Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en die Volksblad sê: Geluk, Bokke! Dis welverdiend ná harde werk
bpkle

Dit bly ’n ongelooflike prestasie om na die eindstryd van rugby se Wêreldbeker deur te dring. Geluk aan Rassie Erasmus, Siya Kolisi en die hele span. Dit is welverdiend. Uit die staanspoor met Erasmus se oorname as afrigter was dit duidelik dat daar baie hard gewerk word aan ’n span wat weer op die hoogste vlak mededingend kan wees.

Gepaardgaande met die spel is passievolle ondersteuners en waarnemers wat nie altyd met spankeuses en spelpatrone saamstem nie. Erasmus, van sy spelers en die span het meermale, selfs in die toernooi, daaroor deurgeloop.

Soms is die reaksie weens onkunde, maar meermale omdat ondersteuners maar net meer vloeiende en opwindende rugby wil sien. En oor enige nasionale sportspan gaan ondersteuners maar altyd oor kwessies verskil, dit is deel van die opwinding.

Erasmus het tot die span se stabiliteit bygedra deur veral vanjaar grootliks by sy spankeuses te hou.

Tog het Erasmus en kie. vasgebyt met die benadering waarin hulle glo en kan hulle nou die uitnodigingskaartjie na die Bokke se derde eindstryd in die bestaan van die Wêreldbeker-kompetisie wys.

Erasmus het ook tot die span se stabiliteit bygedra deur veral vanjaar grootliks by sy spankeuses te hou. Dit spreek boekdele dat die All Blacks juis uitgeskakel is in die jaar dat Steve Hansen, All Black-afrigter, gereeld met alternatiewe kombinasies proefnemings gedoen het. Selfs vir die halfeindstryd het hy ’n slot vir die eerste keer op toetsvlak as flank ingespan.

Die hoop beskaam ook nie dat die Bokke se sukses – en veral as daar sukses in die eindstryd is – tog suurdeeg kan wees om weer te help met positiwiteit en eenheid in ’n land wat tans deur moeilike tye gaan nie. Die span is ’n voorbeeld dat daar wel sukses kan wees deur eenheid in diversiteit.

Uiteraard moet die Wêreldbeker ook eers gewen word. Engeland (wat lyk na die span met die beste vorm in die toernooi, asook hul uitgeslape afrigter, Eddie Jones) staan tussen die Bokke en nogmaals groot roem. Dit beloof volgens kenners weer om ’n baie gelykop en klipharde stryd te wees. Daar is tog ook ’n groot mate van trots daarin dat die Bokspan en sy hoofafrigter almal Suid-Afrikaners is. Namens Beeld en sy lesers word hulle alle sterkte toegewens vir daardie laaste 80 minute, of meer, wat nodig sal wees om die Webb Ellis-trofee in Suid-Afrika staanplek te gee.

Meer oor:  Wêreldbeker  |  Eindstryd. Bokke  |  Hoofartikel  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.