Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hou op om haat se vure te stook

Met hoeveel haat is ons nog in hierdie land besmet?

Dít is die vraag wat in ’n mens se kop draai nadat twee (wit) mans van Middelburg in Mpumalanga ’n (swart) man in ’n doodskis wou toespyker.

Wat die rede vir sulke sotlikheid en barbaarsheid was, is ’n saak wat die juriste in die hof maar sal moet besleg.

Nog een skryf dat Malema die “blankes” as onwelriekende oorblyfsels van die apartheidstyd beskou.

Maar oor die twee menere se skandelike gedrag hoef ons nie eens biduur te hou nie. Dit was nié ’n poets wat sleg skeefgeloop het of die resultaat van uiterste provokasie nie. Hierdie veragterlike daad – uit watter hoek ’n mens dit ook al bekyk – kan nie gekondoneer word nie.

Daar is te veel vrae wat in die lug bly hang oor die sogenaamde “Doodskis-2”. Soos waar het hulle skielik ’n doodskis in die hande gekry? Was dit met voorbedagte rade dat daar ’n video van die voorval geneem moet word?

In Vredendal in die Wes-Kaap is ’n plaasbestuurder ook in die hof omdat hy ’n plaaswerker na bewering meer as ’n jaar gelede by Lutzville vermoor en in ’n vlak graf begrawe het.

Die reaksie vir en teen die Doodskis-2 is wat ’n mens egter tot onrustigheid stem.

Die brandstapel-vure van haat word so hoog gestook in die kommentaar dat onverdunde rassisme die laagste gemene deler in die diskoers geword het.

Die Doodskis-2 se simpatiseerders vra tereg: Maar hoekom word plaasmoorde nie aan die groot klok gehang nie?

Inderdaad ’n legitieme vraag, maar net soos plaasmoorde – soos enige ander misdaad – verfoeilik is, so behoort ons nie een bose gees deur ’n ander te vervang nie.

Wat van Julius Malema se haat­spraak, vra ’n ander. Hy dryf “Afrikaners” teen die mure uit en slaan “ons wittes” gereeld met die historiese lat van apartheid en dat ons nie eintlik welkom is in hierdie land nie.

Nog een skryf dat Malema die “blankes” as onwelriekende oorblyfsels van die apartheidstyd beskou.

Die doodeenvoudige antwoord op sulke mense se vrae sou wees: “Basta nou met hierdie geteer en geveer. Ek gaan my nie deur Malema (of wie ook al) in ’n emosionele sloot laat instoot nie. Ek wil opstaan en voortbestaan. Ek hét ’n plek in hierdie land en ek hét regte. Ek sal saamwerk en bou aan geregtigheid vir almal. Maar ek gee ook kennis dat ek my ook nie sal laat rondstoot nie.”

Dis die boodskap wat ons moet gee. Tyd vir selfbejammering of verwyte oor wat kon gewees het, is verkwiste tyd. Daar moet leiers verskyn wat met trots kan sê hierdie land is ook my land en ek wil niemand benadeel nie en sal help, maar moenie verder op my trap nie.

Maar in die geroesemoes van hierdie debat was daar ook sober stemme. Stemme na wie ’n mens gerus kan luister.

Die aanval is deur die bank deur alle politieke partye veroordeel. Solidariteit se Flip Buys het die spyker op die kop geslaan deur uit te wys dat ’n voorval soos dié waarin ’n man aangerand en toe in ’n doodskis ingedwing is, die stereotipering van Afrikaners en wit mense as wrede rassiste versterk, terwyl die FW de Klerk-stigting in sterk taal gesê het dat woorde en dade wat bedoel is om mense te verneder op grond van ras, geloof en geslag ’n vervloeking van dié stigting se waardes en werk is.

Dit was weliswaar ’n galbitter week vir ons as Suid-Afrikaners, maar ek het die troos dat die oorgrote meerderheid mense van Suid-Afrika nie inherent immoreel is nie en dat ons nie ingesluk word deur die dade en uitsprake van die sogenaamde Doodskis-2 of deur ’n Malema nie.

  • Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Menings  |  Johann Maarman  |  Rasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.