Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Herbou verlore waardigheid van hierdie instellings
cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Indien pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede aanstaande maand deur die EFF ontwrig word, sal dit sleg wees vir die aansien van die presidentsamp, sleg vir die parlement en sleg vir die grondwetlike demokrasie.

Elkeen van dié instellings het in die era van staatskaping ernstige skade gely, die parlement onder meer weens die einste EFF se ontwrigting van gebeure en die sogenaamde withemde se gewelddadige reaksie daarop. Verlore waardigheid moet nou herwin word, maar die harde werklikheid is helaas dat enige ontwrigting in groot mate sal wees deur die ANC se eie toedoen en die interne kultuur wat hy oor jare heen gevestig het.

Toe Jacob Zuma nog president was, was hy lief om te pleit dat dié amp gerespekteer moet word en dat hy nie by amptelike geleenthede uitgejou behoort te word nie. Maar oor hom kon jy tereg vra hoeveel respek hý vir sy amp het as hy nie uitvoering gee aan die pligte en verantwoordelikhede wat die Grondwet hom oplê nie. Respek word verdién.

Moet ook nie een oomblik wonder waar Ju­lius Malema sy populistiese taktiek geleer het nie.

Dit is mos die einste taktiek wat Zuma in 2007 in Polokwane alte goed gepas het toe hy van pres. Thabo Mbeki ontslae wou raak.

Dit is mos die einste taktiek wat Zuma in 2007 in Polokwane alte goed gepas het toe hy van pres. Thabo Mbeki ontslae wou raak. Mbeki en sy kamerade is telkens deur Zuma se juigkommando’s doodgeskreeu, en Zuma het dít telkens aanskou asof botter nie in sy mond kon smelt nie. Hy het niks gedoen om die orde te herstel nie.

Dit was destyds slegs deur die ingreep van Kgalema Motlanthe dat Mbeki daardie dag hoegenaamd ’n spreekbeurt in die markiestent gekry het. Motlanthe se skerp waarskuwing aan die skare was dat indien jy aanhou om mense dood te skreeu, daar ’n dag sal kom waarop niemand vir jou opkom as jý doodgeskreeu word nie.

Profetiese woorde oor hoe Zuma se gebrek aan staatsmanskap op daardie dag hom en die ANC later duur te staan sou kom. Die EFF kan dit gerus ter harte neem.

Elemente van Ramaphosa se presidentskap kan tereg gekritiseer word, maar dit staan soos ’n paal bo water dat hy weer ’n waardigheid na die amp van die president gebring het wat deur sy voorganger geheel en al verwoes is.

Dit is ’n waardigheid wat die EFF moet respekteer, selfs al verskil hulle polities van Ramaphosa.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Ontwrigting  |  Eff  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.