Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Waterplan is welkom, maar werk wag
Lindiwe Sisulu. Foto: Daily Sun

Sonder water is daar nie lewe nie. In beginsel is die regering se nuwe watermeesterplan dus te verwelkom. Maar die praktyk sal die deurslag gee. En dít moet blitsig geskied.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het verlede week by die bekendstelling van die plan onweerlegbare werk­lik­hede uitgestippel. Volgens die plan stuur Suid-Afrika af op ’n watertekort teen 2030 indien nie daadwerklik opgetree word nie.

Soos Sisulu uitwys, is Suid-Afrika ’n droë land en sal klimaatsverandering toestande nog laat versleg. Net ’n goeie strategie, slim tegnologie, kundigheid, knap mense, puik navorsing en inligtingstelsels, goeie wetgewing en ’n funksionele, gekoördineerde institusionele ekostelsel kan tot watersekerheid lei.

Wanneer fase 2 van R22,9 miljard teen 2024 voltooi is, sal die skema 1 270 m³ water per jaar – teenoor 780 m³ tans – aan Suid-Afrika lewer.

Sekerlik sou die Lesotho Hoogland-waterskema, waaraan bouwerk in die 1980’s begin het, as ’n voorbeeld daarvan dien. Wanneer fase 2 van R22,9 miljard teen 2024 voltooi is, sal die skema 1 270 m³ water per jaar – teenoor 780 m³ tans – aan Suid-Afrika lewer. Daarsonder kán dit nie.

As ’n politiek gedrewe inisiatief bevat die nuwe meesterplan ook retoriek en onbeantwoorde vrae. Hoekom is die “onvoldoende bestuur” (Sisulu se woorde) van die land se waterbronne toegelaat?

Kyk hoe rioolbesmet is die Vaalrivier (wat nou glo gerehabiliteer gaan word), die Caledonrivier, Wilge­rivier, Valsrivier en andere wat water vir huishoudelike gebruik lewer.

Die nuwe plan is volgens Sisulu “gegrond op beleid wat in die verlede suksesvol was”. Hoekom is die goeie werk nie volgehou nie? Van die R900 miljard wat oor tien jaar bestee moet word aan watersekerheid in Suid-Afrika is R333 miljard nog soek.

Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing en die Wêreldnatuurfonds verwelkom die plan, terwyl Agri SA hom daartoe verbind om in die belang van water- en voedselsekerheid met die regering saam te werk.

Op Sisulu se stelling dat Suid-Afrikaners veral moet leer om water spaarsaam te gebruik, kan net ja en amen gesê word.

En as munisipaliteite nie hul waterinfrastruktuur en skuldinvordering leer bestuur nie, is die plan doodgebore.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Hoofartikel  |  Waterplan  |  Droogte  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.