Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Janet Heard
Hier kry jy die parlementslede wat woeker
Janet Heard

Die atmosfeer in die parlement se hoof-“sitkamer” is stekelrig en rebels, en die vertrek word deur withemp-boelies binnegeval. Maar die wanfunksionering het nog nie na al die kamers op die terrein oorgespoel nie.

Verlede week is minstens 45 komiteevergaderings oor drie oggende in vertrekke in die doolhof van gange in die parlementêre gebou gehou. Die atmosfeer in hierdie kleiner vertrekke was in skerp teenstelling met dié van die Na­sionale Vergadering (NV).

Op hierdie gereelde komiteevergaderings, waarvan die meeste nie regstreeks uitgesaai word nie, vind die wese van die parlement se werk plaas. In die algemeen, en afhangend van die wil en bekwaamheid van die voorsitter, ruil die lede hier gedagtes uit en betoon hulle ten minste ’n effens respek vir mekaar.

Al was die EFF afwesig by die twee dae lange debat en die president se reaksie nadat hulle ten tyde van die staatsrede met geweld uit die NV verwyder is, het hulle nie heeltemal gedros nie.

Fana Mokoena het byvoorbeeld Dinsdag vir belangrike werk opgedaag as lid van die ad hoc-komitee oor die ondersoek na die SAUK, waarvan Vincent Smith die saaklike voorsitter is. Die volgende dag het Reneilwe Mashabela die portefeuljekomitee oor landelike ontwikkeling en grondhervorming se vergadering oor die Wetsontwerp oor die Uitbreiding van Eiendomsekerheid bygewoon.

Al beland van die prominente werk van dié komitees in die openbare domein, vind baie van die werk sonder ophef plaas, met LP’s wat stilweg hul taak met mening aanpak.

Dié LP’s trap nie suutjies óm hul verantwoordelikheid jeens die publiek nie.

Woensdag het ek by die komitee oor hoër onderwys op die eerste verdieping van die Ou Volksraadsaal ingeloer, waar die nasionale finansiële hulpskema vir studente LP’s op die hoogte van die aansoekproses gebring het.

Ek is met die hyser na die vierde verdieping om voor middagete op die hoogte van die werksaamhede van die komitee oor weermag- en militêre veterane te kom. Genl. Mogoruti Ledwaba van dié departement het ’n omkeerstrategie vir die opknapping van 1 Militêre Hospitaal bekend gemaak nadat ingegryp is om die projekbestuur by openbare werke – wat glo ’n Nkandla-tipe afskeeptaak verrig het – oor te neem.

Laer af in die gang het die gesondheidsombudsman, prof. Malegapuru Makgoba, die gesondheidskomitee oor die Esidimeni-tragedie voorgelig.

Op die grondvloer van Pleinstraat 120 het die komitee oor water en sanitasie besluit om die minister, Nomvula Mokonyane, oor die finansiële ineenstorting van haar departement tot verantwoording te roep.

Komitees se pogings om te verseker dat die uitvoerende gesag nie straffeloos optree nie, sterf dikwels ’n stille dood. Maar blykbaar kry ’n handvol komiteevoorsitters dit reg om druk om Luthuli-huis deur dik en dun te gehoorsaam te laat boemerang. Dit is in teenstelling met voorsittende beamptes van die NV, wat die president toegelaat het om hom uit toerekenbaarheid los te wikkel.

Stel jou voor Vincent Smith was die NV-voorsitter by die staatsrede, of Yvonne Phosa, voorsitter van die staande komitee oor toedelings, of Yunus Carrim van finansies, of Joan Fubbs van handel en nywerheid? Dié LP’s trap nie suutjies óm hul verantwoordelikheid jeens die publiek nie.

Heelwat gebeur uit die openbare oog. Dit is dan maklik om in die duisternis van die politieke raserny in die NV verlore te raak. Tog bestaan kolle van uitnemendheid, ondanks die uitdagende tye om geloofwaardigheid te midde van die chaotiese dooie punt oor die president te behou.

Meer oor:  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.