Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Die Burger sê: Geen plek vir rassisme in SA

Penny Sparrow se omstrede Facebook-plasing is ’n blatante verwoording van kru, rassistiese apartheidsdenke. Haar vergelyking van swart mense met diere is skadelik vir rasseverhoudinge in die land.

Dit is ook tekenend van mense se toenemende geneigdheid tot die impulsiewe uitstuur van ondeurdagte boodskappe op sosiale media. Ja, die Grondwet verseker vryheid van spraak, maar dit beskerm Suid-Afrikaners ook teen haatspraak, aanhitsing tot geweld, rassisme en seksisme.

Die reënboognasie se nerwe is dun geskaaf en dit is opmerkings soos dié van Sparrow wat reg in die hande speel van politieke opportuniste wat elke probleem in die land terugherlei na apartheid en ons só vasgevang hou in die verlede.

Die FW de Klerk-stigting vat dit raak in ’n verklaring wat lui “die probleem met Sparrow se aanmerkings is dat sy swart stereotipering bevorder dat (alle) wit mense onsensitiewe en verwaande rassiste is”.

Woorde skep werklikheid en in ’n land wat gekenmerk word deur rassepolarisasie is dit des te meer belangrik om twee keer te dink voordat jy iets neerskryf en dit die wye wêreld instuur.

Maar dit hou nie daar op nie.

Rasseverhoudinge sal nie verbeter voordat ons nie begin om anders te dink en te praat oor mekaar (en onsself) nie. En dit kan ons net doen as ons mekaar beter leer ken.

Wanneer ons besef dat ons dieselfde is – dieselfde vrese en drome het.

Dat ons gemeensaamheid kan vind in ’n gedeelde waardestelsel wat sterker is as enige party se politieke beleid. Dat ons net die béste vir ons kinders wil hê.

En ons gaan dit net bewerkstellig as ons om braaivleisvure en in ons binnekamers wegdoen met rassistiese taal, stereotipering en vooroordele – deur ons optrede en opvattings oor “die ander” in die afwesigheid van “die ander”.

Kommunikasie op sosiale media geskied dikwels buite konteks, maar nie buite ’n maatskaplike, regsplegende en politieke raamwerk nie en binne daardie raamwerk is dit elke verantwoordelike Suid-Afrikaner se plig om rassisme in enige vorm te veroordeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.