Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad sê: Kringloop moet gebreek word
Baie van hierdie vroue misbruik alkohol.

Drankmisbruik in die Noord-Kaap het ’n sneeubal-effek wat nie maklik gestop gaan word nie. Mxolisi Sokatsha, Noord-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, beskryf die voorkoms van fetale alkoholsindroom (Fas) in dié provinsie as “skokkend hoog”.

Daar is seker min dinge so hartseer soos ’n onskuldige baba wat gebore word met onomkeerbare breinskade wat aangerig is deur haar ma se alkoholmisbruik tydens die swangerskap.

Nie alleen is die kind verstandelik gestrem nie, maar die kanse is uitstekend dat dié babas as volwassenes voor dieselfde maatskaplike probleme te staan gaan kom as hul ouers.

Alkoholgebruik tydens swangerskap kan lei tot verskeie probleme soos ’n kind met ’n lae intelligensie, gedragsprobleme, swak sig en gehoor. Kinders wat daardeur geraak word, is geneig om met die gereg te bots en is ook meer geneig om betrokke te raak in seksuele aktiwiteite wat hoë risiko’s kan inhou.

Fas is die ergste vorm hiervan, maar die ergste van die hele situasie is dat dit voorkom kan word.

Vroue moenie drink tydens swangerskap nie. Dit is so eenvoudig. Maar dan moet ’n mens jouself afvra hóékom daar so ’n hoë voorkoms van Fas in sekere gemeenskappe is. Hoekom kan dit nie voorkom word deur inligting en opleiding nie?

Die antwoord is opgesluit in die haglike maatskaplike probleme waarin baie van hierdie swanger vroue vasgevang is. Baie van hierdie vroue misbruik alkohol om te ontsnap van die aaklige werklikheid van armoede, werkloosheid en ongelykheid.

Dit bied ’n nóg groter uitdaging aan plaaslike gesondheidsdienste wat hierdie sindroom probeer stuit, want vroue moenie net leer om nié te drink nie, maar die redes waaróm hulle drink, moet aandag kry.

Alkohol verdoof dalk die pyn, maar by swanger vroue kan dit daartoe lei dat ’n kind gebore word met ’n agterstand wat sy nooit weer kan inhaal nie – en die uitstekende kans om daardie fout te herhaal.

Dit is ’n wrede kringloop wat gebreek moet word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.