Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Sukses van Eskom se regrukplan in vakbonde-hande

Dis gaaf dat Eskom met sy topbestuur praat oor sy beoogde omdraaiplan, dat hy internasionale kenners inroep om te help, en die vakbonde by gesprekke betrek.

Maar Eskom het ’n fyn balanseertoertjie om te speel met sy vakbonde, wat volgens sommige waarnemers ’n wurggreep op die staatsinstelling het.

As hy as deel van sy regrukplan aandring op kragverhogings van meer as inflasie, haal hy hom boonop ook die toorn van ’n reeds vuisvoos verbruikerspubliek op die hals.

Verbruikers betaal al die afgelope meer as ’n dekade vir Eskom en die regering se wanbestuur en wisselvallige energiebeleid in die vorm van skerp tariefverhogings, beurtkrag en reddingsboeie.

Beurtkrag en duurder krag het vir Eskom ’n doodspiraal aan die gang gesit waarin ál meer ondernemings en huishoudings wat dit kan bekostig, na goedkoper alternatiewe soos sonkrag oorskuif.

Niks sigbaar is gedoen sedert pres. Cyril Rama­phosa in Februarie aangekondig het dat Eskom in drie verdeel gaan word nie. Dis nou Augustus en nou word gepraat van vyf jaar.

Eskom en die regering ly aan ’n sogenaamde “analysis paralysis”. Dinge kon al veel verder gevorder gewees het as die energiewitskrif van 1998 ernstig opgeneem en prakties toegepas was.

In die vroeë 2000’s is ’n halfhartige poging aangewend om Eskom se verspreidingsafdelings met munisipaliteite s’n in ’n reeks streekkragverspreiders saam te voeg. Maar munisipaliteite het daarteen vasgeskop. Nou skop die vakbonde vas.

Volgens kenners lyk die omdraaiplan asof Eskom homself steeds as ’n kragopwekker beskou. Eskom sê hy het ’n nuwe sakemodel nodig, maar sy plan wys nie ’n wesenlike wegskuif van die tradisionele sakemodel van ’n groot nutsmaatskappy nie.

Sy transmissie-afdeling het die minste skuld en probleme, en sou ’n beter entiteit wees om as die Eskom van die toekoms voort te leef, met kragopwekking wat deels geprivatiseer kan word.

Die slegte maar noodsaaklike medisyne vir Eskom is ’n mededingende, geprivatiseerde kragmark waar verbruikers kan kies by wie hulle hul krag wil koop. Kragdiefstal en die kultuur van wanbetaling by munisipaliteite moet gepak word.

Maar solank vakbonde vasskop teen afleggings en privatisering, word min hoop gesien.

Meer oor:  Eskom  |  Hoofartikel  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.