Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ivor Price
‘Suna vat vuishoue totdat haar lyf ingee’ – Ivor

“Suna het die meeste van die vuishoue alleen gevat; in bykans heroïese stilte totdat haar lyf dié week ingegee het,” skryf Ivor Price oor Suna Venter wat Donderdag dood gevind is.

Ivor Price

Ons kon haar nie in die oë kyk nie. Haar saffierblou oë was ’n herinnering aan al die aanslae op die plaaslike joernalistiek wat ons nie wou aanvaar nie; nie wou glo nie. Sy was ’n outsider, dié Suna Venter wat my op Dinsdag 9 Oktober 2013 aan die land as ’n TV-nuusleser bekend gestel het.

Voor dit, in Augustus 2012 toe ek by RSG se nuus- en aktualiteitspan ingeval het, was dit ook sy wat my die oggend halfvyf by die SAUK se uitsaaisentrum in Auckland Park, Johannesburg, met ope arms verwelkom het. Sy was my werkbuurvrou, en in onlangse dae ook ’n vertroueling.

Ek en Suna het nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie. Trouens, ek is daarvan oortuig dat haar passie vir die openbare uitsaaier haar 32 en bitter gemaak het. Maar ons het mekaar altyd as joernaliste en mense gerespekteer – en bowenal was sy een van net minder as ’n handvol joernaliste wat dikwels in die ounag ’n troosskouer gebied het wanneer ek, sy en soveel ander met Hlaudi Motsoeneng se spoke geworstel het. Die spoke wat uiteindelik vandeesweek letterlik haar hart gebreek het.

Terwyl ek tevergeefs probeer het om nie te verdrink nie nadat die SAUK my omtrent ’n jaar gelede summier van radio en televisie verwyder het, het sy moedig voortgeveg. As deel van die SAUK-agt, ja, maar ook vrou-alleen teen ’n geboelie (ook vanuit joernalistieke geledere) en ook ander voorvalle van intimidasie, viktimisering en selfs doodsdreigemente; voorvalle so onsmaaklik en absurd dat so min van ons werklik bereid was om haar te glo.

Suna Venter

Sy het egter voortgebeur as een van die SAUK-agt wat die nou onttroonde oudbedryfshoof van die SAUK se sensuuropdragte en hul eie onregmatige afdankings in die hof beveg het. Dis ook die einste Suna – die jongste van die lot – wat ’n leeueaandeel gehad het in spesifiek die tegniese voorbereiding vir hul dapper hofstryd om mediavryheid te help verseker.

Suna was in ’n stadium die tussenganger tussen die SAUK-agt en die regspanne, en dis sy wat agter die skerms soveel van die hofdokumente versamel en getranskribeer het wat uiteindelik tot hul heraanstelling by die SAUK gelei het – ’n oorwinning vir elkeen wat van die openbare uitsaaier se radio- en televisiedienste vir onafhanklike, ongesensureerde nuus afhanklik is. Dat koning Hlaudi toe wel later uit die kussings gelig is, is ’n groot bonus, maar dié van ons in die binnekring weet dat ’n dramatiese ommeswaai steeds nodig is om die openbare uitsaaier tot sy volle glorie te herstel.

Dit is jammer dat Suna nooit die geleentheid gekry het om ook verlede jaar, soos die meeste van die SAUK-agt, voor die parlementêre ad hoc-komitee te kon getuig oor die bevoegdheid van die voormalige SAUK-raad nie. Dit was vir haar ’n groot terugslag, en tog was sy steeds verbind tot die daarstelling van ’n onafhanklike nuuskantoor, vry van enige redaksionele en politieke inmenging. Sy was amper obsessief daaroor.

Min mense weet regtig van al die ontberings en persoonlike terugslae wat soveel van ons gely het ná Motsoeneng se skrikbewind. Min mense weet van al die slapelose nagte, die vrese, trane en verwerping wat nou deur Suna se ontydige dood versinnebeeld word.

Suna het die meeste van die vuishoue alleen gevat; in bykans heroïese stilte totdat haar lyf dié week ingegee het. Vir dié van ons wat agterbly, is dit ’n aansporing om dapperder te veg vir ’n saak waarin ons glo, maar ook ’n redelik ernstige vermaning dat ons eenvoudig meer sal moet doen om te verhoed dat ons weer dieselfde paadjie loop.

* Ivor Price is ’n voormalige SABC2-nuusleser en RSG-omroeper. Hy is tans ’n bestuurder by Media24.

Meer oor:  Suna Venter  |  Ivor Price
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.