
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Deaan Vivier
Werkloosheid in Suid-Afrika bly steeds uiters kommerwekkend.
Ofskoon Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas bekend gemaak het die land se amptelike werkloosheidskoers bly onveranderd op 29,1%, het werkloosheid volgens die uitgebreide definisie tot 38,7% (vanaf 38,5%) gestyg. Die 29,1% is die hoogste sedert die syfers in hul huidige formaat gemeet word, en die 38,7% is ’n rekord.
Dié syfers moet gelees word teen die agtergrond van die belangrike verslag getitel “Tien miljoen en steeds meer: Wat gaan dit verg om Suid-Afrika se werkbloedbad te stop?” Die verslag is saamgestel deur die Centre for Development and Enterprise en wys grondliggende beleidskuiwe uit wat die regering dringend sal moet deurvoer.
Hoe vinnig sake agteruitgaan, is bepaald rede tot ernstige kommer: Tussen 2008 en 2019 het die getal mense wat wil werk, maar nie kan werk kry nie en al moed opgegee het om werk te kry, van 6,5 miljoen tot 10,3 miljoen toegeneem. Daar is elke dag 1 700 meer mense wat werk soek, maar net 500 kry werk, lui die verslag.
Die ANC-regering moet nou erken dat swart ekonomiese bemagtiging bloedweinig gedoen het om die armste swart mense in die land op te hef.
Die ANC-regering moet nou erken dat swart ekonomiese bemagtiging bloedweinig gedoen het om die armste swart mense in die land op te hef. Wat dit gedoen het, is om ’n groepie swart mense baie ryk te maak.
Wat dringend nodig is, is ’n model van inklusiewe ekonomiese groei wat onder meer sou behels dat die stiksienige arbeidswetgewing en die burokratiese rompslomp waaraan klein en mediumondernemings onderwerp word, die nekslag toegedien moet word.
Dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, finansminister, dit besef, maar het hulle die nodige politieke wil en vastrapplek om dit nou deurgevoer te kry?
Sonder inklusiewe groei gaan al hoe meer mense afhanklik word van die welsynstelsel wat, gegewe die beroerde stand van ons staatsfinansies, eenvoudig nie volhoubaar is nie.
Dan verg die onderwys dringende aandag. Jaar ná jaar kry onderwys die grootste hap uit die begrotingskoek, maar daar word eenvoudig nie waarde vir geld op dié enorme belegging gekry nie.
Dié sake is hopelik môre hoog op Ramaphosa se agenda vir sy staatsrede.