Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Rapport sê: Slegte tye? Reaksie is ons keuse
...ons is ’n planmaak-nasie. Ons is pragmaties. Ons is gehard. Ons wil oorleef. En ons sal ons nie laat onderkry nie.

Die Eskom-krag is nie meer altyd aan nie en selfs die roosters vir beurtkrag is verkeerd, maar ons hou die land met kragopwekkers, hardkoppigheid en ’n legendariese aanpasbaarheid by teenspoed aan die gang. Skole sluit nie, winkels doen sake, salarisse word betaal en welvaart word geskep, ofskoon nie soveel as wat ons met ’n beter regering sou kon nie.

’n Standbeeld kantel en radikale kwyl oor die volgende een, maar dié getorring aan die landskap verander nie wie ons is as Suid-Afrikaners nie, wat ­elke dag die vermoë en ­gewilligheid illustreer om met mekaar aan te hou praat selfs oor moeilike ­sake. Ons sal veg oor die belangrike dinge, maar weet as jy saam in ’n huis woon, móét alle huismense se aspirasies en gewoontes en voor- en afkeure tel. Ons sal net in die nodigste en beslis slegs in spreekwoordelike loopgrawe klim, want die plig om vrede te soek is ons ­almal s’n.

Jacob Zuma is ’n patetiese president en daar is geen onmiddellike vooruitsig om hom en sy lamsakkige party by die stembus te stuit nie. Maar elke week is ’n burgerlike organisasie, wat met ledegeld of skenkings staande gehou word, in die hof om die staat te dwing om inhoud en gevolg aan ons almal se regte in die Grondwet te gee, waaronder die regte van armes, wat so deur die nuwe elite vertrap word, en minderhede, waarvan die nuwe elite graag vergeet.

Die Poskantoor se slagspreuk “We deliver” is ’n grap, maar entrepreneurs lag al die pad bank toe, want hulle sien in dié mislukking ’n geleentheid om pakkies en briewe húl ­besigheid te maak.

Openbare skole is meestal wanfunksioneel, maar ouers wat kán, spring in, en ander begin hul eie ­skole, wat vir armes al hoe meer bekostigbaar raak.

Ja, daar is morbiditeit en sprake van ’n “laagtepunt”. Maar ons is ’n planmaak-nasie. Ons is pragmaties. Ons is gehard. Ons wil oorleef. En ons sal ons nie laat onderkry nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.