Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
HOOFARTIKEL: 15 JANUARIE 2015
Beeld sê: Moenie plaasmoorde verpolitiseer
Ook is daar geen bewys dat dié moorde, soos soveel ander beweer, rasgemotiveerd is nie.

Die moord op die Vrystaatse egpaar Toon (72) en Rienie (70) Swanepoel is aaklig en afskuwelik.

Die skuldiges moet onverwyld aan die pen ry en uit die samelewing verwyder word.

Dit plaas die soeklig egter weer eens op een van ons grootste maatskaplike probleme – misdaad – en hoe ons as landsburgers kies om daarop te reageer.

Plaasaanvalle en -moorde is ’n hoogs emotiewe saak.

Baie lesers van hierdie koerant het ’n sterk band met die platteland en diegene wat grond bewerk. Dat mense ontsteld sal wees, is dus natuurlik.

Dis ’n feit dat die polisie sedert die ontbinding van die kommandostelsel sukkel om die voorkoms van misdaad in landelike gebiede hok te slaan.

Boonop is daar onsekerheid oor die werklike omvang van die situasie omdat wetstoepassers plaasmisdade nie meer as aparte kategorie openbaar nie.

Daar is egter geen bewys dat die Swanepoel-moorde verband hou met

Julius Malema, EFF-leier, se uitsprake oor grondbesettings nie, soos wat sommige kommentators meen.

Ook is daar geen bewys dat dié moorde, soos soveel ander beweer, rasgemotiveerd is nie.

Volgens navorsing – wat verlede jaar aan die Menseregtekommissie voorgehou is – is plaasaanvalle net in 2% van gevalle ras- en polities gedrewe en is die motief grootliks huisroof. Dit verklaar natuurlik nie die uitermatige hoë vlak van geweld en sadisme wat dikwels daarmee gepaardgaan nie en is iets waarin dieper gedelf moet word.

Almal moet saam na ’n oplossing soek en dit kan slegs gebeur as dit op feite, deursigtigheid en toewyding berus.

Niemand – allermins boere – gaan daarby baat vind as belangegroepe growwe veralgemenings oor rassemoord en uitwissing maak nie.

Misdaad is ’n knellende probleem wat ons almal raak, maak nie saak waar dit voorkom nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.