Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Volksblad sê: Amerikaanse kiesers sit tussen twee warm vure

Die demokrasie lewer in teorie die beste mense uit ’n samelewing as leiers op. In teorie. In die praktyk is dit alte dikwels anders. die VSA lewer tans die lewende bewys daarvan.

Dáár ding twee kandidate om die presidentskap mee wat nie in die verste verte die geskikste mense is om president van dié land te word nie.

Verlede week se eerste van drie TV-debatte tussen dié twee het gewys waarom.

Dat Hillary Clinton die beste gevaar het, word deur omtrent elke neutrale waarnemer erken. Maar haar oorwinning was ook maar net te danke aan die feit dat Donald Trump nie bo sy gewone bullebak-manier kon uitstyg nie.

Trump skilder die wêreld – binnelands én buitelands – in pikswart bewoordings.

Hy verdraai statistieke, hy ignoreer feite wat sy weergawe nie pas nie, hy verskreeu sy teenstanders en beledig hulle gruwelik en persoonlik.

Logika en ordentlike argumente is ver soek by hom.

Clinton vaar op dié vlak veel beter, maar sy het ook duidelike morele leemtes wat baie mense afskrik.

Wanneer dit lyk of sy in ’n hoek is, is haar natuurlike instink klaarblyklik om toe te smeer, om die waarheid te plooi. Haar verbete ambisie wek ’n onaangename indruk.

Dan praat ’n mens ook nie eens van al die oneerlike sakepraktyke van Trump wat die laaste tyd oopgevlek is nie.

Die kiesers sit tussen twee vure. Peilings wys dat die meeste Trump-stemmers nie vir hom wil stem omdat hulle meen hy is geskik vir die presidentsamp nie, maar om Clinton uit te hou. En andersom.

Soos sake tans staan, wil dit lyk of die struikelblokke na ’n Trump-Withuis groter is as dié na ’n Clinton-presidentskap.

Clinton loop effens voor in die peilings en as die individuele deelstate bekyk word, lyk dit of Clinton ook daar voorloop.

So vol gebreke as wat Clinton is, sal sy waarskynlik beter – of dalk eerder minder sleg – vir die VSA en die wêreld as Trump wees.

Met Clinton loop die VSA ’n risiko. Met Trump wag ’n absolute ramp.

Meer oor:  Trump  |  Hillary Clinton  |  Donald  |  Vsa  |  Presidentsverkiesing  |  Kommentaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.