Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
HOOFARTIKEL: 15 JANUARIE 2015
Volksblad sê: Stuit aanvalle op plase nóú
Dit is werklik tyd dat die regering wys dat hy ernstig is oor hierdie verskriklike misdade wat net nie wil ophou nie.

Twee grusame plaasaanvalle die laaste paar dae in die Vrystaat laat emosies in dié provinsie en elders in die land hoog loop.

Wat veral skokkend is van die aanvalle op Toon (72) en Rienie Swanepoel (70) van Bainsvlei en Martie Bester (68) van Theunissen, is die wreedheid en koelbloedigheid waarmee die moorde gepleeg is.

Dit wek ook emosionele vrae, soos: Hoe kan mense so iets doen? En wat doen die regering om dit te voorkom?

Die moord op die Swanepoels was boonop die sewende dubbele plaasmoord in die Vrystaat sedert 2010.

Mense kan nie kwalik geneem word oor vrae wat gevra word oor die regering se erns om hierdie aaklige misdryf te bekamp nie.

Die ondeurdagte wyse waarop die kommando-stelsel destyds afgeskaf is, is beslis ’n oorsaak van die onveilige toestande wat nou in baie plaasgebiede heers.

Die uitlatings wat ook gereeld uit politieke geledere opklink oor veral landbougrond en grondregte, maar ook oor die verhouding tussen boere en plaaswerkers, kan boonop bydra tot ’n negatiewe klimaat teenoor boere.

Die adjunk-minister van landbou, Bheki Cele, het vandeesweek daarteen gemaan dat plaasaanvalle in ’n raskwessie verander word.

Net so moet die regering die rassekaart vir eers links laat en opnuut daaroor besin om plaasaanvalle tot voorkeurmisdaad te verklaar.

Dit is werklik tyd dat die regering wys dat hy ernstig is oor hierdie verskriklike misdade wat net nie wil ophou nie.

Die regering is dit aan die land en die landbougemeenskap verskuldig om ’n behoorlike strategie in te stel en uit te voer wat daarop gerig. is om ons boere en plaasgemeenskappe te beveilig.

Intussen is ’n mens dankbaar dat verdagtes in albei die nuutste plaasaanvalle aangekeer en voor die hof gebring is. Hul jeugdigheid dui op ’n groter probleem.

Die polisielede wat hiervoor verantwoordelik is, verdien die lof van die gemeenskap.

Die land het egter nodig dat hierdie skokkende aanvalle eens en vir altyd stopgesit sal word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.