Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Sterkte in hierdie baie onsekere tyd van inperking
 Alexandre Chambon
Foto: Alexandre Chambon

Met die nasionale inperkingsmaatreëls wat middernag in werking tree, bevind Suid-Afrikaners hulle op ongekarteerde terrein.

Wat behoort ons uitkyk daarop te wees? Eerstens: Al reken sommige die maatreëls is te drasties, staan dit soos ’n paal bo water: Dis ’n moedige, noodsaaklike stap waarsonder ons die gevaar loop van grootskaalse lewensverlies en ’n stortvloed van pasiënte wat die gesondheidsorgstelsel kan knak.

Kyk wat in Italië gebeur het en neem dan in ag dat Suid-Afrika boonop die vierde hoogste MIV/vigs-infeksiekoers ter wêreld het (ná Swaziland, Lesotho en Botswana). Voeg daarby dat die land ook een van die hoogste TB-infeksiekoerse het, met sowat 320 000 TB-gevalle waarvan 60% volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ook MIV-positief is.

Die verwoesting wat die nuwe koronavirus in dié omstandighede kan saai, is haas te skrikwekkend om klein te kry. Daarom is dit elkeen se verantwoordelikheid om die doelwit van die inperking ernstig op te neem en tuis te bly.

probeer doelwitte skep wat vervulling bring, of dit nou is deur ’n nuwe vaardigheid aan te leer of om die chaotiese motorhuis reg te pak.

Veral omdat niemand met sekerheid kan sê of die inperkingstydperk 21 dae sal duur soos tans beplan word en of dit dalk verleng moet word nie, is dit nodig om die ingesteldheid so positief as moontlik te hou. Vir baie, veral diegene wie se inkomste regstreeks en ingrypend geraak word, is dit vanselfsprekend moeilik.

Maar probeer doelwitte skep wat vervulling bring, of dit nou is deur ’n nuwe vaardigheid aan te leer of om die chaotiese motorhuis reg te pak wat nou al jare om aandag smeek. Vir diegene met families is dit ’n geleentheid om mekaar weer behoorlik in die oë te kyk en bande te versterk.

Daar is ongelukkig ’n teenkant van dié munt en dít is dat baie vroue en kinders vasgevang is in huishoudings waar mishandeling ’n gegewe is. As jy van sulke gevalle weet, is dit jou plig om die owerhede in kennis te stel.

Dan is daar natuurlik alleenlopers wat nie daagliks op die geselskap van familie kan reken nie. Reik gerus uit na hulle met ’n daaglikse oproep. Beeld wens sy lesers sterkte toe in hierdie tyd. Ons wag nog op groter besonderhede oor hoe die inperking ons sake raak. Sodra ons daaroor beskik, sal ons lesers volledig inlig.

Meer oor:  Koronavirus  |  Doelwitte  |  Aktiwiteite  |  Inperking  |  Covid-19  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.