abbagemeenskap s.nw. gemeenskap waar mense mekaar bystaan. – Woordeboek van Afrikaans Vandag. Hoofredakteur: Jana Luther.
Armoede het oor die land kom suis soos die laaste sug van moederaarde. ’n Groot klomp tentdorpe vol behoeftige mense het oor Kaapstad heen verrys – onder brûe, langs hoofweë, in agterplase en ook in swierige Drieankerbaai.
Laas Sondag praat ek met Petrie Canta (32) in sy tent langs Helen Suzman-boulevard in Drieankerbaai. Daar is ’n ligte motreën. Motors jaag verby. Op die see dobber vragskepe.
Waar hy woon staan daar drie tente.
Net oorkant die pad, naby die Seepunt- polisiekantoor, is daar sowat tien.
“Ek bly hier saam met my meisie, Yolande Bendico (27). Pappa, ek het nie familie nie,” sê hy vir my. Die woord pappa val vreemd op my oor.
“Albei my ouers was agterop ’n bakkie toe dit rol. Dood. Ek het in Paarl grootgeword. Daar het ek op ’n plaas gewerk. Dit is verkoop. Toe mos ek vort, trap.”
Hy vertel almal hier sorg vir mekaar, soos in ’n abbagemeenskap. As Yolande gaan werk, bly hy agter om te sorg dat die “bullies” nie kom steel nie.
“My meisie werk op die strate. Dit breek my. As ons almal weg is, kom steel hulle alles wat ons het. Die min wat ons het.
“Kyk hier, my skoene is gegaps terwyl ons geslaap het; nou moet ek pantoffels dra. ’n Mens moet met jou een oog oop slaap.

Petrie Canta by sy tent. Hy het toestemming gegee dat hierdie foto gebruik word.
“Ons moet oppas vir rotte in die nag; grotes wat hier skarrel. ’n Mens hoor ook voetstappe wat naderkom.
“Dit is ook nie of ek nie vir werk soek nie; ek probeer, maar ek kry niks nie.
“Die nagskuilings is óf vol óf hulle vra geld vir die aand, geld wat ons nie het nie.
“Ek gaan bedel by die robotte.”
Onlangs het boewe die geld wat hy by die verkeersligte gemaak het uit sy hande gegryp en weggehardloop. Dit was geld waarmee hy kos wou koop. Hy wou dit ook met die ander deel.
“Ek het begin huil,” sê hy.
Die tent langs hulle s’n is netjies, met varkblomme in ’n pot langsaan. Hy wys my waar hulle kook. Daar is ’n tipe pan, bakstene en hout. Ook ’n emmer. Hout kry hulle van die bosse in Groenpunt. Water van die openbare toilette in Drieankerbaai.
Daar kry hulle ook water om te kan was. Kos bestaan uit dit wat hulle soms uit vullisdromme vis.
Partykeer kook hulle kool, aartappels en rys. Nou en dan is daar brood. Vir koffie is daar nie geld nie; dan drink hulle suikerwater en verbeel hulle dit is boeretroos.
“Naweke is hongertyd,” sê Canta.
Dan is daar geen dromme wat uitgesit word nie.
Deur die week kan hulle darem kos en afval uitgrawe voordat die munisipaliteit se lorries die vrag kom sluk.
Toe ek wegloop dink ek aan ’n vers uit die Bybel: “Selfs kry die mossie ’n huis en die swaweltjie ’n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik U altare.”