Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Die Burger sê: ’n Berg lê voor Muofhe

Wanneer adv. Mahlodi Sam Muofhe sy pos as die hoof van die nuwe afdeling vir binnelandse intelligensie opneem, lê daar ’n berg werk voor hom.

Dié aanstelling volg nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het die land se Staatsveiligheidsagentskap (SVA) sal in twee verdeel word. Die een sal op binnelandse intelligensie fokus en die ander een op buitelandse intelligensie.

Dit is só aanbeveel deur ’n hoëvlak-paneel wat Ramaphosa aangestel het om die funksionering van die SVA te bekyk, onder meer nadat dié intelligensiediens onder oudpres. Jacob Zuma van politieke inmenging en selfverryking beskuldig is.

Om die waarheid te sê, die agentskap was uiteindelik só verdeeld en hopeloos dat dit eintlik al ’n bedreiging vir nasionale veiligheid begin inhou het. In een geval het dit die land selfs ’n internasionale verleentheid op die hals gehaal toe ’n veroordeelde dwelmsmokkelaar onder die neus van die SVA as hoë kommissaris in Singapoer aangestel is.

Één grondliggende probleem is ’n duidelike wanopvatting oor die primêre taak van die SVA.

Één grondliggende probleem is ’n duidelike wanopvatting oor die primêre taak van die SVA. Dis nie om spioen-spioen te speel nie, maar om aan die hand van betroubare inligting vroeë waarskuwings en advies aan die regering te rig oor enige veiligheidsbedreigings.

Ter sprake is onder meer kwessies soos xenofobie en geweld op kampusse wat die regering nog telkens onkant betrap het, deels omdat faksies by die SVA verkies het om eerder op mekaar of op verskillende ANC-faksies te spioeneer. Dis nou as hulle ’n tydjie kan afknyp van “nasionale gevare” soos Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer.

Muofhe het dus nou ’n groot taak om die agentskap op sy ware mandaat gefokus te kry.

Zuma se handperde by die agentskap het nie saam met hom die politieke wildernis betree nie, en daarom sal Muofhe waarskynlik ’n doelgerigte skoonmaakproses moet begin. Dat hy van buite die intelligensiegemeenskap kom, kan dus in sy guns tel, al het hy nie soveel regstreekse ervaring nie.

Laastens kan geen intelligensiediens funksioneer sonder ’n groot mate van geheimhouding nie. Dit mag egter nooit wees ten koste van deeglike verantwoordbaarheid nie. As dít in plek was, sou ons nooit die narrespel by die SVA beleef het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.