Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-wurms klim nou uit die hout

Is die ANC steeds ’n politieke organisasie of is dit ’n misdaadsindikaat? Want om R50 miljoen te begroot vir ’n koverte veldtog om opposisiepartye uit die water te blaas, is niks minder nie as skandalig en ’n teken van ’n party wat na die laaste strooihalms gryp om aan die bewind te kan bly. Bedrieglik en kwaadwillig dus.

Die doel van die ANC se veldtog was grootliks daarop gemik om die EFF van Julius Malema en die DA se naam met modder te beklad met die hoop dat kiesers dan vir die ANC sou stem in verlede jaar se munisipale verkiesing.

Dit het niks daarmee te doen gehad om die waardes, prestasies en planne van die ANC te bevorder nie, maar het net oor een ding gegaan – om die leuens­ oor die opposisie so geloofwaardig as moontlik te laat lyk.

Hoe skouspelagtig het dié koverte veldtog nie in die hek geduik nie. Wat was die wins vir die ANC? Dololo. Niks.

Die lamlendige koverte strategie kon nie keer dat die ANC drie metro’s verloor nie. Die Nelson Mandelabaai-, die Tshwane- en die Johannesburg-metro was kroonjuwele in die ANC-kroon, want hier kon kaderontplooiing onder die dekmantel van regstellende aksie in werking gestel word, kon vet tenders aan ANC-kaders toegeken word wat dan weer op ’n manier die geldsakke van die party laat bult het. ’n Storie van “ek krap jou rug en jy krap myne”.

Hoe skouspelagtig het dié koverte veldtog nie in die hek geduik nie.

Koverte strategiese kommunikasie is nie ’n nuwigheid nie. Koverte projekte was deel van PW Botha se totale aanslag-strategie. Ons onthou hoe eerw. Frank Chikane se klere met gif bespuit is en hoe hy by die dood omgedraai het, ons onthou Khotso-huis, wat kamma deur ’n ANC-lid opgeblaas is terwyl die hand wat die lont aan die brand gesteek het se hanteerders aan Botha se kabinet verslag gedoen het. Ons onthou hoe Dullah Omar se hartpille omgeruil is, ons onthou hoe ’n aapfetus aan ’n boom in emeritusaartsbiskop Desmond Tutu se tuin gehang is.

Die ANC, wat aan die ontvangkant van hierdie gruwels was, doen dan nou presies dieselfde. Blatante leuens en misleiding het nou deel van die ANC se voorgeskrewe kurrikulum vir kaders geword. Kyk maar net hoe het die ANC rondgeval met die ontkennings van sy Twitter-troepe wat die ANC in die verkiesing moes help.

Die uitvoerende bestuurshoof van die ANC bied aan een van die liegbendes R1 miljoen as skikkingsbedrag, maar Gwede Mantashe ontken dat die ANC iets te doen gehad het met die vuilsmeer-kaskenades.

Hoekom sal ’n mens nou R1 miljoen uithaal as jou hande kamstig so skoon is? Is die hele oefening van koverte operasies dan nie juis dat dit op so ’n manier uitgevoer word dat dit nie tot die organisasie of politieke party teruggespoor kan word nie?

Ongelukkig vir Mantashe praat geld, veral as die tjek nie teen die beloofde tyd in die bank is nie.

Maar het ons regtig iets anders van die ANC verwag? Die ANC word dan gemanipuleer deur ’n man wat geen respek het vir die land se ekonomie nie en maak asof die land se geldbeursie sy persoonlike bankkaart is.

Hoekom sou die gewone ANC-kaders hulle dan steur om hul vingers uit die staatskas te hou as die president van die ANC sy familie en vriende met belastingbetalersgeld verryk? Hoekom sou ANC-vetkatte vir een oomblik huiwer om nie die opposisie te diskrediteer nie en vuil te speel nie?

Dit kan mos net katastrofaal vir die kripvreters wees as die ANC sy mag verloor, want die wurms wat uit die houtwerk gaan klim, gaan vir hulle ’n oranje tronkpakkie waarborg.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.