Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Kubane help nie om almal deel van projek SA te maak
Lindiwe Sisulu
Lindiwe Sisulu Foto: Elizabeth Sejake

Dit was toe geen vroeë April-grap nie, maar ’n formeel bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba: Die Kubane kom weer help met dienslewering, ronde 3.

Eers was dit die befaamde Kubaanse mediese dokters, wat later stil-stil moes verdwyn nadat hul opleidingsvlakke nie op peil was nie. Jare daarna werktuigkundiges, wat nie juis hond haaraf kon maak met die weermag se stukkende voertuie nie.

Nou word die fiksie van die Kubaanse sosialistiese paradys weer herbesoek met 26 ingenieurs vanuit dié land wat nou op Suid-Afrika se erg beskadigde en verslete waterinfrastruktuur kom werk.

Rodolfo Benitez Verson, Kuba se ambassadeur in Suid-Afrika, het die ooreenkoms met Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, onderteken. Hy het by die ondertekening gesê hy wil die versekering gee dat dit “goed opgeleide ingenieurs is wat sal kan help met die soek na waterbronne, asook die instandhouding en bestuur van watervoorraad”. Volgens hom was daar glo ’n “streng keuringsproses” vir die gekose 26.

Nog erger is die blatante ignorering van voldoende plaaslike kundigheid en talent.

Sisulu en die ANC-regering mag dit dalk vir soetkoek opeet, maar Suid-Afrikaners sal erg skepties wees. Nog erger is die blatante ignorering van voldoende plaaslike kundigheid en talent.

Die kritieke watersituasie in die land, asook die bedenklike toestand van waterinfrastruktuur, is die direkte gevolg van ANC-wanbestuur en -korrupsie in die vorm van blatante diefstal. Veral op plaaslike vlak. Deel van die probleem is dat die nodige kundigheid nooit deur aanstellings betrek is nie. Die duidelike onwilligheid om beskikbare kundigheid te betrek, is klaarblyklik weens ’n skaamkwaadheid wat verhinder dat enigiemand wat nie uit die ANC-dampkring kom nie die gemors moet kom regmaak. Dan eerder die Kubaanse kamerade.

Dit is geen manier om alle Suid-Afrikaners deel te maak van die projek om die land te herbou tot voordeel van almal nie. Só gaan baie kundigheid ook verlore tot voordeel van oorsese lande. Die mitologie van ’n “beter lewe vir almal” word verder gevoer deur stappe te doen wat nie doeltreffend tot die verligting van armoede lei nie.

Die Menseregtekommissie is kwansuis ook al hoe lank besig met “ondersoeke na en verhore oor” waterprobleme, maar min daarvan kom tereg.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Projekte  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.