Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Chanel N° 5 vir die muishonde

Pres. Jacob Zuma en pres. Omar al-Basjir van Soedan tydens ’n besoek aan China. Foto: GCIS

Hier is ’n uitnodiging aan alle despote: Suid-Afrika verwelkom alle internasionale uitvaagsels. Kom kuier gerus. Hartlike groete. Van Jacob Zuma en die ANC se (lamsakkige) kabinet.

Maar indien jy ’n vredesgesant (soos die Dalai Lama) is, moenie eens probeer aansoek doen om ’n visum nie. 

Ja, ons het melaatse politieke leiers pas ’n vrypas gegee om die Suid-Afrikaanse bodem te betree sonder die vrees dat hulle in hegtenis geneem en aan Den Haag uitgelewer gaan word.

Ons het die Internasionale Strafhof in sy peetjie gestuur. So nou stuur ons maar onbeskaamd “Kom kuier”-uitnodigings aan die diktators van die wêreld.

Despote kan nou maar honderde mense in hul land afmaai en die bloed van hul hande in Suid-Afrikaanse waters kom afwas. Ons sal nog die rooi tapyt vir hulle ook uitrol.

Terwyl ander lande van despote padgee soos vlooie van ’n dooie hond, gooi Suid-Afrika sy deure wawyd oop.

Zuma se goeie vriend en kameraad, die bloeddorstige pres. Omar al-Basjir van Soedan, kan nou in sy presidensiële straler klim en vir ’n naweek rustig saam met Zuma kom mengeldrankies drink by Nkandla.

Die laaste keer dat Basjir hier was, het hy die Suid-Afrikaanse howe vir 

’n toffie gedruk en padgegee voordat die boeie aan sy hande geslaan kon word.

En dit is nou Zuma en sy sikofante wat hoog opgee oor menseregte.

Basjir, sowel as die demokratiese grap oorkant die Limpopo, Robert Mugabe, en die perverse Siriese moordenaar pres. Basjar al-Assad word deur die saketydskrif Forbes beskou as van die wêreld se wreedste diktators.

Johann Maarman

Ondanks hul vergrype teen die demokrasie het die ANC nog nooit kans gesien om hom daarteen uit te spreek nie. Die internasionale vriendloses en uitgeworpenes kry nou engel-status in Suid-Afrika.

O ja, mense soos Zuma en sy kohorte kritiseer die Weste gou en sien die Internasionale Strafhof as ’n verlengstuk van Westerse imperialisme, maar dan gaan staan hulle bakhand en bedel by Amerika en Wes-Europa en maak gepaste mooi geluidjies, soos mense wat ’n aalmoes vra maar maak. Intussen, in ’n tyd van spanning, waag die kabinet dit om sulke dom en ondeurdagte besluite te neem.

Dit is te verstane dat die ANC nie sy beproefde vriende Mugabe, Assad en Basjir gaan los nie. Dit is emosioneel te begrype. Hulle het die ANC in sy struggle bygestaan. Maar oor of dit moreel reg is om hulle te bly ondersteun ná al die gruverhale hoef ’n mens nie eens biduur te hou nie.

Dit is nie die eerste keer dat die ANC die muishonde van die wêreld omarm nie. Die Libiese diktator kol. Moeammar Ghaddafi het heldestatus in die ANC gehad, want hy het oor die jare miljoene aan die ANC geskenk.

Nou is daar nuwe Broederleiers vir wie ons stralekranse op die kop sit – ongure muishonde vir wie Zuma nou met Chanel N°5 bespuit.

Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof gaan ons nog lelik in die internasionale arena byt. Ons ervaar reeds die bewerasies op die geldmarkte weens simpel besluite soos om ’n minister van finansies vir bog­tery aan te kla. Kyk hoe gaan die rand nog verder die ritteltit en stuiperige trekkings kry wanneer groot geldmoondhede ons oor die Internasionale Strafhof gaan pak gee.

Zuma het hierdie land onherroeplike skade betrokken – binnelands én buitelands. En soos lady MacBeth kerm ons. Wanneer gaan die “dammed spot” dan wyk?

Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.