
Cosatu-lede en ondersteuners. Foto: Jaco Marais
Presies hoe uit voeling Cosatu is met die nasionale krisis waarin die land verkeer, is verlede week weer duidelik tentoongestel met die landwye staking.
Cosatu is strate toe onder meer oor die regering se onvermoë om ’n ooreenkoms oor loonverhogings wat in 2018 bereik is, gestand te doen.
Dít in ’n tyd wat die ekonomie erg ingekrimp het weens die Covid-19-pandemie en werkers in die private sektor op groot skaal afgelê word weens onvermydelike begrotingsbesnoeiings.
Hoe geklik lyk hulle en hul eise nie nou nie – veral noudat pres. Cyril Ramaphosa, die kabinet en premiers ’n derde van hul salarisse oor drie maande aan die Covid-19-noodfonds geskenk het.
En terwyl leerlinge spartel om die agterstand met leerplanne uit te wis, dwaal hul Sadtu-geaffilieerde onderwysers met slagspreuke en plakkate in die strate rond.
Nou is dieselfde vakbond heeltemal bereid om nie net die veiligheid van sy eie lede op die spel te plaas nie, maar ook dié van miljoene ander Suid-Afrikaners.
Die res van die land doen alles om ’n tweede vlaag van Covid-19 af te weer deur menslike kontak tot die minimum te beperk, maar Nehawu-geaffilieerde gesondheidswerkers neem deel aan massa-optogte, waar tallose deelnemers sonder maskers opgemerk is.
Dis nou die einste Nehawu wat vroeër vanjaar geëis het dat die regering gesigmaskers, ontsmettingsmiddels en beskermende toerusting verskaf om sy werkers te beveilig.
En nou is dieselfde vakbond heeltemal bereid om nie net die veiligheid van sy eie lede op die spel te plaas nie, maar ook dié van miljoene ander Suid-Afrikaners.
Dit skreeu ten hemele.
Cosatu kan ook nie verbaas wees dat die staat se geld op is nie en loonverhogings vir die afsienbare toekoms onmoontlik is. Hulle is mos juis die ouens wat nog altyd aangedring het dat sukkelende staatsondernemings soos Eskom en die SAL nie geprivatiseer moet word nie, maar kunsmatig aan die lewe gehou word met miljarde rande wat ons nie gehad het nie – en nou nog minder het.
Hoe geklik lyk julle nie nou in hierdie krisis nie. Hoe skril skree julle ideologiese stiksienigheid en eiebelang nie teen almal wat werklik in landsbelang ’n weg uit dié krisis soek nie.
Die regering kan nie anders as om die voet nou dwars te sit nie.