Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Munisipale oortreders moet nou vervolg word

Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor die gebrekkige vordering wat betref wanbestuur en onregmatige besteding deur munisipaliteite, kan geen verrassing wees nie.

Volgens Kimi Makwetu, die OG, was daar die afgelope drie jaar min vordering met die meeste munisipaliteite wat stagnant gebly het of selfs agteruitgegaan het.

Inderdaad. Verlede jaar het Ratings Afrika se verslag die beroerde toestand van plaaslike regering – veral onder die ANC – behoorlik deurtrap.

Die gevolgtrekking was dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.

Te oordeel na Makwetu se somber beoordeling, het hierdie gevaar kennelik nie verdwyn nie. Met diensleweringsopstande oor die land heen, is die skrif ook reeds lankal aan die muur.

Luidens die Ratings Afrika-verslag is die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie.

Altesame 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.

Lees dít teen die agtergrond van 2018 se verslag van die OG waarluidens onregmatige uitgawes met 75% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar – dít op die hoogtepunt van die Zuma-bewind. Slegs 49 van die land se 250 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang.

Ons weet nou al die kern van die probleem is swak finansiële bestuur, wat tot die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. Kortweg, kaderontplooiing.

Wat dinge vererger, is gebrekkige vaardighede, gebrekkige verantwoordbaarheid en die feit dat plaaslike regering veral in die ANC as die intreevlak vir selfverryking beskou word.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds met sy inhuldiging gesê dat dié kwessies dringende aandag sal kry, maar duidelik het te min nog gebeur.

Die belangrike punt is dat die OG aansienlik uitgebreide magte gekry het om wanbesteders verantwoordbaar te hou. Dié magte moet nou gebruik word en oortreders moet vervolg word.

Munisipaliteite is die staat se eerste en naaste raakvlak met landsburgers. Ons verdien beter.

Meer oor:  Ratings Afrika  |  Kimi Makwetu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.