Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Johann Maarman: Samaritane in tyd van Pasga

Dit is twee moedelose figure wat teen die garagemuur sit. Dit is skemeraand en die wind het ’n bytigheid in hom. ’n Ma en haar opgeskote dogter op pad na Namakwaland om (dalk) die Paasfees by haar trok­drywer-man te wees.

So met die gesels kom ’n mens agter dit gaan ’n droewige Pase vir dié (wit) gesin wees, want hulle sal haar man iewers langs die pad kry en Goeie Vrydag hopelik saam met mekaar wees. Hy is met ’n vrag uit Namibië op pad, maar dan moet hy weer wegswaai binneland toe.

’n Dorp diep in Namakwaland sal maar nou as halfwegstasie moet dien waar die pa, ma en dogter ’n paar uur lank darem in mekaar se geselskap kan wees.

Hulle het ’n paar rand, maar dit is allesbehalwe genoeg om hulle ’n sitplek op ’n bus of ’n taxi te verseker.

Die armoede sit aan hul klere vas. Die meisiekind in die dun skooltrui, met ’n paar skoene waarvan die sole al skeef is. Die ma in ’n skoon rok, maar dié is ook gelap en herlap.

Jou binneste word ’n woestyn van hartseer met verskuiwende emosionele duine. ’n Uitsiglose en hulpelose landskap.

Hulle is soos grassade in die wind . . .

Weemoedigheid spoel oor ’n mens. Dit maak ’n mens week. Dit roer die emosies. Jou binneste word ’n woestyn van hartseer met verskuiwende emosionele duine. ’n Uitsiglose en hulpelose landskap.

Maar dan hoor jy die gebrabbel uit ’n minibustaxi. Die spontane gesing in Xhosa. Dié van ander reisigers in die tyd van Christene se Pasga.

Die vroue in die netjiese gestrykte wit klere met die blou kopdoeke en die purper serpe om die lyf sien die ma en dogter. In gebroke Afrikaans word ’n tweegesprek gevoer.

Toe volg ’n lekgotla tussen die Pasga-reisigers onder mekaar en dan die kom-nader-wuif vir die ma en dogter.

In die minibustaxi word plek gemaak vir hulle twee. ’n Mens sien die kombers wat hulle oor die skraal meisiekind se skouers gooi.

Pasga-pelgrims op reis saam met twee vreemdelinge. Samaritane voor die Goeie Vrydag. Handelaars van hoop.

Só ver weg verwyderd van die toe­nemende korrupsie in die land, die ondermyning van die Grondwet, die arrogansie van ongebreidelde mag, die sirkulasie van kaderontplooiing in die regeringsfeer en die verguising van ’n volk se gees.

Hoe op dees aarde kan een mens ons so in die politieke dryfsand insleep en ons folter; ons wegstroop van ons gemeenskaplike liefde vir hierdie laslappieland van ons?

Hoe is die demokrasie vervang deur ’n Zumakrasie en nou selfs ’n Guptakrasie?

Soos wyle André P. Brink dit so mooi gestel het: “Ons het die wêreld verstom; nou is ons besig om ook onsself te verstom.”

Ons ekonomie is na aan die puin­hope – ons is een tree weg van rommelstatus. Een man se handewerk.

Toenemende magsvergrype is aan die orde van die dag. Tender vir seun, tender vir dogter en tenders vir die president se gesette neef. Een man se handewerk.

Verskoon die grimmigheid, maar daar is nie ’n manier waarop hierdie man van Nkandla ’n dag langer president van hierdie land kan wees nie. Dit gaan fataal wees, en hy gaan ons net verder in die afgrond meesleur.

Een man het die Republiek van Suid-Afrika besmet met die Nkandla-virus, die Gupta-virus en nog ander skadelike politieke virusse.

Hierdie man, handeldrywend as Jacob Zuma Ingelyf, moet polities gelikwideer word. Vir altyd.

Sy rakleeftyd is lankal verby. Dis tyd dat hy spore maak.

  • Maarman is ’n adjunkredakteur van Die Burger.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.