Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Versoening verg duideliker praat, mooier luister

Die begrip versoening is in dié dae aktueel. Dit was Maandag Versoeningsdag en dit is vandeesmaand ses jaar ná die dood van oudpres. Nelson Mandela – internasionaal ’n sterk simbool van versoening. En bowenal al ’n kwarteeu sedert ons eerste demokratiese verkiesing.

Landsburgers sal ook baie sterker moet staan teen rassiste – wit en swart – wat op mikrovlak versoening ondermyn.

Die probleem is dat versoening in ’n verskeurde land soos Suid-Afrika steeds een van die moeilikste ideale is om te bereik. Laat ons eerlik wees – in die praktyk betrag te veel Suid-Afrikaners steeds hul medeburgers met wantroue of selfs minagting.

Vooroordeel, of dit nou oor mense van ’n ander kleur, godsdiens of seksuele oriëntasie is, is uiters moeilik om uit te roei.

Daarenteen is dit belangrik om te onthou dat die demokratiese oorgang in ons land en die steeds onafgehandelde versoeningsproses ’n verhaal is wat ten diepste sal spreek van groot persoonlike opoffering. Dit is geskryf deur mense vir wie landsbelang swaarder weeg as kleinlike politieke gewin en eng vooroordele.

As sodanig kan ons met die vier van Versoeningsdag ook diep dankbaar wees vir die werk wat gedoen is deur mense soos Mandela en oudpres. FW de Klerk om te help bou aan ’n land met ’n toekoms vir al sy mense.

Juis vanweë die grootsheid van bydraes soos dié, is dit jammer dat veel mindere individue aan verskillende kante van die spektrum dié erfenis in die onlangse verlede vertrap het. Dit sou ongelukkig net te gerieflik wees om dié soort voorvalle af te maak as die dwaasheid van randfigure, want die verdelingslyne loop helaas steeds diep.

Te min van ons is brugbouers en te veel is afbrekers. As ons dit nie besef en werk van die saak maak nie, loop ons die gevaar dat Mandela se droom van ’n vrye samelewing waarin alle mense in harmonie saamleef en dieselfde geleenthede het, saam met hom dood is.

Landsburgers sal ook baie sterker moet staan teen rassiste – wit en swart – wat op mikrovlak versoening ondermyn. Soveel te meer dan in dié tyd, waar die land in vele opsigte by ’n keerpunt staan, is ons dit aan mekaar verskuldig om duideliker te praat, mooier te luister en beter te probeer verstaan – dieselfde waardes wat ons destyds van ’n burgeroorlog gered het.

Meer oor:  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.