Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ons het nie geveg vir dié mafiastaat’

Eers dank hy die onwettige raadgewers van Bathabile Dlamini, die omstrede minister van maatskaplike ontwikkeling, af – toe kry Thokozani Magwaza, Sassa se uitvoerende hoof, doodsdreigemente, en toe word hý uit sy pos geskop. Dit laat sy bloed kook, sê Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), aan Hanlie Retief.

Themba Godi

Jou verklaring oor die veldtog om Magwaza te verwyder was skaars uit, toe word hy uit sy pos geboender.Het jy dit verwag? Ek is geskok en woedend. As ons toelaat dat staatsamptenare met doodsdreigemente en intimidasie uit hul poste gedwing word, beteken dit ons is ’n mafia­staat waar misdadigers in senior poste die wet misbruik vir eie gewin. Dan is ons net op papier ’n demokrasie.

Nehawu eis Dlamini se afdanking as sy gelieg het oor haar redes vir Magwaza se vertrek. Het sy? Die minister het Ma­gwaza per brief verwittig hul verhouding is onherstelbaar geskaad, en hulle moet onderhandel oor sy skeidingspakket. Sy wou hom duidelik uit die pad hê, en so ook die misdadige bende trogvreters wat hom met die dood dreig.

Dit was pas nadat Magwaza Dlamini se onwettig aangestelde raadgewers afgedank het? Ja, en Magwaza het geen keuse gehad nie. Die tesourie het bepaal die aanstellings is onregmatig. Hoe kan jy ’n parallelle instelling hê met sy eie werksvloei wat regstreeks aan die minister rapporteer? Dis Sassa se plig om tydlyne en stelsels te finaliseer en kontrakte te onderteken, nié die minister s’n nie.

Zane Dangor (voormalige DG in Dlamini se departement) is in Maart weg, ook ná doodsdreigemente. Ja, onthou die finan­siële hoof van die departement van militêre veterane, Rabelani Tshimomola? Ook geïntimideer, met ’n aanslag op sy lewe. Magwaza was skaars tien maande in sy pos, en boonop in die middel van die kontrakonderhandelings met die Poskantoor. Nou is die druk soveel groter om ’n rééds druk program af te handel om teen April 2018 by CPS oor te neem.

Gaan Skoor Dlamini nou ontbied? Ons gaan begin Augustus met Sassa vergader en uitvind wat aangaan. Ons wil presies weet hoe hulle beplan om aan die konstitusionele hof se bepalings te voldoen. Reeds einde Maart, ná ’n vergadering met Sassa en die Poskantoor, was ons tevrede dat die Poskantoor gereed en bevoeg is om die uitbetalings oor te neem. Die regskwessies is by die tesourie uitgeklaar. Al wat nou oorbly, is die kontrak.

En die minister? Gaan julle haar ontbied? Nee, volgens die Grondwet is dit haar reg om mense aan te stel en af te dank. Ek vertrou dat die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling dit verder sal voer, dis egter nie Skoor se domein nie. Skoor se grootste kommer is dat die kontrak met die Poskantoor nou in gedrang kom. Dis hoekom ons Sassa ontbied het.

Is dit vertragingstaktieke om so lank moontlik staatsgeld te kan plunder? Sodat die deur wawyd oop bly . . . Die Poskantoor is ’n staatsentiteit, so daar’s nie allerhande “belonings” wat private maatskappye aan die klomp plunderaars kan gee nie. Die kraantjie word toegedraai. Dis hoekom Skoor regstreeks by Sassa wil uitvind wat aangaan. Ons kan nie toelaat dat ’n hofbevel ondermyn word om private individue te bevoordeel nie.

Die Poskantoor se Mark Barnes het bevestig hy het ’n finale, ondertekende brief van Magwaza gekry met Sassa se voorneme om die Poskantoor aan te stel. Ek verneem so, maar ons het nog geen formele bevestiging nie.

Stem jy saam Dlamini moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die regskoste in die ondersoek na die parallelle werksvloei? Ek laat dit oor aan die konstitusionele hof se uitspraak.

In dié uitspraak is verwys na Dlamini se “buitengewone” houding om teenoor niemand verantwoordbaar te wees nie – selfs nie die parlement nie? Ek hoop regtig dat Skoor nie in Augustus agterkom daar is ’n gekonkel om die Poskantoor uit die kontrak te hou nie. By die ANC se beleidskonferensie is daar herbevestig dat Sassa met die Poskantoor moet saamwerk. As die Poskantoor egter nie alles beheer nie en sekere dinge uitgekontrakteer word, is daar wéér ’n geleentheid vir korrupsie en selfbevoordeling.

Is daar ’n gevaar van ’n Sassagate 2? Ons kan beslis nie agteroorsit nie. Ek is kwaad. Sommige van ons het ons lewe op die spel geplaas vir hierdie kosbare demokrasie.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Themba Godi  |  Thokozani Magwaza  |  Skoor  |  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.