Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
HOOFARTIKEL 10 NOVEMBER 2014
Volksblad sê: SA kort helde, nie dwase
Ons kán Suid-Afrika help red. Help om die ongeregtigheid van die verlede te heel.

Die Steve Hofmeyr-bohaai is besig om heeltemal buite beheer te raak. Wat ’n sterk standpunt kon wees teen ’n ANC-regering wat Suid-Afrika ten gronde bestuur, is besig om die idee van Afrikaners as apartheidsontkenners te skep.

Hofmeyr se veldtog teen plaasmoorde is soos baie leiers en organisasies s’n ’n moet en reg en hy mag ingevolge die reg tot vryheid van spraak selfs Die Stem sing, net soos pres. Jacob Zuma se strydlied Umshimi’wami sing, al gee albei liedere baie mense erg aanstoot en is dit onsensitief.

Sy standpunt dat swartes self ’n aandeel in apartheid het, is egter verwerplik. As gewilde Afrikaanse sanger, skrywer en aktivis het hy baie aanhangers wat hom blindelings volg en het dit ’n nuwe asem en ’n soort bravade by baie rassiste geskep.

Om 20 jaar ná Suid-Afrika se nie-gewelddadige oorgang na ’n demokrasie steeds te wil redeneer daaroor of apartheid meriete gehad het of nie, is hartseer. Daar is geen sin daarin om te wil stry of Hofmeyr ’n punt beet het of nie. Apartheid was ’n onreg wat miljoene swart en bruin Suid-Afrikaners én Afrikaners ’n ontsettende fisieke, ekonomiese en geestelike leed aangedoen het.

Waar ons ons volle aandag moes wend tot die Zuma-regering wat die land laat ontspoor, is Afrikaners besig om mekaar te pak in ’n dwase geveg op die kantlyn, terwyl die damwal voor ons oë besig is om te breek. Wat ’n mens kan vra, is hoeveel van ons mense aangeval gaan word omdat Hofmeyr die persepsie skep dat hy as ’n leier van alle Afrikaners swart landgenote in die gesig vat.

Waar ons met Hofmeyr saamstem dat Suid-Afrika allermins ’n gesonde land is, dat misdaad, geweld en moord besig is om ons demokrasie te vernietig, moet ons waarsku dat sy jongste boodskap baie gevaarlik is.

Ons kán Suid-Afrika help red. Help om die ongeregtigheid van die verlede te heel. Dink wys en logies. Wees ’n leier vir ál die mense om jou – in jou gesin, jou boerdery, jou maatskappye en jou gemeenskap. Wit, swart en bruin. Maak Suid-Afrika werk. Daar is baie sulke helde om ons.

Dít, Afrikaners, is die regte boodskap om nou in te glo.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.