SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Ja, jóú stem kán die verskil maak

Die drie groot politieke partye – die ANC, DA en EFF – het die afgelope naweek hul spiere in Gauteng gebult by wyse van reuse-saamtrekke om kiesers in die doodsnikke van hul verkiesingsveldtogte te oortuig om vandag vir hulle te stem.

Dié saamtrekke het ’n einde gebring aan die uitgerekte veldtogte en die finale sê is vandag in die kiesers se hande.

Teen die tyd dat jy hier lees, het die stembusse waarskynlik al oral in die land geopen. Hulle sluit vandag om 21:00, en ons behoort teen môreoggend al ’n aanduiding te kry van wat die kiesers besluit het. Die finale uitslag sal eers oor ’n week bekend wees.

Die feit dat die drie groot partye in Gauteng vir hul laaste saamtrekke vergader het, is waarskynlik nie per toeval nie. Van al die provinsies is die uitslag in Gauteng, die ekonomiese hartland van Suid-Afrika, volgens peilings die onsekerste.

Die DA en die EFF het groot gewag gemaak daarvan dat hulle die ANC sal keer om ’n volstrekte meerderheid in die provinsie te behaal. Misluk hulle egter, sal dit baie sleg vir hul beeld wees. Kry die ANC meer as 50% van die stemme, sal dit ’n belangrike prestasie wees. Opposisiepartye hoop om die ANC nasionaal tot onder 50% te beperk.

Vandag is dus die dag van afrekening vir die leiers van die drie groot partye. Mmusi Maimane (DA) en Julius Malema (EFF) het hoë ambisies om by Cyril Ramaphosa (ANC) as staatshoof oor te neem.

Gebeur dit, sal dit die grootste opskudding in ons 25 jaar oue demokrasie wees. Die ANC sal dan gedwing word om in koalisie met van die opposisiepartye te gaan en afstand van sy alleenheerskappy te doen. Dit kan tot die einde van Ramaphosa se tyd in die Uniegebou en Luthuli-huis lei.

Gebeur dit, sal dit die grootste opskudding in ons 25 jaar oue demokrasie wees.

Indien hy die sleutels van die Uniegebou aan ’n leier van die opposisie moet oorhandig, sal hy beslis deur die ANC herroep word om plek vir ’n nuwe ANC-leier te maak.

Verder sal dit ’n uitslag wees wat Suid-Afrika in ongekende onsekerheid en onvoorspelbaarheid kan dompel.

Sowat 27 miljoen Suid-Afrikaners het vir die verkiesing geregistreer. Byna 10 miljoen wat geregtig is om te stem, het nie geregistreer nie.

Die Verkiesingskommissie (OVK) is bekommerd dat baie van die geregistreerde kiesers nie vandag by die stembus sal opdaag nie. Die finale stemtal sal fyn dopgehou word as ’n aanduiding van Suid-Afrikaners se belangstelling in die instandhouding van die demokrasie.

Nog ’n bron van kommer is of jong Suid-Afrikaners vandag gaan stem. Van die byna 10 miljoen wat nie geregistreer het nie, is sowat 60% onder die ouderdom van 30 jaar. Dit voorspel niks goeds vir die toekoms nie.

Politieke partye het duidelik nie die antwoorde vir die probleem van apatie onder die jeug nie. Die belangrikheid van stemreg moet dalk as ’n integrale deel van die lewensoriëntering-kurrikulum in skole ingesluit word.

Maar terug na vandag. As jy nog by die huis sit en tob of jy moet koers kry stembus toe, hou op en gaan doen jou burgerlike plig. Die party van jou keuse het jou stem nodig; die land het jou stem nodig. Vandag is die een dag in vyf jaar waar jou stem iets kan beteken en ’n verskil kan maak. Ek is deel van die denkskool wat meen dat as jy nie gaan stem nie, het jy geen reg om te kla wanneer die politici droogmaak nie.

Sou koalisieregering ons voorland wees, kan jou stem dalk net die verskil maak tussen ’n swak koalisie en een wat vir die land kán werk en dit máák werk. Dít is hoe kragtig jou enkele stem kan inwerk op die toekoms van die land, wat tans taamlik bedenklik lyk.

Moet dus nie jou kans verspeel om jou stem te laat geld nie.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Verkiesing 2019  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.