Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Dis skreiend om Covid-19-geld te steel van armes
laudium, kospakkies
Die lang rye mense wat gewag het vir kospakkies nadat die nasionale inperking ingestel is het wêreldwyd opspraak gemaak. Hier staan mense van die Itireleng-informele nedersetting naby Laudium in Pretoria op 20 Mei en wag vir kos. Foto: Reuters

Met die aankondiging van ’n R500 miljard-hulppakket om die land te help om deur die Covid-19-pandemie te kom, het pres. Cyril Ramaphosa opgemerk dat hy sal verseker dié geld val nie in die hande van korruptes nie.

Dis in die eerste plek ’n verstommende skande dat ’n staatshoof te midde van een van die grootste krisisse in menseheugenis so ’n opmerking moet maak.

Terwyl die volle aandag van enige regering op die hantering van die pandemie behoort te wees, sit ons in Suid-Afrika met die amper voor die hand liggende: hier is geld beskikbaar, iemand gaan dit probeer steel.

Nie net het Suid-Afrika dus tydens inperking voorberei op die “afplatting van die kurwe” nie, maar ook vir die gulsigheid van gewetenlose misdadigers wat te midde van die krisis ’n gulde geleentheid sien.

Só gewoond is ons aan die alomteenwoordigheid van korrupsie, dat dit deel van ons alledaagse bestaan is. Dis eintlik maar net soos die koronavirus – ’n mens leer mettertyd om daarmee saam te leef.

Ons is al so gewoond aan die plundering van die staatskas, dat dit nie eers meer skok of verbaas nie.

Ons is al so gewoond aan die plundering van die staatskas, dat dit nie eers meer skok of verbaas nie. Dis eintlik net die bedrae verskil. Dis ’n trogvreet-en-diefstal-kultuur wat oor jare genormaliseer is en uiteindelik deel van die ANC en die regering (en onderskei hier gerus tussen die twee) se kultuur geword het.

Verskeie mense is die afgelope ruk in hegtenis geneem weens beweerde korrupsie wat verband hou met geld wat spesifiek toegewys is vir Covid-19. Die howe sal uiteindelik oor hul lot beslis.

Maar dit strek ook verder. Dit raak elke kospakkie wat onder die tafel (of selfs openlik) aangegee word vir vriende of familie wat dit nie regtig nodig het nie. Dit het betrekking op elke tender wat in dié tye teen astronomiese bedrae toegeken word vir werk wat inderwaarheid teen ’n bekostigbare bedrag gelewer kan word.

Covid-19 gaan vorentoe wys dat ons nog nie regtig geweet het waarna ons verwys toe ons jare gelede die term “armstes van die armes” in Suid-Afrika begin gebruik het nie.

En om van dié mense in hierdie omstandighede te steel, is ’n nuwe laagtepunt.

Meer oor:  Geld  |  Korrupsie  |  Kospakkies  |  Armes  |  Fondse  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.