Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Begin vleg aan Zuma se strop

Kan die politieke laksmanne – ook bekend as die kiesers – asseblief die stroppe begin vleg vir pres. Jacob Zuma?

Suid-Afrika het genoeg gebloei. Ons kan nie meer toelaat dat ministers en topregeringsamptenare aangestel word deur geldbaronne wat vriende is met die president nie.

Noudat ons weet dat die hardkoppige president van ons nie vrywilliglik gaan abdikeer en die presidentstoel voor 2019 gaan verlaat nie, is dit in die hande van Suid-Afrikaners om ’n einde te bring aan Zuma se heerskappy.

Net nog eergister het die gierige, obsessiewe man met onbeheerste drange ons mooi laat verstaan dat daar nie ’n manier is dat hy gaan loop voordat sy presidensiële termyn nie die verstrykdatum bereik nie.

Soos die krieketadvertensie van destyds gelui het: Komaan, somer, komaan. Ons kan dieselfde nou sê: Komaan, 2019, komaan.

Zuma is destruktief vir hierdie land. Die Suid-Afrikaanse vlam van gebondenheid, van medereisigers in die soeke na vreedsame naasbestaan het ­Zuma met sy kaalhande uitgedoof.

Ons as Suid-Afrikaners is terneergedruk en dit wil voorkom asof ons in die skaduvallei van beproewing en hartseer wandel. Ons word geblinddoek deur ’n Jacob Zuma en van ons word verwag om die bitter beker te ledig.

Not te dêm.

In hierdie land het ons medeseggenskap. Zuma is net die politieke rentmeester van ’n organisasie wat in ieder geval lankal sy politieke reserwes opgebruik het.

Almal van ons, wit, swart en pers, het ons premie betaal in die soeke na ’n beter Suid-Afrika.

Nie net die ANC nie. Ja, niemand kan ontken dat hulle die bevrydingsagente was van Suid-Afrika nie, maar dit gee hulle nie die vrypas om met hierdie land te maak net soos hulle wil nie.

Zuma is lankal nie meer net ’n ANC-probleem nie. Hy het nou ’n Suid-Afrikaanse probleem geword en het al die kenmerke van ’n “monargistiese president” soos die gerekende dr. Ali ­Mazrui dit beskryf.

Ali, wat beskou word as een van Afrika se grootste intellektuele, verwys in sy boek Violence and Thought na die tendens van bepaald Afrika se politieke leiers wat soos ’n monarg begin optree.

Hierdie monargistiese neiging manifesteer hom in die keuse van ’n politikus se klere, ’n voorkeur vir lang, slap motors en ’n paleis van weelde. Dink Nkandla!

Nog ’n kenmerk van monargistiese leiers is die verpersoonliking van gesag. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke is goeie voorbeelde daarvan. Zuma sien hierdie instellings as deel van sy persoonlike koninkrykie en gebruik dit prakties om sy teenstanders polities te likwideer. Volgens Ali het dit uit en uit ten doel om die persoonlike kultus van die leier te verstewig.

’n Derde element in die monargistiese politieke raamwerk is die heilige gesag. Dit is soms gekoppel aan die proses van persoonlike gesag. Dit hoef nie noodwendig ’n persoon te wees nie, maar ook ’n instelling of organisasie. Kyk maar hoe word die ANC verheerlik asof dit die laaste leksel nardusolie in die gebroke kruik is. Die blindes en die hardhorendes in die ANC sien die party as die enigste legitieme politieke party in Suid-Afrika.

Suid-Afrika het genoeg gebloei. Ons kan nie meer toelaat dat ministers en topregeringsamptenare aangestel word deur geldbaronne wat vriende is met die president nie.

Daarom het ons iewers in 2019 ’n afspraak met die president en die ANC. Intussen moet ons maar die politieke galgtoue lekker dik vleg vir hulle, want hulle verdien die valdeur.

    Meer oor:  Nvg  |  Anc  |  Valke  |  Zuma  |  Johann Maarman  |  Nkandla  |  Kiesers
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.