Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Eenogigheid oor staatshulp aan boere kan SA kos
Thoko Didiza. Foto: Elizabeth Sejake

Waar is die regering se broodnodige steun aan die landbousektor se onmisbare kommersiële boere wat hulle in die ekonomiese en Covid-19-knyptang bevind?

Ten spyte van natuurlike én politieke struikelblokke wys die kommersiële boerderysektor dubbel en dwars hy wil meer as net ’n winsgedrewe deel doen.

Met landbou-organisasies en -maatskappye en boere se kosskenkings en verspreidingsinisiatiewe en die landbousakekamer Agbiz se skema vir boere om ’n hektaar se oes aan Suid-Afrikaners in kosnood te skenk, bring die sektor patrioties en medemenslik sy kant in die koronakrisis, wat lewens eis en bestaansvernietigend is. Die boere doen meer as hul plig om mede-Suid-Afrikaners in die pandemie te help dra en hulle staande te hou en te voed.

Van die regering sou dit te wagte wees dat hy dié sektor dra as ’n onontbeerlike lewensaar vir die ekonomie en vir die welstand en vooruitgang van die land en sy mense. Maar klaaglik en onbegryplik misken die owerheid die kommersiële boere, wat 98,1% van die nasionale kosmandjie lewer, buurlande en die wêreld help voed en werk aan 700 000 mense verskaf.

Kommersiële boere in droogte- en geldnood se rol word misken en hulle word blatant en roekeloos geïgnoreer.

Pleidooi ná pleidooi aan Thoko Didiza, die minister van landbou, en die regering dat kommersiële boere ook gesteun moet word met Covid-19-staatshulp vir landbouers, val op dowe ore. Kommersiële boere in droogte- en geldnood se rol word misken en hulle word blatant en roekeloos geïgnoreer.

Die regering stoom eenogig voort met hulp slegs aan kleinboere, wat 2% van Suid-Afrika se kos produseer.

Met die onkoste wat die pandemie meebring, die nagevolge van die droogte en die ekonomiese penarie wat vererger word deur die Landbank se geldprobleme en die skok van Eskom se hoër kragprys kan van die kommersiële boere nie sonder staatshulp oorleef nie.

Elke boer se ondergang en gepaardgaande werkverlies skaad voedselproduksie en skep ekonomiese druk.

Dit maak ook die steierende platteland verder seer.

Volgens Didiza en die regering is die landbou-ondersteuningspakket juis bedoel om voedselproduksie ten volle aan die gang te hou en die impak van die Covid-pandemie teen te werk. Dit klink goed, maar met die uitsluiting van die land se hoofrolspelers in voedselproduksie beteken dit net mooi niks nie.

Finansiële reddingsboeie om kommersiële boere in staat te stel om voort te boer, kan Suid-Afrika maak of breek. As die land se Nommer Een en self ’n boer en sakeman moet pres. Cyril Ramaphosa dit tog weet.

Sy stem is nodig om sy medeboere en die land se mense van ’n nog groter krisis te red.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Staatshulp  |  Hoofartikel  |  Landbouhulp  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.