Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Rekord-eise weens protes-skade kwel
Augustus 2016: Mynwerkers sing op die koppie by Marikana ter herdenking van die slagting in 2012 toe nege mense dood is ná ’n staking waarin werkers van die Lonmin-myn in Noordwes hoër salarisse geëis het. Foto: Felix Dlangamandla

Die rekordbedrag van R1,5 miljard wat die afgelope jaar van die staatsbeheerde spesiale­risikoversekeraar Sasria geëis is weens betogings en stakings, is op verskeie vlakke uiters onrusbarend.

Dié bedrag is meer as dubbel (138%) die vorige jaar se eise van R662 miljoen.

Duidelik is die veldbrand van oproerige populisme wat Jacob Zuma aangesteek het vir sy eng belange heeltemal buite bedwang.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy regering moet nou die kastaiings uit die vuur probeer krap, terwyl dit die populiste in die ANC soos ’n handskoen pas dat Ramaphosa met dié probleem opgeskeep sit.

Die geskiedenis het geleer dat jy nie op politici moet staatmaak om gewone mense soos straatsmouse en winkeleienaars se belange te beskerm wanneer hulle met ’n siniese magspel besig is nie. Daarom moet die reg sy beloop neem om die organiseerders siviel en strafregtelik in die hof te laat verantwoording doen.

Die geskiedenis het geleer dat jy nie op politici moet staatmaak om gewone mense te beskerm wanneer hulle met ’n siniese magspel besig is nie.

Ook moet veel strenger beheer uitgeoefen word om te voorkom dat openbare protes (’n reg wat deur die Grondwet gewaarborg word) handuit ruk. Organiseerders van protesoptogte sal eenvoudig vooraf moet onderneem om pa te staan in die geval van geweld of skade. As hulle dit nie kan doen nie, moet die optog nie toegelaat word nie.

Dit gebeur eenvoudig te dikwels dat organisasies soos die EFF en Cosatu openbare protes organiseer, maar wanneer sake handuit ruk en daar skade aan eiendom, beserings of selfs lewensverlies is, haal hulle die skouers op en pak die skuld op “individue wat nie lede van die organisasie is nie en die organisasie in ’n slegte lig wil stel”.

Laastens verg die polisie se vermoë om oproeriges in bedwang te bring dringende aandag. Die uitgerekte strooptogte wat al hoe meer algemeen word, wys dat die skuldiges geen ontsag vir die polisie het nie. En wanneer dit kom by die redelik stomp instrument van openbare-orde-polisiëring, lyk dit op die oog af of die polisie gans te min hulpbronne tot hul beskikking het. Dikwels is dié polisielede boonop nie voldoende opgelei nie of bevel en beheer ontbreek gewoon, wat die situasie net nog gevaarliker maak.

Sasria se syfers voorspel niks goeds nie en dié sake verg dringende aandag.

Meer oor:  Stakings  |  Anc  |  Protes  |  Eff  |  Eise  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.