Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: SA wag op oranje oorpakke, maar Zondo vra uitstel
raymond zondo
Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Felix Dlangamandla

Die goeie nuus is dat die kommissie van ondersoek na staatskaping volgens regter Raymond Zondo voldoende bewyse sal hê om bevindings te maak, selfs al werk die Guptas en oudpres. Jacob Zuma nie saam nie.

Die slegte nuus is dat die kommissie aansoek in die hof gedoen het om (weer) uitstel vir die spertyd van sy mandaat te kry – dié keer tot einde Desember vanjaar. Dié aansoek kom terwyl Suid-Afrikaners, staatskapers uitgesluit, smag daarna dat 2020 as die jaar van oranje oorpakke in die annale opgeteken word.

Ongeduld is te verstane. Die aanvanklike spertyd van 180 dae is al in 2018 tot einde Februarie vanjaar verleng. Zondo het destyds ’n pleidooi vir “ ’n regverdige balans” tussen tydsverloop en deeglike werk gelewer. Dit het die kommissie toe langer as ses maande geneem om sy struktuur en stelsels te vestig. Sittings het in Augustus 2018 begin.

Nou wil die kommissie uitstel tot einde Desember vanjaar hê, anders “sal hy nie bevindings kan maak nie”, het Zondo gesê.

’n Berg werk wag beslis. Die kommissie het oor sowat 190 dae se sittings meer as 150 getuies aangehoor. Die transkripsie van getuienisse beslaan meer as 20 000 bladsye en alle bewysstukke beloop meer as 450 000 bladsye. Teen September 2019 het die koste reeds R356 miljoen beloop.

Waarskynlik gaan die hof geen ander keuse hê nie as om op grond van realiteite ’n verlengde mandaat toe te staan.

Waarskynlik gaan die hof geen ander keuse hê nie as om op grond van realiteite ’n verlengde mandaat toe te staan.

Dit bring ’n wedloop teen tyd mee vir die hoëprofiel-inhegtenisnemings wat nodig is om die gety van wanhoop en die korrupsie om te keer. Solank die politieke kapitaal daarvoor hou.

Hoe naarstig Suid-Afrikaners ook al vervolging wil hê, is wag dus hul voorland. Deeglike werk wat die organiese kultuur van staats­korrupsie oopvlek en in die kiem smoor, is onon­derhandelbaar.

Die kommissie hoef wel nie voete te sleep met die verwysing van sake na die nasionale vervolgingsgesag nie. Dit moet net gebeur.

Adv. Hermione Cronjé en haar NVG-direktoraat vir ondersoek na hoëvlakkorrupsie is sekerlik oorgehaal. Hulle kan wegspring met die oopspalk van die Estina-swendelskema, moederprojek van staatska­ping, sodat die vervolging kan begin.

Daar is immers net 11 maande van 2020 oor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.