Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Moody’s se geduld kan opraak
A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's se hoofkantoor in New York. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaners is al lank bekommerd oor wanneer Moody’s Investors Service die land se staatskuld tot rommelstatus gaan afgradeer.

Moody’s is die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog enigsins geduld met Suid-Afrika het en sy staatskuld op beleggingsvlak gradeer. Sy gradering is Baa3 met ’n stabiele vooruitsig.

Sou Moody’s, net soos Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings, besluit om Suid-Afrika se staat-skuld tot onder beleggingsgraad (oftewel rommelstatus) af te gradeer, kan dit ’n beduidend nadelige invloed op beleggings hê. Dit kan voorts die koste van alle lenings laat styg en die uitvloei van miljarde rande tot gevolg hê.

Lucie Villa, ’n visepresident van Moody’s, het Dinsdag verras toe sy op die graderingsagentskap se konferensie in Sandton gesê het soos sake tans staan, gaan Moody’s op 1 November weer eens lankmoedig wees deur Suid-Afrika nié tot rommelstatus af te gradeer nie. Die agentskap se volgende verslag gaan na verwagting dan uitgereik word – nadat Tito Mboweni, minister van finansies, sy middeltermynbegrotingsbeleid in die parlement ter tafel gelê het.

Moody’s sal op 1 November weer eens lankmoedig wees deur Suid-Afrika nié tot rommelstatus af te gradeer nie.

Daar is weens die gebrekkige ekonomiese vertoning allerweë verwag dat Moody’s nie net die vooruitsig van stabiel na negatief sou aanpas nie, maar Suid-Afrika ook tot rommelstatus sou verdoem. Maar Villa het dit duidelik gemaak dat Moody’s nooit ’n revolusie verwag het nie en altyd besef het die vordering sou stadig wees.

Ondanks dié welkome blaaskans het sy benadruk dat Moody’s se geduld op kort termyn kan opraak sou daar nie ’n daadwerklike plan op die tafel gesit word oor hoe Eskom uit sy finansiële penarie gered gaan word en die staat sy skulduitdagings gaan oorkom nie.

In die lig daarvan dat die staat reeds R350 miljard van Eskom se skuld van R440 miljard waarborg, is dit duidelik hoekom Moody’s se kommer oor dié situasie ’n groot rol sal speel wanneer ’n besluit oor kredietgradering geneem moet word.

Eskom belowe al maande lank ’n regrukplan. Benewens die oorsig daarvan wat onlangs aan die media uitgelek is, het die dokument steeds nie die lig gesien nie.

Moody’s wil ook nie nét ’n plan sien nie, maar vereis fyner besonderhede van die herstrukturering van Eskom, asook planne vir kostevermindering en om sy enorme skuld te verminder. Die probleem is dat Eskom berug is vir sy minagting van spertye – dink Medupi en Kusile – en ruiterlik erken dit gaan etlike jare neem om die ligte volhoubaar aan te hou.

Suid-Afrika kan vir eers asem skep. Maar dit is duidelik dat as skouer nie aan die wiel gesit word nie, Moody’s se geduld gouer eerder as later kan opraak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.