Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld, Die Burger en Volksblad sê: Zuma se slae is welkom
Jacob Zuma Foto: Deaan Vivier

Die uitspraak van die hooggeregshof in Durban teen oudpres. Jacob Zuma is om drie redes te verwelkom.

Die hof het bevind Zuma se twiet dat oudminister Derek Hanekom ’n “agent van die vyand” is, is lasterlik en vals en gelas dat Zuma op Twitter om verskoning vra én sy oorspronklike twiet op alle sosialemediaplatforms uitwis.

Dis ’n welkome uitspraak, eerstens in die opsig dat dit dien as ’n herinnering waarom Zuma en sy trawante eerder nou in die politieke vergetelheid moet verdwyn. Dit wat by die oudpresident se mond uitkom, is kennelik nie te vertrou nie.

In die tweede plek is dit ’n vermaning aan diegene wat in die ANC se interne oorlog (en ook na buite die organisasie) maar te graag van disinformasie, waninligting en allerhande vorme van propaganda gebruik maak om agterdog, wantroue en haat te stook. In die breër konteks is dit belangrik.

Hanekom vat dit goed raak: “Deur die week is vals inligting en ou beeldmateriaal versprei wat woede en haat uitgelok het. Mede-Suid-Afrikaners en Afrikane van oor die vasteland heen was onderhewig aan plundery en stropery deur misdadige boewe. Lewens is verloor. Dit is wat gebeur wanneer sigbaar valse beweringe gemaak word.”

Daar is ’n sekere historiese geregtigheid daaraan elke keer as Zuma dit hotagter in die hof kry.

Derdens is daar ’n sekere historiese geregtigheid daaraan elke keer as Zuma dit hotagter in die hof kry – juis nadat hy vanuit sy presidentsamp herhaaldelik probeer het om die onafhanklikheid van die regbank en die oppergesag van die grondwetlike hof in die weegskaal te plaas.

In sy boek is die ANC-regering deur ’n meerderheid verkies, en die regters van die konstitusionele hof nie. Wie is die regters dan kwansuis om aan die regering voor te skryf?

Dié redenasie is grondliggend foutief, juis omdat die Grondwet (en die konstitusionele hof) nie gesag uit die hande van die regering neem nie. Trouens, dit bevestig die volle reeks magte wat ’n demokratiese regering toekom. Maar dit beskerm wel die regte en vryhede van landsburgers, die media en die burgerlike samelewing teen potensiële magsvergrype.

En dít beskerm ’n landsburger soos Hanekom teen die desperate truuks van ’n verbitterde oudpresident wat sy vervaldatum lankal bereik het.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Hofsaak.  |  Anc  |  Pak Slae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.