Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Mboweni, ANC twis oor siel van land se ekonomie
Minister Tito Mboweni Foto: Salomé Fischer

Tito Mboweni, minister van finansies, se vreesloos openbare kritiek teen aspekte van die ANC se ekonomiese beleid gaan inderdaad oor die siel van die land se ekonomie. Dit is positief dat iemand in sy kernrol bereid is om reguit te praat, maar dis kommerwekkend dat hy moontlik bloot ’n stem roepende in die woestyn is.

Mboweni verstaan dat die land lank reeds ’n behoorlik ekonomiese groeiplan in werking moes gehad het. Uit pure frustrasie het hy die tesourie se plan verlede jaar eensydig uitgereik. Dit omdat dit van bakboord na stuurboord – van die een kabinetskomitee na die ander subkomitee van die ANC se nasionale uitvoerende komitee – gestuur is sonder enige besluite. Verlede week het hy weer uit duidelike frustrasie op Twitter verklaar: “Daar is ’n plan, stel dit in werking.” Dus duidelik min vordering met inwerkingstelling.

Hy besef ook die sosialistiese model van ondoeltreffende staatsondernemings, wat die heeltyd deur die staatskas gedra word, is uitgedien. Daaroor het hy homself ook tot nou toe teen ’n muur vasgeloop. Daar is wel aanduidings dat die werklikhede van die omvang van Eskom en die SAL se probleme ’n ernstige herbesinning by die ANC tot gevolg het.

Oor die Reserwebank voer die ANC aan daar is baie internasionale modelle waarin sentrale banke ten volle aan die staat behoort, maar steeds onafhanklik is.

Oor die Reserwebank voer die ANC aan daar is baie internasionale modelle waarin sentrale banke ten volle aan die staat behoort, maar steeds onafhanklik is. Daarom beteken die beleidsbesluit om die bank te nasionaliseer nie dat onafhanklikheid prysgegee gaan word nie. Mboweni vra wel tereg wat die voorstanders van die onbesonne idee wil bereik. Hy waarsku dat dit ’n swak besluit is wat vertroue in die land se ekonomie ernstig kan knou.

Die werklikheid is dat min van die ANC se kaders enigiets van al die kwessies verstaan.

Dit het gevegsterreine vir interne posisionering en ’n voortgesette magstryd geword.

Ook is daar die kwalik bedekte motief om deur beheer oor alles staatsbronne verder te kan stroop. Die selfverrykers sit nog stewig en hul toenemend suksesvolle voorstelling van pres. Cyril Ramaphosa as ’n magtelose figuur sterk hul selfvertroue. Die uurglas vir die ekonomie loop vinnig leeg en die gevolge sal vernietigend wees as Mboweni en Ramaphosa die stryd verloor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.