Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: SA se fiksasie met staatsbeheer duur onbeheersd voort
Pres. Cyril Ramaphosa

In ’n ideale wêreld is kernkrag ’n fantastiese tegnologiese oplossing wat ’n paar vlieë met een klap raakslaan. Dit lewer bekostigbare en betroubare krag, met geen kweekhuisgasvrystellings wat die omgewing omkrap nie. Met genoeg navorsing, tyd, geld en tegnologiese vernuf hoef kernafval ook glad nie ’n probleem te wees nie.

Eweso is ’n lugdiens in staatsbesit in ’n ideale wêreld ook geen probleem nie. As die lugdiens met die nodige ervaring, sonder korrupsie, vermorsing of staatsinmenging en op gesonde sakebeginsels bedryf word, is alles piekfyn.

Helaas is die wêreld nie ideaal nie. Hier is ’n regering wat homself nou nie met eer kan toegooi oor skoon, korrupsievrye staatsbestuur oor die laaste dekades nie. Wat besiel dus so ’n regering om in ’n tyd van krisis weer ’n kernkragbouprogram te wil begin, of om aan te dring op ’n lugdiens in staatsbesit wat steeds miljarde rande van belastingbetalers se geld gaan insuig?

In Januarie 2018 het Cyril Ramaphosa, toe nog adjunkpresident, op die Davos-beraad gesê Suid-Afrika het oorgenoeg krag en geen geld vir nuwe kernkrag nie.

In Januarie 2018 het Cyril Ramaphosa, toe nog adjunkpresident, op die Davos-beraad gesê Suid-Afrika het oorgenoeg krag en geen geld vir nuwe kernkrag nie.

Dinge het intussen nogal verander. Daar is deesdae nóg minder geld, maar Suid-Afrika gaan wel oor ’n dekade of wat meer krag benodig namate steenkoolkragstasies te oud word.

Kernkrag opsigself, en veral as dit op ’n modulêre skaal uitgebrei word, maak dus sin. Die probleem is die versoeking vir dié regering om so ’n projek in korrupsie, wanbestuur en vermorsing te laat verval. Dieselfde geld die lugkastele wat oor ’n “nuwe” SAL gebou word.

Hoewel kragaanvraag stelselmatig toeneem, is die lugvaartbedryf daarenteen wêreldwyd in sy ergste krisis tot nog toe. Van die beste lugdienste knak en daar is geen sekerheid oor hoe die bedryf ooit gaan herstel nie. Hoe op dees aarde dink ’n regering van ’n swak opkomende ekonomie soos Suid-Afrika dat hy beter gaan vaar met die bestuur van ’n lugdiens as sir Richard Branson of Lufthansa?

Dis te betwyfel of iemand ooit die huidige regering sal oortuig dat sy fiksasie met staatsbeheer oor sektore soos krag of lugvervoer ondoeltreffend en teenproduktief is. Waghonde soos die media en burgerlike organisasies sal net harder moet werk om hom gedurig op sy tone te hou.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hoofartikel  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.