Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ivor Price
Brandende kers is belofte dat beter dae kom

Dit is nie ’n gebruik waarmee ek grootgeword het nie, maar elke keer wanneer dit nou met my ellendig gaan, laat brand ek ’n kers om die donkerte te probeer verdryf.

Meestal is dit net ek en die kers; ’n effense flikkering van hoop, ’n belofte dat beter dae op pad is.

Onlangs, toe my 90-jarige ouma Bolla na die lig verhuis het, het ek drie dae lank ’n kers laat brand om haar nagedagtenis te eer. Hier waar ek in Johannesburg woon en werk – so ver van my komvandaanwêreld – was dit ál wat ek kon doen totdat ek saam met die res van die familie in die Cederberge kon uitkom waar ons haar onder die rooisand toegespit het.

Eintlik was dit heel gepas, want sy was self ’n helder lig in die oomblikke wanneer baie van ons moedeloos was. Opgesukkel. Sterwensmoeg. Maar nooit my liefste Oumie nie.

Sy het altyd vorentoe gebeur, en vandag is sy soveel meer as net die geduldige flikkering van ’n kers. Sy is die helder môrester wat getrou oor ons waak, byna ongesien saam met al die ander geliefdes in die sterrehemel wat ons reeds moes groet.

Gister gebruik ek die laaste vuurhoutjie in my kombuislaai om ’n kers aan die brand te steek vir die dele van ons mooie land wat al ’n paar dae lank in ligte laaie is.

Ek laat brand die kers ook vir die mense in Itereleng, naby Laudium in Pretoria, wat ’n moskee aangeval het omdat hulle water en ligte eis.

En vir die mense van Eldoradopark, in die suide van Johannesburg, wat soos soveel ander in dié geweste (onder meer in Ennerdale, Kliptown en Finetown) met rubberkoeëls deur die polisie uitmekaargejaag is.

Maar hier, in my kleine hoekie, is die kers ’n simbool van vrede.

En vir die vreesbevange mense van Coligny in Noordwes wat letterlik dae laas ’n oog toegemaak het nadat onrus daar op ongekende vlakke handuit geruk het.

Ek laat brand ’n kers vir die mense van Tiaraweg in Elsiesrivier – net ’n klipgooi van waar ek grootgeword het – waar nie minder nie as 13 mense enkele dae gelede op een dag in dieselfde straat geskiet is. Drie het in die koeëlreën omgekom. Dit was net nóg ’n dag, nóg ’n ben­de­koeël. En niemand is ooit regtig seker wie se naam op die volgende koeël op die Kaapse Vlakte geskrywe staan nie.

Die kerse wat ek laat brand, is nie ’n wonderkuur nie. Trouens, in die groter skema beteken dit stellig net mooi boggerol omdat dit nie ’n pleister is wat enigiets gesond kan dokter nie. Dit kan ook nie die geweld, onrus en bloedvergieting in ons land stopsit nie.

Maar hier, in my kleine hoekie, is die kers ’n simbool van vrede, ’n woordelose gebed wat ek elke dag getrou opsê sodat dit asseblief tog die een of ander tyd met ons almal beter sal gaan.

Want ons verdien beter . . . Ons verdien nie die bitter beker nie. Ons moet by die lig in die donker tonnel uitkom.

  • Price kan op Twitter by @ivorprice gevolg word.
Meer oor:  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.