Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê oor Cyril se dringende wekroep
Dianne Heesom-Green se treffende beelde wat gesinsgeweld tydens die inperking illustreer.

Die oproep van pres. Cyril Ramaphosa in sy “gesprek met die nasie” verlede week vir gesamentlike verset teen geweld teen vroue en kinders moet met dringende erns bejeën word.

Sy verwysing na die “ander pandemie” wat in Suid-Afrika woed, naamlik “die doodmaak van vroue en kinders deur die mans van ons land” was raak. En sy afkeur “as ’n eggenoot en ’n pa” van die brutale “oorlog teen ons vroue en kinders” en van “die verkragters en moordenaars wat tussen ons rondloop” moes Suid-Afrikaners geraak het.

Eweneens was Ramaphosa se aflees van die name van 21 vroue en kinders wat die laaste weke deur mans vermoor is, persoonlik treffend.

Ongelukkig het geweld teen vroue en kinders, wat veral sedert vlak 3 van inperking toegeneem het, nie met sy pleidooi gestop nie. Daagliks word berig oor nog gevalle soos te wagte in ’n land waar meer as 2 700 vroue en 1 000 kinders verlede jaar deel van die moordstatistieke was en sowat 51% van vroue al deur hul lewensmaat aangerand is.

Ongelukkig het geweld teen vroue en kinders, wat veral sedert vlak 3 van inperking toegeneem het, nie met sy pleidooi gestop nie.

Die Black Womxn Caucus sê ook Covid-19 se inperkingsmaatreëls het Suid-Afrika se krisis met geslagsgeweld, ongelykhede en werkloosheid bloot vererger. En die aktivismegroep Women and Men Against Child Abuse het aan CNN gesê Ramaphosa se veroordeling is onvoldoende. Aanspreeklikheid is nodig. En die regering moet ingryp.

Ramaphosa het wel in sy toespraak stappe deur die regering as deel van sy nasionale strategiese plan teen geslagsgeweld uitgestippel. Dit sluit in R1,6 miljard vir die noodreaksieplan – meer plekke van veiligheid vir slagoffers; nog howe vir seksuele oortredings; nog vertrekke vir die “vriendelike” ontvangs van oorlewendes by polisiekantore; opleiding by die polisie en howe; en voorgestelde wetswysigings ter beskerming van slagoffers.

Dié “eksterne” stappe is welkom. In sy toespraak het Ramaphosa egter die vinger op die hart van die probleem gelê: Nie drank nie, maar gewelddadige mans verkrag en vermoor vroue en kinders.

Die Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, het sy stem by dié van Ramaphosa gevoeg. Hy wys daarop ’n man wat sy hand teen ’n vrou lig, is nie ’n man nie. Dit vra ’n ander denkwyse, maar ook dat mans hul steun tot die stryd teen geslagsgeweld toesê.

Inderdaad. Slegs só kan die skande gepak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.