Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Parlement moet geprys word
Adv. Busisiwe Mkhwebane

Die besluit van die parlement om voort te gaan met ’n ondersoek na die bevoegdheid van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), is prysenswaardig.

Dit volg te midde van die interdikaansoek wat Mkhwebane vroeër ingedien het om dié parlementêre proses te staak totdat haar aansoek afgehandel is waarin sy die reëls wat die parlement teen haar wil gebruik, ongrondwetlik wil laat verklaar.

Dat Mkhwebane soos ’n neet aan haar pos klou en selfs glo dat slegs God haar kan verwyder omdat Hy haar aangestel het, verander niks aan die feit dat daar reeds afdoende bewyse is om haar bekwaamheid grondliggend in twyfel te trek nie.

Naas ’n rits bedenklike uitlatings, besluite en bevindings deur Mkhwebane is daar ook verskeie verdoemende hofbevindings teen haar. Sy moes verlede jaar haar aansoek in die konstitusionele hof teen regter Sulet Potterill se uitspraak, dat haar bevinding teen minister Pravin Gordhan “vaag, strydig en onsinnig is”, druipstert laat vaar.

Ten spyte van dié bedenklike prestasiegeskiedenis bly dit noodsaaklik dat die parlement ’n foutlose proses volg.

Dan is daar natuurlik die twee kostebevele teen haar waarvoor sy self moet hoes:

Regter Sisi Khampepe en ’n meerderheid regters in die konstitusionele hof het op 22 Julie verlede jaar Mkhwebane se appèl teen ’n strafkostebevel van die hand gewys en was dit eens met die hooggeregshof dat sy persoonlik vir 15% van die Absa-Ciex-Reserwebank-hofgeding se regskoste aanspreeklik gehou word. 

’n Maand daarna het regter Ronel Tolmay Mkhwebane gelas om 7,5% van die regskoste van die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet in die saak oor haar verslag oor die Estina-suiwelprojek uit haar eie sak te betaal. Sy moet 85% van die koste in haar amptelike hoedanigheid as OB betaal.

Tolmay het verklaar dat Mkhwebane se verslag oor die Estina-projek “ongrondwetlik” en “ongeldig” was omdat sy haar plig versuim het om die suiwelprojek na behore te ondersoek.

Ten spyte van dié bedenklike prestasiegeskiedenis bly dit noodsaaklik dat die parlement ’n foutlose proses volg. Al sit ons nou met ’n hopelose OB, bly dié waghond-amp van kritieke belang en ’n presedent mag nie geskep word wat dit moontlik maak om lukraak van die posbekleër ontslae te raak nie.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Parlement  |  Ob  |  Ondersoek  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.