die #FeesMustFall-argument. Maar hoe dit hanteer is – dit koop ek nié.”

Maar, herinner hy vol energie, die eintlike fokus behoort te wees op die UV as akademiese instelling. Transformasie, geldkrisisse, dekolonisering – dis alles eintlik net randvertonings.

“Die UV behoort een van die voorste universiteite in die land te wees.”

Die mediese fakulteit, eens die trots van die UV, is deesdae self in die waakeenheid. Vir Petersen is dit ’n persoonlik uitdaging om die mediese skool weer reg te ruk. Hy is regstreeks betrokke by die taakspanne.

“My grootste uitdaging by die universiteit is om die regte akademici te kry om na die UV te kom. Baie knap akademici wil nie byt aan Bloem as ’n blyplek nie. Ons moet gaan kyk wat doen universiteite in die middel van Amerika en Australië om gehalte-akademici te lok.”

Hy oorweeg tweeledige aanstellings, waar dosente die helfte van hul tyd by ? ander universiteit, die private sektor of wetenskapsrade kan deurbring.

Een van die dae trek sy vrou, Cheslyn, van hul Durbanville-huis af Bloemfontein toe. “Hierdie plek het sy eie mooi, eg Vrystaatse gasvryheid.

“Ons seuns bly agter, die een is ’n prokureur, besig met sy klerkskap in Durbanville, en die ander een ’n rekenmeester met sy klerkskap in Tygervallei.”

Akademie is so te sê ingebed in die Petersen-DNS. Sy een broer het ’n doktorsgraad in chemie, en die ander een is ’n dokter.

Met twee ooms wat oorsee ginekoloë geword het, het die familie nog altyd aanvaar dat Francis medies sou gaan studeer – tót hy een aand by sy broer gekuier het in die ongevalleafdeling van die Tygerberg-hospitaal.

Net daar het ’n mediese loopbaan ’n premature dood gesterf. “Ek het besef dis nie vir my nie.”

By sy mentor en chemie-prof, Jannie van Deventer, het die jong Francis geleer: As jy in iets glo, gaan voluit daarvoor. “Hy was intellektueel só robuus. Nou nog sal ek my nooit tot iets verbind voor ek nie eers presiés verstaan waaroor dit gaan nie. Dis hoekom ek nou 100% op die kampus is.”

Uit Melbourne laat weet Van Deventer hy het destyds die potensiaal vroeg reeds in sy voorgraadse laboratorium-assistent raakgesien.

“Ek dink hy is die eerste bruin student wat ’n PhD in ingenieurswese verwerf het. Hy het die vermoë om uiteenlopende partye bymekaar te bring, is ’n uitstekende strateeg en meester-netwerker. En ewe belangrik: Hy bly koel en kalm onder druk.”

Later, as visepresident van Mintek en strategiehoof by Anglo American, het hy raadsaalpolitiek geleer. “En dat leierskap, waar ook al, nie vir sissies is nie.”

Sy betrokkenheid by die akademie én die private sektor het hom geleer dat albei ’n bydrae te lewer het, maar dat balans noodsaaklik is.

“Jy kan nie net denkers oplei wat niks bydra tot die ekonomie nie, maar ook nie net vakmanne en daar is nie ? kennis-ekonomie nie. Ons moet die belyning regkry tussen die uitsette van naskoolse opleiding en die mannekrag-aanvraag. Dis tans nie daar nie.”

Innovasie is ’n groot passie. “Hoe doen jy dinge beter? Hoe verskuif jy jou manier van dink?”

Dis presies wat die Vrystaters nou algaande agterkom: hoe dinge verander as ’n chemiese ingenieur begin eksperimenteer.

  * Vanaand 20:00 trek Jody Abrahams en Diaan Lawrenson mekaar se siele behoorlik uit in ’n Halfuur met Hanlie (Via, DStv).

Meer oor:  Francis Petersen  |  Rektor  |  Kovsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.