Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Jy skuld ons ’n verduideliking, Bheki Cele
Bheki Cele, minister van polisie. Foto: JACO MARAIS

Bheki Cele, minister van polisie, se standpunt dat hy nie gaan reageer op ernstige bewerings wat voor die Zondo-kommissie gemaak is nie, spreek van ’n skreiende onverskilligheid teenoor die aansien van nie alleen sy eie amp nie, maar van die ganse polisiediens.

Kol. Dhanajaya Naidoo, ’n fluitjieblaser wat jare lank in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid gewerk het, het Maandag getuig dat Cele, toe nog nasionale polisiehoof, glo R40 000 in kontant uit die geheime fonds van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid gekry het.

As daar geen waarheid in die bewerings steek nie, is dit nie duidelik waarom Cele dit dan nie regstreeks wil ontken nie.

Cele beter onthou dat nie net sy eie integriteit en aansien geraak word nie, maar ook dié van die polisiediens. Boonop is die einste integriteit en aansien reeds aan flarde weens jare se ernstige wanbestuur deur opeenvolgende polisiehoofde, waarvan hy voorheen een was.

Hoe gaan die polisie ooit dié respek verdien as die minister van polisie dink hy skuld die publiek geen antwoorde nie?

Die land het bykans twee dekades laas ’n polisiehoof met integriteit gehad. Dit was George Fivaz, wat deur oudpres. Nelson Mandela aangestel is en sy kantoor in 2000 verlaat het. Daarna het die een katastrofe ná die ander gevolg.

Ná Fivaz het oudpres. Thabo Mbeki die korrupte ­Jackie Selebi aangestel wat – as hoof van Interpol – Suid-Afrika internasionaal verneder het toe hy aan korrupsie skuldig bevind is.

Toe het oudpres. Jacob Zuma Cele, ’n ou vriend uit KwaZulu-Natal, gaan haal om polisiehoof te word. Cele is wel ná ’n ondersoek na huurkontrakte van die polisie ongeskik bevind om polisiehoof te wees.

Hy is opgevolg deur Riah Phiyega, wat onder meer in ’n interne polisieondersoek aan bedrog, meineed en wangedrag skuldig bevind is. Die Farlam-kommissie het ook verdoemende bevindings oor haar gemaak.

Duidelik is die skade baie groot aan die polisiediens, wat respek by die publiek moet afdwing ten einde sy werk na behore te doen. Hoe gaan die polisie ooit dié respek verdien as die minister van polisie, voorheen die polisiehoof, dink hy skuld die publiek geen antwoorde nie?

Pres. Cyril Ramaphosa, wat Cele in sy nuwe kabinet aangestel het, kan hom gerus teregwys.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Hoofartikel  |  Vreduideliking  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Minister Van Polisie  |  Aanstellings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.