SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Ivor Price
‘Klein terroriste’ wat saans by die Here gaan pleit

Ek’s nie vry gebore nie. Ek is jonk genoeg om deel te kon wees van die eerste geslag wat mekaar sonder skuld in die oë kon kyk, maar darem ook oud genoeg om nog die reuk van traangas en die verlammende vrees vir Casspirs en die onlustepolisie te kan onthou.

Ek is sewe jaar oud en in sub. B in Mitchells Plain – ’n konsentrasiekamp wat destyds deur die apartheidsregering as ’n “model-township” beskryf is. Weeksoggende is my oudste suster en ek al douvoordag by die skool afgelaai, want albei my ouers was in daai dae van openbare vervoer afhanklik om by die werk uit te kom. Op dié betrokke oggend – die dag van die MK-guerrilla Ashley Kriel se dood – is daar ’n geel-en-blou Casspir buite die skoolhekke geparkeer.

“Goeiemôre, julle klein terroriste,” groet my juffrou die klas. “Het julle die Casspir buite die hek gesien?” “Ja, juffrou,” antwoord ons soos een enkele mens. “Dis om julle klein terroriste in toom te hou.”

“Terroriste” is ook een van die woorde wat ’n mens nie heeltemal verstaan as jy nog melktande het nie. Maar ek onthou dat my oupa kort daarna in ’n Sondagpreek ook die woord gebruik het. Hy’t daarin uitgevaar teen die heersende Nasionale Party en veral die media wat na jong bruin vryheidsvegters op die Vlakte as terroriste en klipgooiers verwys het.

Die nuus oor Ashley se dood in Athlone – net 17 km van ons huis in Mitchells Plain af – het blitsig versprei. “Die boere” (soos die polisie vandag nog in bruin woongebiede bekend staan, selfs al is hulle swart) het Ashley glo per ongeluk in ’n skermutseling met die manne in blou doodgeskiet. Later jare het die forensiese wetenskaplike David Klatzow egter getuig hy’s van ’n afstand geskiet, en dit terwyl hy geboei was. Ashley was net 20.

Daar was traangas in die lug en gewapende ­soldate – ten volle geklee – het op die dag van Ashley se dood ook by ons klaskamer ingestorm, op soek na aktiviste. Ons juffrou het nie nodig gehad om te vra dat ons stilbly nie, want haar “klein terroriste” was lam van die skok. Dit was in die dae van PW Botha se noodtoestand en ook die heel eerste keer dat ons wit mense in lewende lywe gesien het.

Dis ook in dié tyd dat ek en my pa, vandag ’n predikant, op pad huis toe rakelings ’n petrolbomaanval oorleef het. Ons moes oor ’n brug, iewers langs ’n treinspoor, loop om by die huis uit te kom en dit is toe dat ’n opgeskote seun ’n petrolbom in die rigting van ’n verbygaande bus gooi.

Ek onthou my klein handjie in my pa se vuis. Ek onthou dat ons begin hardloop het. Ek het nie gehuil nie. Ek belowe ek het nie gehuil nie. Eintlik weet ek nie regtig of ek gehuil het nie, maar toe ek my weer kom kry, was ons veilig buite ons baksteenhuisie in die straat waar mense soggens in gebedsgroepies vir veiligheid en aandete by die Here gepleit het.

Kort daarna het ons na Belhar verhuis.

Meer oor:  Terroriste  |  Oupa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.